Jeugleiers met vaardighede toegerus

Rolspelers van verandering
Jong leiers van oraloor die streek, het die Erongo Jeugleierskapseminaar die naweek in Walvisbaai bygewoon.
Die Erongo Jeugleierskapseminaar onder die tema “Jeugleierskap vir verandering”, is die afgelope naweek op Walvisbaai gehou.

Die seminaar is moontlik gemaak deur die kantoor van die Erongo-goewerneur, Neville Andre, in samewerking met die Frederich Ebert Stiftung.

Die deelnemers het onderwerpe soos onder meer emosionele intelligensie, konflikoplossing, leierskapeienskappe en die vaardighede wat die jeug benodig om hul rol doeltreffend in die ontwikkeling van die streek te speel, onder die loep geneem.

Andre het in sy openingstoespraak verduidelik die seminaar is in die lewe geroep om die jeug in staat te stel om ’n positiewe bydrae – nie net in die Erongostreek nie – maar landswyd te lewer.

Hy het gesê dit sal 'n jaarliks instelling word. “Dit is van kritieke belang dat die jong leiers van die junior dorpsrade, die verteenwoordigende studenterade, Nanso, Swapo en streekjeugforums onder die vaandel van die Nasionale Jeugraad, met die nodige vaardighede toegerus word om ’n betekenisvolle verskil in gemeenskappe te maak.”

Sedert sy aanstelling as goewerneur het Andre die behoefte geïdentifiseer om die jeug met die regte leierskapsvaardighede toe te rus om ’n betekenisvolle bydrae tot die ontwikkeling van die streek te lewer.

As gevolg van Covid-19-regulasies kon die seminaar nie vroeër gehou word nie.

“Die idee is om jong leiers in staat te stel om vaardighede aan te leer en maniere te identifiseer om die nodige hulpbronne te bekom sodat hulle ’n positiewe impak in gemeenskappe kan maak. Betekenisvolle vennootskappe is nodig vir verandering. Jongmense kan slegs deur betrokkenheid en deelname hul volle potensiaal bereik. Slegs sinvolle dialoog kan oplossings vind vir die uitdagings wat ons in die gesig staar.”

Andre het ook die hoop uitgespreek dat die jaarlikse seminaar die deelnemers sal toerus om 'n beter toekoms vir hulself en hul gemeenskappe te skep en om ’n blywende impak in die streek en die res van die land te maak.

“Maak seker dat jy die seminaar ten volle toegerus verlaat om uitdagings die hoof te bied en geleenthede te skep. Vir verandering om permanent te wees, moet dit van binne kom. Moenie moed in jou vermoë verloor om 'n verskil in jou lewe en dié van ander te maak nie. Die geleenthede is daar, jy moet dit net benut,” het hy die jeugleiers aangemoedig.

Die goewerneur het ook belowe sy kantoor sal voortgaan om saam met organisasies soos die Nasionale Jeugraad, die junior dorpsraad, leerlinge se verteenwoordigende rade en alle jeugorganisasies te werk om ontwikkelingsgeleenthede vir die jeug in Namibië te bevorder.

Sharonice Bush, die uitvoerende voorsitter van die Nasionale Jeugraad, het almal daaraan herinner dat jongmense 'n belangrike menslike hulpbron vir ontwikkeling is, asook sleutelrolspelers vir maatskaplike verandering, ekonomiese groei en tegnologiese ontwikkeling.

“Daar is ’n demografiese noodsaaklikheid om op Namibië se jeug te fokus. Die land se bevolking is jonk en die welvaart van toekomstige generasies hang af van beleggings om die jeug se gesondheid, onderwys, maatskaplike welsyn en geleenthede vir ekonomiese bemagtiging te verbeter.”

Bush het ook beklemtoon dat die Namibiese regering onlangs sy derde nasionale jeugbeleid hersien en bekend gestel het. Dié beleid poog om wêreldklas mededingende jongmense te ontwikkel wat 'n hoë lewenstandaard kan bied.

“Die beleid stipuleer ingrypings om die optimale ontwikkeling van jongmense op individuele sowel as maatskaplike vlak moontlik te maak en sodoende hul vermoë te verbeter om gesinne en die land te transformeer. Die beleid vereis dat jongmense met die nodige vaardighede, netwerke en kapitaal toegerus word om positiewe rolspelers te word en dit moet nou gedoen word.”

Sy het ook jongmense aangemoedig om hul verskille opsy te sit, die krag van verdraagsaamheid optimaal te benut en om saam die kwessies wat hulle in die gesig staar, te oorkom.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!