Adolf Jentsch: In dié olieverfskildery raak Etosha se middaghitte by die watergat tasbaar.
Adolf Jentsch: In dié olieverfskildery raak Etosha se middaghitte by die watergat tasbaar.

Dekades van stagnasie en groei

Pedro Vorster
Pedro Vorster – In die vroeëre Namibiese formele kunssektor was daar ’n hoë agting vir ’n uitgelese groep kunstenaars wat gegrens het aan heldeverering.

Die leiergroep se styl, medium en motiewe was hoofsaaklik eurosentries en is voorgehou as ’n kanon vir die beoefening van hogere suiwer visuele kuns.

Die goue draad wat deur die jare vleg is dat Namibiese kunstenaars hoofsaaklik beïnvloed is deur kontemporêre plaaslike kunstenaars wat hul bewonder het.

Individue, nie groepe of skole nie, oorheers die plaaslike toneel. Hulle is gereken as die baanbrekers en het die tradisionele bly handhaaf. Daarom is hierdie kunstenaars en hul tydgenote belangrik omdat hulle die kunste direk beïnvloed en in ’n mate bestuur het.

In die visuele kunste word ’n manifes gewoonlik saamgestel en deur die groepvormende kunstenaars binne een oorkoepelende dampkring geplaas. Die manifes dien gewoonlik as verduideliking van hul werke, filosofie en ambisies. (Dink maar aan die Surrealiste) Dié groep kunstenaars het ’n gedeelde visie gehad al was hul werke tematies verskillend.

Groepvorming is gewoonlik ’n brug wat “oorgangsfases” in ’n kultuur verbind. Die vernuwende groep, soos ’n plaasdam, moet sterk genoeg wees om ten minste ’n paar seisoene water te hou voor dit ’n beduidende invloed op die omgewing het.

Die Namibiese kunsgemeenskap was te klein en gefragmenteer om enige groepvorming of bewegings te onderhou. In die afgelope 40 jaar (1970-1990) was daar geen belangrike groepvorming in Namibië nie.



DIE JARE VAN STRYD: 1970 TOT 1990

Apartheid het isolasie op verskeie vlakke gebring en die visuele kunste word deur drakoniese wetgewing, veral in Suid Afrika, beperk.

Plaaslik veroorsaak onkunde ’n kuns-waterwiel wat verder vasroes in ongesonde inteling en elitisme wat stagnasie in die hand werk.

In die noorde van Namibië, waar die grensoorlog ’n daaglikse werklikheid was, is die tradisionele handwerk en kunste oorheers deur politieke agendas. Lewensgetroue AK-47-masjiengewere word deur die plaaslike bevolking uit hout gekerf as simbole van verset en vir opleiding, asook om die Suid-Afrikaanse besettingsmag daarmee te tart.

Die kamerade dink glad nie daaraan dat hierdie speelgewere uitstekende voorbeelde van houtwerk was nie en as sulks behoort bewaar te word veral nou gesien in ’n kunshistoriese konteks.

Met die aanvang van die 70’s handhaaf die kunsrivier hoofsaaklik die status quo en is gewaagde eksperimentering skaars. Anders gestel: daar was min oorstroming van die walle sodat nuwe sedimente kon neerslaan en vars lewe kon ontkiem. Ons Nyl was bra onvrugbaar.



TRADISIE VS TRADISIONALISTE

Die tradisionaliste se bydrae tot Namibiese kuns moet nie onderskat word nie.

Hul werk was ver van kru en minderwaardig. Daarvan spreek die agting waarmee reisende uitstallings in Suid-Afrika en oorsee ontvang is.

* 1970’s: In die begin van die dekade is daar nog min sprake van hernuwing. Isolasie begin posvat onder die meerderheid lede van die Suidwes-Afrikaanse Kunsvereniging, die sterkste beheerliggaam van die kunste in die land. Die mees gerekende plaaslike kunstenaars was Duitsers wat hul vakmanskap in Europese skole geslyp het. Hulle heg groot waarde aan die bemeestering van tegniek en stal hoofsaaklik in die Nasionale Kunsgalery uit.

* 1972: Johannes Blatt sterf. Hy was een van die groot eksponente van die Namibiese landskap. Sy latere werke toon ’n grafiese ekspressionisme wat aan die deur van kubisme begin klop. Hy het hiermee ’n brawe treetjie geneem en loop so die risiko om sy bewonderaarsmark te verloor.

Die vaardige waterverf-landskapskilder Ulrich Schwanecke (1932-2006) en Joachim Voigts (1907-1994) is die bekendste stylfigure van die representatiewe landskap. Beide gaan op in die gesogte bemeestering van die moeilike waterverftegniek. Die dieremotief spring op en word in Voigts se werke ontgin, maar geensins so ekspressief behandel soos deur Kritz Krampe (Dood in 1966) in die vorige dekades nie. Voigts gebruik houtsnee en beeld die dier en mens dekoratief en formeel daarmee uit.

Otto Schroeder, oorlede in 1975, bied kunslesse vir swart kinders aan en stel die kunspubliek aan die medium van oliepastelle bloot. Sy werke is die eerste om op Namibiese gedenkposseëls te verskyn. Sy uitbeelding was hoofsaaklik van die plaaslike stamme, en word as poëties gesien. Die kunspubliek moes eers goed kou aan sy werke voor dit deur die massa aanvaar word.

Adolf Jentsch word geag as die belangrikste Namibiese landskapskilder en leidende figuur, sterf in 1977. Hoog aangeslaan en ook navolgingswaardig deur Nico Roos (1944-2008) bekroonde Namibiese landskapskilder wat later professor en dekaan aan die Universiteit van Pretoria (Tshwane) sou word.

Op die horison verskyn die hoopvolle fregat ‘“Hernuwing” en kom meedoënloos nader. Wie is aan boord? Lees deel 3.

Kommentaar

Republikein 2025-02-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer