Susan //Hoebes, die skakelbeampte van die Erongo-streekraad, plaas haar skriftelike voorstel in ’n voorstelhouer by die raad se hoofkantoor in Swakopmund. Die proses kan ook deur http://www.erc.com.na gedoen word. Foto Adam Hartman
Susan //Hoebes, die skakelbeampte van die Erongo-streekraad, plaas haar skriftelike voorstel in ’n voorstelhouer by die raad se hoofkantoor in Swakopmund. Die proses kan ook deur http://www.erc.com.na gedoen word. Foto Adam Hartman

Erongo-streekraad vra vir inwoners se insae

Sê jou sê
Die Erongo-streekraad wil hê inwoners moet insette lewer oor hoe die instansie dienslewering kan verbeter.
Adam Hartman
Die Erongo-streekraad moedig inwoners aan om meer betrokke te raak by hoe die owerheid hul sake bestuur deur van terugvoerplatforms gebruik te maak om insette te lewer.

Die streekraad se skakelbeampte, Susan //Hoebes, het gesê dit is hoog tyd dat die terugvoeringsproses teruggebring word, aangesien dit belangrik is dat die raad in pas met sy kiesers is.

Sy het gesê die platforms is reeds in 2018 ingestel, en hoewel dit vir ’n ruk gewild was, het dit mettertyd verdwyn.

’n Elektroniese proses, vir die gerief van diegene wat dié metode verkies, is in 2020 ingestel, maar was ook nie suksesvol nie.

“Die idee is goed en die proses werk, maar dit het nie sy potensiaal bereik nie omdat dit nie behoorlik bemark is nie,” het sy gesê.

Luidens //Hoebes word die streek dikwels deur die goewerneur, die Erongo-streekraadslede en ander politici as die “magtige Erongo – ’n streek van uitnemendheid” bemark. Dit kan net die waarheid wees as die administrateurs aan die inwoners se verwagtinge voldoen.

“Ek wil help om die idee dat Erongo die streek van uitnemendheid is, te bevorder. Mense moet weet hulle het ook ’n stem. Dit is hulle reg om te sien hoe ons hulle dien en om ons aanspreeklik te hou.”

Dit is in pas met die Harambee-welvaartsplan II waarin ’n doelwit vir doeltreffende bestuur asook verbeterde burgerdeelname en –betrokkenheid nagestreef word deur gereelde gemeenskapsvergaderings; ’n gestruktureerde meganisme vir dialoog tussen die gemeenskap en die raad; die ontwikkeling van ’n tevredenheidsopname; en terugvoering rakende die reaksie van mense se opmerkings, voorstelle en vrae wat met die streekbestuur verband hou.

“Ons moet weet wat die mense dink en wat hulle van ons verwag. Ons kan niks doen as hulle nie vir ons sê wat om te doen nie,” het //Hoebes gesê.

Sy het bygevoeg dit hoef nie net kritiese insette te wees nie, maar kan ook konstruktief wees.

“Sou ons verkeerd wees, of moet verbeter, dan is dit regverdig genoeg. Dit is ook bemoedigend om te hoor as ons op die regte pad is.

“Mense moet asseblief ook hul idees en motiverings deel.”

Die kommentaar sal elke maand ingesamel, gekategoriseer en geprioritiseer word, en aan die betrokke departemente vir oorweging en reaksie voorgelê word.

Dié reaksies sal dan aan die raadsbestuur vir verdere optrede ter tafel gelë word, en indien moontlik, sal die individue en gemeenskappe terugvoering van die raad ontvang, wat in die vorm van gemeenskapsvergaderings kan wees. //Hoebes het gesê die proses moet vanaf grondvlak werk om só die streek se inwoners voldoende te betrek.

Voorstelle kan per hand by die raad se kantoor afgelewer word; by die onderskeie verteenwoordigende kantore in die verskillende kiesafdelings; óf elektronies via http://www.erc.com.na.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!