Werkloosheid in Namibië het toegeneem, veral onder die jeug, volgens die Namibië Statistiekagentskap. Foto argief
Werkloosheid in Namibië het toegeneem, veral onder die jeug, volgens die Namibië Statistiekagentskap. Foto argief

Werkloosheid styg met 3,5%

Kenners meen syfer is baie hoër
Die Namibiese jeug gaan gebuk onder werkloosheid terwyl werksoekers te mismoedig is om eens werk te soek.
Augetto Graig
Die werkloosheidsyfer staan tans op 36,9%, ten spyte van die feit dat die aantal Namibiërs wat die arbeidsmag uitmaak tot 867 247 gedaal het, vergeleke met 2018 se syfer van 1 090 153.

Só het die statistikus-generaal en die uitvoerende hoof van die Namibië Statistiekagentskap (NSA), Alex Shimuafeni, gister tydens die amptelike vrystelling van die arbeidsmagverslag, wat van 2023 se nasionale sensusopname afgelei is, gesê.

Die werkloosheidsyfer het volgens die NSA met 3,5% gestyg.



REAKSIE

In reaksie op die aankondiging van die werkloosheidsyfer, het Cirrus Capital gesê die NSA se definisie van werkloosheid het verander deur nou die kategorie van ontmoedigde werkers uit te sluit.

“Volgens die standaarddefinisie staan werkloosheid op 54,8%,” het die maatskappy op sosiale media gesê.

Dié finansiëledienstemaatskappy beweer verder dat die uitsluiting van ontmoedigde werkers teenstrydig is met die standaarde vir Afrikalande en ander ontwikkelende lande, wat ontmoedigde werksoekers moet insluit.

Hulle meen dit is veral belangrik in Namibië se geval, waar byna 75% van werksoekers na bewering vir langer as ’n jaar lank nie werk kon kry nie.

“Daar was 341 931 moedelose werkers in 2023. Dit word nou as die ‘potensiële arbeidsmag’ geklassifiseer. Dit is meer as die 185 119 in 2018.”

Die ontleder Lucas Martin, wat in die korporatiewe raadgewende en private ekwiteitsektor werk, meen die NSA-statistieke kom neer op “bedrog”.

Hy het op sy LinkedIn-profiel saamgestem met die bewering dat werkloosheid glo vanaf 33,4% tot 54,8% toegeneem het.

“Ongelukkig sal die meerderheid van die bevolking nie hierdie verskil besef nie, en sal jou inligting wat ’n meer matige toename van 33,4% tot 36,9% toon, as waar beskou word.

“Dit is ongelooflik hartseer om te sien hoe een van ons sleutelinstellings disintegreer om die bevolking wat dit dien, te mislei,” het Martin gesê.



VERSLAG

Shimuafeni het beklemtoon dat die Namibiese arbeidsmag en verwante statistieke nou ingevolge die internasionale konferensie van arbeidstatistikusse (ICLS) van 2019 bereken word, wat almal ouer as 15 insluit.

Die plaaslike bevolking ouer as 15 is in 2023 op 1 876 122 bevestig, waarvan 1 008 875 buite die arbeidsmag val.

Verder word werk gedefinieer as enige arbeid vir beloning of wins. Daarvolgens is 63,1% van die arbeidsmag in diens geneem of werk vir hulself.

Onesmus Shalonda, die NSA se senior arbeidstatistikus, sê die persentasie van werkende Namibiërs teenoor die totale bevolking, teen 29,1%, dui op lae vlakke van indiensneming.

Verder wys hy daarop dat 96,8% van die potensiële arbeidsmag te mismoedig is om werk te soek.

Die potensiële arbeidsmag word bepaal deur mense van werkende ouderdom wat nog vir werk aansoek doen, maar nie onmiddellik beskikbaar is nie en diegene wat moed verloor het, bymekaar te tel.

“Die gekombineerde syfer van jeugwerkloosheid en die potensiële arbeidsmag is 61,4%, wat aandui dat meer as 60% van die jeug een of ander vorm van die onderbenutting van arbeid ervaar,” brei hy uit.

Shalonda sê dit blyk daar is ’n groot wanverhouding tussen die vraag na arbeid en die aanbod daarvan. Veral jong Namibiërs ondervind ’n kritieke behoefte in terme van werksgeleenthede, voeg hy by.

In die ouderdomsgroep van 15 tot 35 is 252 886 Namibiërs in diens geneem, vergeleke met 202 144 werkloses en 563 499 wat buite die arbeidsmag val.

Net 24,8% van die Namibiese jeug werk, meestal in landbou, bosbou en visserye met 18,8%, kleinhandel met 11,2% en 9,6% wat in private huishoudings werk. Slegs 9% van die werkende jeug werk in die vervaardigingsektor.

Jeugwerkloosheid het sedert 2018 in landelike gebiede van 49,1% tot 41,3% verbeter, terwyl werkloosheid onder stedelike jeug van 44% tot 46,1% toegeneem het.

“Talle stroom na stedelike gebiede op soek na geleenthede, maar op die ou einde beland hulle steeds op straat,” sê hy.

“Daar is lae vlakke van indiensneming in die land en talle potensiële werksoekers is moedeloos. Daar is ook lae vlakke van werkskepping. Jong arbeid word onderbenut maar die syfers dui daarop dat die jeug wil werk,” sê Shalonda.

Nog ’n groot bekommernis is die persentasie van die jeug wat werkloos is, en ook nie deel is van enige onderwys of opleiding nie.

Dié persentasie staan op 41,9% vir die totale jeugbevolking, maar in streke soos Kunene is dit 62,8% en in Zambezi is 56,1% van jongmense bloot ledig; sonder werk of studiegeleentheid.

Die streek met die hoogste werkloosheid is Kavango-Wes (52,8%), met Kavango-Oos (52%) kort op sy hakke. In Kavango-Wes staan die werkloosheidsyfer in die Musese-kiesafdeling op 67,3%, en in die Kapako-kiesafdeling is 66,5% van die arbeidsmag werkloos.

Kavango-Oos se kiesafdeling met die hoogste werkloosheid is Ndiyona met 65,2%. Jeugwerkloosheid in hierdie streek is 60,4%, met Ndiyona waar 73,2% van die jeug werkloos is.

Die kiesafdeling met die hoogste jeugwerkloosheid is egter Epupa in die Kunenestreek, waar 80,7% van die jeug werkloos is. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 33° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 21° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 18° | 34° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 22° | 38° Lubumbashi: 16° | 24° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 33° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 17° | 24° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 24° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 22° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 23° Harare: 15° | 26° #N/A #N/A