'n Skermgreep uit Kletskompas se eerste uitsending op Netwerk TV op 8 Februarie 2022.
'n Skermgreep uit Kletskompas se eerste uitsending op Netwerk TV op 8 Februarie 2022.

Altyd iets om oor te klets

Na meer as 700 episodes bevind Republikein se geselsprogram, Kletskompas, hom tans in sy derde reeks sedert die eerste uitsending op Facebook op Wêreldpersvryheiddag, 3 Mei 2019.

Die konsep was ‘n natuurlike uitvloeisel van Namibia Media Holdings se benutting van video as ‘n medium vir verslaggewing en debatvoering oor aktuele sake, wat lank voor dit begin het, verduidelik die redakteur, Dani Booysen.

Die afbreek van grense tussen tradisionele formate van nuusmedia, koerante, radio en TV, is ‘n wêreldwye tendens wat steeds voortdurend ontwikkel.

In April 2011 het NMH sy buiging op YouTube gemaak met ‘n video van die geskiedkundige eerste hartoperasie by Windhoek se Rooms-Katolieke hospitaal. Die materiaal was geskiet in 480 pixels, teenoor deesdae se 1 080 en dalk nie meer so ver in die toekoms nie, 4k.

Toe het die groep ‘n videospan gehad – iets wat deesdae deel van elke verslaggewer se werk is.

“Nie net video nie, maar opneemwerk en regstreekse beeldsending is iets wat joernaliste tot onlangs redelik die skrik op die lyf gejaag het,” vertel Dani. “Soms kry ons steeds die horries,” skerts hy. “Ek onthou nou nog die ritteltits van 3 Mei 2019.

“En langs die pad het ons natuurlik baie foute gemaak; en blapsies gebeur soms steeds, maar deur herhaling en inoefen is baie spoke getem.

“Vir my persoonlik, van nature vrek skaam vir die kamera, was dit ‘n opwindende leerproses waardeur ‘n mens jouself met nuwe vaardighede toerus. Ek hou daarvan om aan dié deel van my werk te dink as TV sonder makeup,” sê Dani.

“Onopgesmuk en eerlik; sonder die belegging van tientalle miljoene dollar wat ‘n propperse TV-stasie sou kos.”

5, 4, 3, 2, 1 ...

Republikein het met daaglikse, regstreekse uitsendings oor koerantnuus begin toe die koerant op 1 Desember 2017 sy 40ste bestaansjaar gevier het.

Hierdie klein ateljee met sy groen mure is vandag omtrent vier keer so groot en NMH het deesdae ook vyf ander alteljeeruimtes.

“Ons het al honderde gaste in Kletskompas gehad,” vertel Dani. “Van ministers en deskundiges in verskeie velde tot kunstenaars en skoonheidskoninginne.”

Die idee agter die program is om ‘n bydrae te lewer en rigting te toets en te bepaal aan die hand van ons land en sy mense se stories. Daarom het Kletskompas ook vanaf die begin besluit om nie altyd eksklusief Afrikaans te wees nie.

“Ek en Jo-Maré [Duddy] het een aand laatnag met die woordeboek by die eetkamertafel dinkskrum gehou oor ‘n gepaste naam,” onthou Dani. “Die woord ‘klets’ was op die lysie as ‘n sinoniem van gesels en ‘n klomp samestellings is met alliterasie gevorm voordat ons geweet het hierdie is die naam.

“Toe ons op Google naslaan of iemand dalk reeds die naam gedeps het, was daar minder as vyf inskrywings, en een daarvan het ‘kletskompas’ gelys as ‘n voorgestelde nuutskepping vir ‘n GPS-toestel; daai tannie wat jou padlangs beduie hoe om te ry.” Die gebruik hiervan het volgens Dani nooit wortel geskiet in Afrikaans nie.

En só is Kletskompas gebore.

Sedert ‘n paar maande gelede bevat die program daagliks afwisselende segmente, naamlik sport op Maandae, sake op Dinsdag en gesondheid op Woensdae. Donderdae maak Suiderland en Noorderlig beurte en Vrydae vertel Kollig jou van die naweek se vermaak- en kunsspyskaart.

“Ons sal baie graag meer terugvoering van kykers wil ontvang oor wat hulle graag in Kletskompas wil sien,” sê Dani oor planne vir die toekoms.

Vir hom lê ‘n vasvrakompetisie na aan die hart, “soos Flinkdink uit ons kinderdae, maar met ‘n uniek Namibiese aanslag,” en dalk gaan ons eendag nog sepies en meer dokumentêre programme op Netwerk TV sien,” sê Dani.

Skryf gerus aan hom by [email protected].

As jy wil hê Kletskompas moet op 'n Saterdag jou besigheid bemark, maak gerus kontak met Koopkompas.

* Kletskompas se medeaanbieders is Ronelle Rademeyer, Jo-Maré Duddy en Augetto Graig en al Republikein se verslaggewers gesels oor nuus in die program.

Kyk Kletskompas elke weeksdag om 11:00 op Facebook, of om 12:30 en weer om 20:00 op NTV – DStv 285 en GOtv 94.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!