Henties verruil galg vir ’n visstok en vis

Versoening te bring
Hentiesbaai se historiese galg sal binnekort in 'n visstok en 'n vis omskep word om weg te doen met teenstrydige menings daaroor.
Adam Hartman
Hentiesbaai staan nog altyd bekend as die “basiskamp” vir vistermanne en -vroue langs die sentrale kus.

Die kusdorp gaan nou klem op dié tradisie lê deur sy historiese galg in ’n beeldhouwerk te omskep. Die kunswerk – wat uit ’n visstok en ’n vis bestaan – kos sowat N$40 000 en sal amptelik by die jaarlikse Hentiesbaai Visfees op 26 en 27 Augustus ingehuldig word.

Die Hentiesbaaise sakeman Johan Aggenbach is deel van die span gemeenskapslede en munisipale verteenwoordigers wat aan die projek werk.

“Dis ’n groot projek. Die doel is om dit ’n bietjie anders te maak deur die galg met ’n vistok en ’n vis te vervang. Dit is regtig ’n pragtige beeldhouwerk,” het hy aan Erongo 24/7 gesê.

Die beeldhouer Chris Snyman van Swakopmund het ’n paar maande geneem om die vis van 2,8 meter, wat soos ’n groot kabeljou lyk, te skep.

“Ek wou nie iets leweloos maak nie, so ek het tyd in die Swakopmund-akwarium deurgebring om uit verskillende hoeke na die kabeljou se vorm en beweging te kyk. Ek wou iets skep wat soos ’n regte vis lyk,” het hy gesê.

Die vis is uit stukke vlekvrye staal wat weggegooi is, geskep. Dit moes vlekvrye staal wees om die weerkorrosie aan die kus te weerstaan.

Snyman is ook verantwoordelik om die stok te maak. Hy het gesê die hoek van die stok se buiging moet van só ’n aard wees dat ’n denkbeeldige vislyn gesien kan word wat na die vis lei, wat op ’n sementpodium gemonteer sal word wat golwe verteenwoordig. ’n Gedenkmuur sal ook soos golwe lyk.

“Ons het gespeel met die idee om ’n kabel of staalstang te gebruik om soos vislyn in die vis se bek te lyk, maar ons was bekommerd dat mense hieraan sou swaai of hang, wat gevaarlik kan wees,” het hy verduidelik.

Toerisme

Die dorp se burgemeester, Lewies Vermaak, het verduidelik dat hierdie deel van ’n toeriste-stilhouplek sal uitmaak.

“Die ou houtstomp wat as die galg gedien het, sal die monteerraam van ’n visstok word, wat so gebuig is asof dit ’n groot vis inkatrol.”

Die ou strop is in 2020 verwyder ná ’n debat oor die lot van Hentiesbaai se galg losgebars het.

’n Beroep om die galg te verwyder aangesien dit as ’n rassistiese simbool beskou is, is deur kampvegters ondersteun.

Die kwessie het so opgevlam dat die stomp aan die brand gesteek is.

“Om ’n opflikkering van emosies te vermy, is die strop verwyder, en planne is gemaak om iets te skep waarmee almal tevrede sal wees,” het Vermaak gesê.

Geskiedenis

Die galg is meer as 40 jaar gelede opgerig as ’n waarskuwing teen rommelstorting. Dit is nooit vir die teregstelling van mense gebruik nie.

Luidens Vermaak gaan die gedenkmuur Hentiesbaai se geskiedenis uitbeeld. Die tuin sal ook ontwikkel word, met ablusiegeriewe.

“Ons doen iets beter daarmee waarmee almal gelukkig kan wees, en uiteindelik sal dit ’n toeriste-aantreklikheid wees wat mense sal wys en vertel waaroor Hentiesbaai gaan.”

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!