OESTERS: Walvisbaai se Oesterfees beloof om weereens ’n gesellige geleentheid te wees. Foto Otis Daniels
OESTERS: Walvisbaai se Oesterfees beloof om weereens ’n gesellige geleentheid te wees. Foto Otis Daniels

Die fees met gees is terug!

Lekker musiek, vars oesters
Die Oesterfees keer terug na Walvisbaai ná twee jaar se stilte.
Leandrea Mouers
Walvisbaai se Oesterfees op 30 Julie beloof om weereens ’n gesellige geleentheid met goeie musiek, vars oesters en ’n wye verskeidenheid van stalletjies te wees.

Len Nel, die organiseerder van die fees, vertel hulle het ’n uiteenlopende groep kunstenaars benader om kwaliteit musiekvermaak vir die feesgangers te kan bied. “Ons het ook vir Ray Dylan van Suid-Afrika genooi om op te tree. Ons hou meestal by plaaslike kunstenaars, want ons het hope talent hier en daarom het ons ses plaaslike musikante wat gaan optree – voordat Ray Dylan later die dag sy plek op die verhoog sal inneem.”

Die plaaslike kunstenaars sluit in Danie Prinsloo, Joharetha Nel, Bella Lusse, Len Nel, Titus Cloete, Adam en Savannah sowel as Shoreline.

Volgens Nel beoog hulle om 40 beskikbare stalletjies by die geleentheid te hê waar mense hul produkte kan uitstal. “Dit sal kunsstalletjies, kos, juwele, en vele meer wees. Natuurlik gaan daar oesterstalletjies ook wees en besoekers kan hulle voorberei om aan dié lekkerny te kom smul vir ’n goedkoop prys teen sowat N$7 tot N$10 vir ’n gaar oester.”

Die Oesterfees vier vanjaar sy tiende bestaansjaar nadat dit in 2012 vir die eerste keer aangebied is. “Nog elke jaar, danksy die publiek, is dit ’n groot sukses. Weens die pandemie kon die fees die afgelope twee jaar glad nie plaasvind nie. Ons het nou weer dié jaar die kans om dit aan te bied en ons hoop die publiek daag in getalle op soos in die vorige jare.

“Die enigste verskil is dat die fees hierdie jaar by Laerskool Walvisbaai gehou gaan word. Ons wil die fees hou soos die mense dit onthou; lekker kosstalletjies, vars oesters en goeie musiek. Ons gaan voort met dít wat ons oor al die jare opgebou het.”

Nel hoop feesgangers sal in groot getalle opdaag om die geleentheid te ondersteun. “Ek dink die mense is honger vir so ’n fees. Kom maak gerus ’n draai, geniet die lekker atmosfeer, luister na goeie musiek en smul aan lekker kos. Ons glo dit sal weer ’n fantastiese fees wees. Indien daar winste gemaak word, sal ons ’n instansie of ’n individu identifiseer om finansieel by te staan.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!