Die outobiografie van ’n skilderkunstenaar

Iréne-Mari van der Walt
Die Suid-Afrikaanse skilderkunstenaar Portchie kuier vandeesweek in Namibië vir die bekendstelling van sy outobiografie, Van Tweeling tot Trafalgar Square.

“Ek het gewag tot ek 60 jaar oud was om my outobiografie klaar te skryf, want ek het gedink dit gee my darem ’n bietjie kans om ’n paar mooi verhale op te teken,” sê hy.

“Ek dink dit is vir baie mense interessant om te weet hoe mens van niks af opbeweeg en dinge absoluut van voor af aanmekaar begin sit en na die potlode in jou boksie te kyk en te dink hoe jy daardie potlode kan gebruik sodat dit vir jou sin maak en ook vir ander,” vertel hy verder.

Portchie sê hy het met vars oë na ou herinneringe begin kyk toe hy sy outobiografie geskryf het.

“Jy kyk terug na dinge wat jy in jou jongdae aangepak het, dinge wat jy gehoop het op een of ander manier sou uitwerk, maar nie het nie – wat jy later besef vir die beste was. Hoe vir my gesê is dit is nie goed of sleg nie, dit is net wat dit is,” sê hy.

Portchie skilder al 34 jaar en het meer as 20 000 oorspronklike kunswerke en meer as ’n miljoen afdrukke in sy loopbaan verkoop en hy sê hy is dankbaar vir diegene wat hom op sy pad gehelp het.

“Dit was ’n baie lekker proses en het vir my duidelik gewys watter mense pointers in my lewe was en vir my riglyne gee vir nuwe rigtings in my lewe en hoe dit die koers van my lewe stelselmatig verander het. Dit het vir my duidelik gewys die wonderlike mense wat op my pad geplaas is, mense wat ’n positiewe rol gespeel het – dit was ’n spesiale ervaring,” sê hy.

Selfs met sy reusesukses as kunstenaar, ken Portchie se aanhangers en binnekring hom as iemand wat hom nie aan die tierlantyntjies van roem en rykdom steur nie.



DANKBAARHEID

“Ek glo sukses spruit uit dankbaarheid en ek is dankbaar dat ek wel kan doen waarvan ek hou, ek ’n lewe ??daaruit kan maak en ek goed daarmee kan doen, elke dag ’n mooi proses is om iets interessants te skep, en dat ek in die proses mense hopelik opgewonde maak.

“Geld kom en gaan, maar as jy kan lewe van dit wat jy verdien, is jy bevoorreg en het jy iets wat nie almal het nie,” sê hy.

Portchie sê hy het nog altyd aanklank gevind by ’n spesifieke Bybelverhaal.

“Ek het myself nog altyd gesien as die een met die twee talente. Ek het nog altyd gehou van die gelykenis van die talente in die Bybel en ek glo deur my talente te gebruik sal ek eer aan die Here bring vir dit wat hy my gegee het,” het hy sê.

Die Namibiese vrystelling van Van Tweeling tot Trafalgar Square vind vandag vanaf 17:30 by die St. Paul’s College se saal plaas.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer