Dié bekende werke is nou in die openbare domein

Iréne-Mari van der Walt
Met die oorgang na 2025 het daar vanjaar, soos elke jaar, verskeie bekende boeke, kunswerke en musiek die openbare domein betree.

Juis om dié rede word 1 Januarie as Openbare Domeindag gevier – want voortaan is daar geen kopiereg meer op hierdie werke nie.

Verskillende lande volg verskillende kopieregwette – in Spanje word werke byvoorbeeld onder kopiereg beskerm tot 80 jaar ná die kunstenaar se dood.

In die meerderheid van Europa (met Belarus en Spanje as uitsonderings) word ’n kunstenaar se werk deel van die openbare domein 70 jaar ná hul dood, indien dit gedurende die kunstenaar se leeftyd gepubliseer is.

In lande soos onder meer Bangladesh, Indië en Haiti verstryk die kopiereg op ’n kunswerk 60 jaar ná die kunstenaar se dood.

In die meeste Afrikalande verstryk kopiereg 50 jaar ná die kunstenaar gesterf het.

Hier is die bekende kunswerke wat vanjaar nuut in die openbare domein is.



VISUELE KUNS

Die fotograaf Robert Capa se The Falling Soldier (oorspronklik getiteld Loyalist Militiaman at the Moment of Death, Cerro Muriano, September 5, 1936) het nou openbare besit geword.

* Drie werke deur Salvador Dali; The Great Masturbator, The Accommodations of Desire en Illumined Pleasures; het ook hul kopieregbeskerming verloor.

* Edward Hopper se kunswerk Chop Suey (1929) waarvan die oorspronklike werk in 2018 vir US$92 milljoen verkoop is, se kopiereg het ook verstryk.

* Die Franse kunstenaar Henri Matisse, een van die leiers van die Fauvistiese-beweging in kuns, se werke val ook nou in die openbare domein.

* Die Mexikaanse kunstenaar Frida Kahlo se werke het ook kopieregbeskerming verloor.

Kahlo is veral bekend vir haar selfportrette en word erken as een van die kunstenaars wat deur die Chicano-beweging verhef is. Hierdie beweging verwerp strukturele rassisme en spoor die herlewing van kultuur aan.

Sy het meer bekend geword in die 1970’s toe die feministiese beweging bevraagteken het waarom kuns deur vroue en nie-Westerse kunstenaars nie deel was van die narratief in die kunsgeskiedenis nie.



MUSIEK

Die Amerikaanse jazzmusikant Duke Ellington se werke is ook nou in die openbare domein asook Fred Astaire se “The Way You Look Tonight”.

* Die liedjie “Singin’ in the Rain” van The Hollywood Music Box Revue, deur Arthur Freed en Nacio Herb Brown, se kopiereg het ook verstryk.



BOEKE

Louise Fitzhugh se kinderboek Harriet the Spy, sowel as Virginia Woolf se A Room of One’s Own het hul kopieregbeskerming verloor. In die boek gee Woolf haar mening oor vroue se gebrek aan vrye uitdrukking.

* Die Amerikaanse skrywer Ernest Hemingway se A Farewell to Arms, sowel as die Engelse vertaling van Erich Maria Remarque se All Quiet on the Western Front (oorspronklik in Duits gepubliseer onder die titel Im Westen nichts Neues) is ook nou in die publiek domein.

Laasgenoemde beskryf die fisieke en emosionele trauma tydens die Eerste Wêreldoorlog en is in 2022 verwerk tot ’n veelbekroonde rolprent onder dieselfde naam.

* Agatha Christie se Seven Dials Mystery is ook nou in die publieke domein.



UITVOERENDE KUNS

Alle operas deur die Italiaanse komponis en pianis Franco Alfano, insluitend sy bekendste, Cyrano de Bergerac (1936) en Risurrezione (1904), is nou in die publieke domein.

* Die 1924-teaterverwerking van Bram Stoker se Dracula het ook sy kopieregbeskerming verloor – hierdie verwerking is deur die dramaturg Hamilton Deane gedoen.



ARGITEKTUUR

Die argitektuur vir een van die bekendste geboue in die art deco-beweging, die Chrysler-gebou (ontwerp deur William Van Alen) in New York se kopiereg het verstryk.

* Nog ’n argitek wat hom tot die art deco-styl geleen het, Auguste Perret, se werke is nou ook in die openbare domein. Van sy bekendste werke sluit die Théâtre des Champs-Élysées in Parys in.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 27° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 35° Oshakati: 22° | 34° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 32° Omaruru: 18° | 34° Windhoek: 17° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 21° | 38° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 14° | 25° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 18° | 29° Maputo: 19° | 31° Windhoek: 17° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 17° | 30° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 21° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!