Van Rooyen kap na Fishrotters midde-in belastingstryd

Hoof sê NamRA, BoN wil Trustco-groep ‘doodmaak’
Van Rooyen het 'n steek ingekry na sommige Fishrot-beskuldigdes vir die opstel van wette wat volgens hom korrupte politici in staat gestel het om uit die staatskas te steel.
Yandi Du Plessis
Ogone Tlhage - “Daar was ’n vloedgolf van wette en wysigings wat op niksvermoedende wetgewers in die parlement geval het aan die hand van die trio Sacky Shanghala en James Hatuikulipi, wat in aanhouding is, en die onteerde voortvlugtige prokureur Maren de Klerk...”

Dit was die Trustco-eienaar, mnr. Quinton van Rooyen, se woorde midde ’n hofstryd oor N$306 miljoen se beweerde agterstallige belasting.

Hy het onder meer verwys na die wet op bankinstellings, die Bank of Namibia-wet, die wet op inkomstebelasting, die wet op toegevoegde waarde (BTW), die Namibiese Inkomste-agentskap-wet, die Nasionale Herversekeringskorporasiewet, die diamantwet, die wet op mariene hulpbronne en die Nasionale Visserykorporasiewet.

“Hierdie stukke wetgewing het sekere kenmerke in gemeen, naamlik dat [hulle] eerstens aan administrateurs van die wette en ministers onbeperkte mag gee – sonder parlementêre toesig – en tweedens, in baie gevalle, [dat hulle] parallelle strukture vir ’n handjievol begunstigdes geskep het om inkomste en kontant te verduister,” het hy in hofstukke gesê.

“Hierdie begunstigdes loop deur die gange van hoë kantore in Namibië.”

Trustco Group Holdings ontken dat hy agterstallige skuld by die Namibië Inkomste-agentskap (NamRA) het en beweer goedkeuringsertifikate (“certificate of good standing”) is aan die groep uitgereik – ondanks skuld van N$306 miljoen.

Dit volg nadat NamRA vandeesweek 42 Trustco-maatskappye se bankrekeninge deur ’n hoërhofbevel laat vries het.

PROBEER TRUSTCO ‘DOODMAAK’

Van Rooyen het na NamRA gekap en die agentskap daarvan beskuldig dat hy nie in goeie trou opgetree het nie en saam met die Bank of Namibia (BoN) gewerk het om Trustco “dood te maak”.

Trustco se aandele is onlangs vir verhandeling op die Johannesburg Aandelebeurs (JSE) opgeskort, terwyl BoN sy filiaalmaatskappy, Trustco Bank, wil likwideer.

Regter Sulet Potterill van Suid-Afrika se hoogste van appèlhof (“Supreme Court of Appeal”), het beveel dat die maatskappy sy finansiële state moet herstateer en gesê die finansiële resultate van ’n maatskappy moet sy ware finansiële welstand weerspieël.

SKULD BETWIS

“Dit is jammer dat NamRA die konsultasieverhouding op hierdie skielike wyse laat vaar het deur oënskynlik saam met BoN op te tree om Trustco te ondermyn. Sodoende het NamRA nou die grondoorsaak van die publiek se voortdurende klagtes oor die onregverdige, swak en substandaard belastinginvordering, toekenning en terugbetalings in Namibië blootgelê,” het Van Rooyen gesê.

Hy het bygevoeg Trustco was belastingkrediet verskuldig, maar dat NamRA vorige besluite oor Trustco omgekeer het en agterstallige belasting eis.

Volgens hom het NamRA onlangs belastingkrediet ten bedrae van N$136 miljoen aan Trustco geskuld.

Trouens, het hy aangevoer, het die inkomste-agentskap op 1 September goedkeuringsertifikate aan Trustco uitgereik. NamRA het egter op 3 Oktober “verrassend en eensydig” sy vorige besluite omgekeer en beweer dat die groep nou N$306 miljoen (rente ingesluit) skuld.

Volgens Trustco se berekening, as sy belastingkrediet korrek verreken is, sou sy skuld aan NamRA teen 31 Augustus N$7,8 miljoen wees, het hy gesê.

FISHROT

Van Rooyen het ook ’n steek ingekry na die korrupsiebeskuldigdes, mnre. Sacky Shanghala, James Hatuikulipi, Bernhard Esau en Marén de Klerk vir die opstel van wette wat volgens hom korrupte politici in staat gestel het om uit die staatskas te steel.

Shanghala, destydse voorsitter van die Regshervorming- en Ontwikkelingskommissie (LRDC), het glo saam met Esau, die destydse minister van visserye en mariene hulpbronne, gewerk om die wet op mariene hulpbronne van 2015 in werking te stel, wat laasgenoemde verreikende magte gegee het om visvangkwotas uit te deel soos hy goedgedink het. . .

Deur dié wet het Esau verskeie private vismaatskappye van hul visvangkwotas gestroop, wat tot reusewerksverliese gelei het. Die kwotas is aan Fishcor, ’n maatskappy in staatsbesit, toegeken. Fishcor het toe weer sy kwotas aan die Yslandse maatskappy Samherji verkoop wat – in ruil daarvoor – na bewering die Namibiese amptenare miljoene dollars in omkoopgeld betaal het.

Geen bewyse bestaan dat die Fishrot-beskuldigdes ook fasiliteerders was van die ander wette waarna Van Rooyen verwys het nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!