• Tuisblad
  • Arbeid
  • ‘Bonusse van N$5,4 m. vir NBC-base’ lei tot staking
NBC se staking in 2021 het verwoestende gevolge gehad. Foto argief
NBC se staking in 2021 het verwoestende gevolge gehad. Foto argief

‘Bonusse van N$5,4 m. vir NBC-base’ lei tot staking

Forensiese oudit aanbeveel
Werknemers het ook hul frustrasie uitgespreek oor NBC se besluit om 'n voertuig van N$1,9 miljoen vir die direkteur-generaal te koop ten spyte daarvan dat hy reeds 'n voertuigtoelaag ontvang het.
Elizabeth Kheibes
Die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC) kon een van die mees ontwrigtende stakings in sy geskiedenis voorkom het, het die parlementêre staande komitee oor menslike hulpbronne en gemeenskapsontwikkeling bevind.

Die weke lange staking in 2021, wat radio- en televisieprogramme tot stilstand gebring het, het verreikende arbeidsgriewe, finansiële wanbestuur en verslegtende werksomstandighede blootgelê.

Voor die staking het die spanning tussen NBC-werknemers en die -bestuur al jare lank opgebou.

Die komitee het bevind “die belangrikste bydraende faktor wat tot die staking gelei het, was die N$5,4 miljoen wat aan die uitvoerende bestuur en ’n paar gekose senior bestuurders betaal is onder die voorwendsel van prestasiebonusse. Dit was tot die nadeel van werknemers wat weens beweerde finansiële beperkings nie ’n salarisverhoging sedert 2020 ontvang het nie”.

Werknemers het ook hul frustrasie uitgespreek oor NBC se besluit om ’n voertuig van N$1,9 miljoen vir die direkteur-generaal, Stanley Similo, te koop ten spyte daarvan dat hy reeds ’n voertuigtoelaag ontvang het.

Die verslag het beklemtoon “sommige van die bestuurders wat by die prestasiebonusse baat gevind het, het ook ’n dertiende tjek ontvang”.

Werkers het salarisverhogings verwag as deel van ’n ooreengekome verhoging van 5,2% tussen NBC en die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu).

NBC se direksie het egter die ooreenkoms verwerp en eerder ’n eenmalige betaling voorgestel wat tussen N$10 000 en N$15 000 wissel, afhangende die werknemer se salarisskaal.

Werknemers het hierdie voorstel verwerp aangesien dit nie op die onderhandelde ooreenkoms gebaseer was nie. Die direksie het later hierdie aanbod teruggetrek, met verwysing na begrotingsbeperkings nadat hulle ’n verminderde begrotingstoekenning van die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie ontvang het,

NBC-werknemers het met die staking begin en gevoel dat hulle verraai is, nie net deur die bestuur nie, maar ook deur Napwu. Hulle het Napwu daarvan beskuldig dat die vakbond nie doeltreffend vir hul belange gepleit het nie.

“Terwyl die werkers nog oorweeg het om die voorstel vir ’n eenmalige betaling te aanvaar of nie, het NBC ’n bedrag van N$127 miljoen as deel van sy begrotingstoewysing van die ministerie ontvang,” lui die verslag.

Ten spyte hiervan is daar nie aan hul salariseise voldoen nie.



’N STORM WAT BROEI

NBC-werknemers het jare lank kommer uitgespreek oor stagnante lone en werksonsekerheid.

Die kantelpunt het gekom toe NBC-bestuurders glo N$5,4 miljoen se prestasiebonusse aan hulself toegeken het terwyl hulle werkers ’n 5,2%-salarisverhoging en permanente indiensneming vir kontrakpersoneel geweier het.

NBC het finansiële beperkings aangehaal, maar werknemers, verteenwoordig deur Napwu, het ’n staking uitgevoer om billike behandeling te eis.

Die komitee het gerapporteer dat “werknemers van NBC ekonomies swaarkry en werkverwante uitdagings verduur het as gevolg van voortdurende verontagsaming deur die NBC-direksie en uitvoerende bestuur”.



DIE UITVAL

Ten spyte van die impak van die staking, het NBC se bestuur sy finansiële besluite verdedig, insluitend die aankoop van ’n voertuig van N$1,9 miljoen vir die direkteur-generaal. Die komitee het NBC se finansiële praktyke gekritiseer en vermiste rekenaars wat sensitiewe finansiële data bevat, bevraagteken.

“Drie rekenaars van die departement van finansies het spoorloos verdwyn of is gesteel en geen strafregtelike saak is by die polisie geopen nie,” lui die verslag.

Die inligtingsministerie, verantwoordelik vir NBC-toesig, is ook gekritiseer omdat hulle nie doeltreffend ingegryp het nie: “Vir 33 jaar is geen volhoubare oplossings gevind vir NBC-kwessies soos bestuur, beleidsrigtings en finansiële stabiliteit nie,” het die komitee bevind.



SIELKUNDIGE TOL OP WERKERS

Werknemers het ernstige finansiële druk gehad weens salarisaftrekkings, met talle wat huise en voertuie verloor het.

“Die sielkundige welstand van werknemers is ernstig aangetas, wat gelei het tot alkoholisme, dwelmmisbruik, skuld en selfmoordgedagtes,” lui die verslag.

Die komitee het onthul dat ’n vakbondverteenwoordiger ook ná die staking afgedank is, wat talle as vergelding beskou het.

Die verslag het verder onthul dat NBC versuim het om te goeder trou te onderhandel. Die sleutelbevindings in die verslag sluit in:

* NBC se bestuur het hulself prestasiebonusse van N$5,4 miljoen betaal.

* NBC het ’n motorvoertuig ter waarde van N$1,9 miljoen vir die direkteur-generaal gekoop.

* Die ooreengekome 5,2%-salarisverhoging of ’n eenmalige bedrag wat deur die NBC-bestuur aan die werkers belowe is, is nooit nagekom nie.

* NBC het nie aan Artikel 12 (2) van die Arbeidswet No. 11 van 2007 voldoen nie, wat bepaal dat enige aftrekking op werknemers se besteebare of netto inkomste nie eenderde van ’n individu se maandelikse salaris mag oorskry nie.



PAD VORENTOE

Die komitee het aanbeveel dat die inligtingsministerie die NBC se subsidie verhoog, ’n forensiese oudit van die uitsaaier se finansies uitvoer en uitvoerende beamptes aanspreeklik hou.

NBC het onderneem om arbeidsbeleide te hersien, maar werknemers bly skepties.

“Dialoog was uiters belangrik vir die werk van NBC, wat die verwoestende staking kon voorkom het wat baie werknemers hartgebroke gelaat het,” het die komitee beklemtoon.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer