Annerie stel parfuumreeks, webwerf bekend

Skoonheidskoningin, filantroop en entrepreneur
Mej. Wêreld Namibië sprei haar vlerke deur 'n skoonheidsproduk bekend te stel.
Michelline Nawatises
Annerie Maré, die plaasnooi van Kamanjab wat haar land by die Mej. Wêreld-skoonheidskompetisie verteenwoordig het, het onlangs haar parfuumreeks en webwerf bekend gestel.

Die bekendstellingsgeleentheid is regstreeks aanlyn op al Annerie se sosialemediaplatforms aangebied. Tydens die geleentheid het sy begin deur haar webwerf te onthul en te demonstreer hoe ‘n mens dit maklik kan navigeer.

“My droom was lank reeds om my eie webwerf bekend te stel as ‘n platform wat daaraan gewy is om enigiemand wat dit besoek aan te moedig en te inspireer. My wens is om deur my hart, drome en passies met mense te deel, sal hulle ook hul eie inspirasie kan vind.”

Haar webwerf wys haar reis as deel van Mej. Namibië 2021, maniere om by haar projekte betrokke te raak en vele meer. Sy beoog ook om in die nabye toekoms organiese produkte op haar webwerf te verkoop.

Annerie het in 2019 haar eie parfuumreeks ontwikkel en dit is uiteindelik beskikbaar om aanlyn bestel te word. Sy is opgewonde oor die bekendstelling van haar aanlyn winkel, wat sal bydra tot haar Beauty with a Purpose-liefdadigheidsprojek wat ten doel het om by te dra tot voedselsekuriteit en volhoubaarheid vir Namibiërs.

“Ek het nog altyd geweet om ‘n entrepreneur te wees, is iets wat ek wil aanpak. Om ’n mens se passie in ’n bron van inkomste te omskep, is wat my geïnspireer het om my eie parfuumreeks te begin,” sê sy.

Die Anne 7-parfuum het ‘n blomagtige geur wat vir ongeveer agt ure hou. Annerie sê geure was nog altyd een van haar passies.

“Die aanlyn winkel sal nie net parfuum verkoop nie, maar ook ander opwindende nuwe produkte soos my besigheid groei.”

Die parfuum word in Frankryk gemaak, met die hoop om dit binnekort in Namibië te vervaardig en te verpak sodra logistieke prosedures afgehandel is.

Anne 7 is aanlyn teen N$500 beskikbaar. Volgens Annerie sal ‘n gedeelte van elke bottel wat verkoop word, aan haar projek gaan. Sy het planne om meer geure by haar parfuumreeks te voeg en hoop om dit in die toekoms op winkelrakke te sien.

Maré is verlede jaar as Mej. Namibië se eerste prinses gekies en het haar land by Mej. Wêreld in Puerto Rico verteenwoordig. Sy is tans in haar finale jaar van ’n baccalaureusgraad in berading.

Besoek annefragrances.com om die parfuum te koop.

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer