Photo: DBN
Photo: DBN

Steytler optimisties ondanks DBN se verliesjare

Fokus nou op finansiële volhoubaarheid
Die ontwikkelingsbank het 'n verlies van N$251,9 miljoen vir die boekjaar geëindig Maart 2023 aangeteken.
Yandi Du Plessis
Nuusredaksie – Dr. John Steytler, die uitvoerende hoof van die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN), sê om ’n balans te vind tussen die bank se ontwikkelingsimpakmandaat en sy finansiële volhoubaarheid sal sy prestasie ’n hupstoot gee.

Dit nadat die instelling ’n verlies van N$251,9 miljoen vir die boekjaar geëindig Maart 2023 aangeteken het.

Die DBN se geïntegreerde jaarverslag vir die boekjaar wat in Maart 2022 geëindig het, het ’n verdere verlies van N$191,1 miljoen getoon.

Die instelling se jaarverslag het getoon hy moes N$704 miljoen se verswakte lenings vir 2023 alleen afskryf, terwyl N$109 miljoen se verswakte lenings glo in die vorige jaar afgeskryf moes word.

Lenings ten bedrae van N$45 miljoen is oor dieselfde tydperk vereffen.

Totale lenings aan DBN-kliënte, wat steeds gedelg word, beloop N$1,6 miljard.

Die DBN het ’n effense styging in bedryfsuitgawes van N$152,9 miljoen aangemeld, met salarisse en personeelkoste van N$103 miljoen wat bygedra het tot die grootste gedeelte van die bedryfsuitgawes vir die jaar onder hersiening.

Die bank sukkel ook met 34%-niepresterende lenings – lenings wat onderhewig is aan laat terugbetaling of waarskynlik nie terugbetaal sal word nie.

Niepresterende lenings in die afdeling van klein en mediumgrootte ondernemings (SME’s) staan op ’n skokkende 63%.

MOEILIKE POSISIE

Steytler, die voormalige statistikus-generaal wat ook gewerk het as direkteur van ekonomiese navorsing by die Bank of Namibia (BoN) sowel as president Hage Geingob se ekonomiese raadgewer, het in September die leisels van die staatsontwikkelingsbank oorgeneem.

Sy eerste maand by die bank het hom gehelp om die volle omvang van die werk te verstaan, sowel as uitdagings en potensiële geleenthede, het hy gesê.

Wat uitdagings betref, het Steytler gesê 49% van kliënte diens nie hul lenings nie, wat die bank in ’n moeilike finansiële posisie geplaas het.

“Die lenings wat aan SME’s uitgereik word, is veral kommerwekkend. Soos sake nou staan, word slegs 30% van lenings gediens. Die oorblywende 70% van daardie lenings is basies dormant,” het hy gesê.

Steytler is egter optimisties oor die geleenthede wat die bank kan benut om die nasionale ontwikkelingsagenda te bevorder, terwyl hy homself op die lang termyn volhoubaar bestuur.

“Volhoubaarheid van die ontwikkelingsbank is noodsaaklik. Die ontwikkelingsmandaat kan nie uitgevoer word as die instelling nie finansieel volhoubaar is nie,” het hy uitgewys.

OOR DIE ERGSTE

Volgens hom is die Namibiese ekonomie “oor die ergste”, ’n situasie wat goed vir die bank is.

“Ek is optimisties oor die toekoms,” het hy gesê.

“Ons onmiddellike teiken vir nou is om gelyk te breek, dan kan ons begin mik om wins te maak.

“Die volgende strategiese plan sal poog om die ontwikkelingsimpak, volgens ons mandaat, en finansiële volhoubaarheid van die bank te balanseer. Laasgenoemde is belangrik vir die toekomstige bestaan van die bank, maar dit kan net gebeur wanneer mense hul lenings diens.

“Dis ’n lening, nie ’n toelaag nie,” het die ekonoom beklemtoon. “Betaal sodat ander in die toekoms ook voordeel kan trek.”

Onder Steytler se leierskap sal die bank ook poog om sy sakereddingstrategie te versterk deur afrigting, herstrukturering en ander ingrypings.

“Dit is een van die maniere waarop ons verskil van handelsbanke. Waar ons potensiaal sien in ’n sakevoorstel wat aan ons voorgelê word, sal ons die eienaar help om die benadering te verfyn totdat dit vir ons haalbaar is om die besigheid of projek te finansier.”

GROOT SKOENE

Ten spyte van die uitdagings het Steytler die lof besing van sy twee voorgangers, die stigtende uitvoerende hoof, David Nuuyoma, en Martin Inkumbi, wat die bank onlangs verlaat het.

“David en Martin het ’n voorbeeld gestel en nou het ek groot skoene om vol te staan. Dit is ’n groot uitdaging om hul sukses in te haal,” het hy gesê.

Die bank, ’n konseptuele breinkind van oudpresident Sam Nujoma, het sy deure in April 2004 geopen.

“Die visie wat president Nujoma gehad het, is steeds waaroor die bank gaan – om lewens positief te beïnvloed. Ek is bly dat ons twee daaropvolgende staatshoofde, presidente Hifikepunye Pohamba en Hage Geingob, in daardie visie deel en die bank baie ondersteun het.

“Ons is ook baie bly dat daar geen politieke inmenging in die bestuur van die bank was nie,” het Steytler gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!