Herfswind bring nog Woordfees-opwinding

Met die Herfshoofstuk wat in Aprilmaand tot ’n einde geloop het, kan Namibiërs en veral kultuurfoendies weer begin uitsien na die Lentehoofstuk van die Windhoek Woordfees wat op 16 November in die hoofstad afskop.

Die Woordfees is nege jaar gelede vir die eerste keer aangebied en is altyd ’n hoogtepunt vir Afrikaanse kuns- en kultuurliefhebbers.

“Ons wil Afrikaans vier en mense laat goed voel oor dít wat hulle vir Afrikaans doen,” het Chrisna Beuke-Muir, wat reeds sedert 2013 ’n hoofrol in die verwesenliking van die Woordfees speel, vroeër gesê.

Elizma Theron, bestuurder van Netwerk, sê hulle is baie opgewonde oor die volgende hoofstuk en voeg by daar is ’n opwindende program wat voorlê.

Amanda Strydom, die sangeres, liedjieskrywer, aktrise en soms-dramaturg, lewer op 16 November ’n vertoning getiteld Ongegrendel by die NG Kerk in Eros. Die Suid-Afrikaanse veteraanaktrise Sandra Prinsloo sal op 18 November by die Nasionale Teater (NTN) in die verhoogverwerking van Elsa Joubert se Spertyd te sien wees. Die immer gewilde alternatiewe Afrikaanse rockgroep Spoegwolf kom maak ook ’n draai in Namibië!

SPERTYD

Spertyd is in die grendeltyd onder die Aardklop-vaandel ontwikkel.

Na slegs hierdie een speelvak is Sandra Prinsloo benoem vir ‘n Fiëstas-toekenning as beste aktrise. Vanjaar is die produksie bekroon met die Fleur du Cap-toekenning vir die beste eenpersoonvertoning. Spertyd is ‘n reis deur die kontinent van die ouderdom: “My lewe is nou ’n doodloopstraat. My dogter sê: ‘Ma, mens bly nooit in ’n doodloopstraat nie. Jy draai om, ry terug en kry ’n nuwe koers.

“Dit klink baie dapper, maar ek is nie meer dapper nie.” So eerlik en onsentimenteel skryf die bekroonde Elsa Joubert oor die oudwordproses. Prinsloo volg haar vorige kragtige eenvrouvertonings (Kamphoer – die verhaal van Susan Nell en Oskar en die pienk tannie) op in hierdie werk wat inspireer, ontroer maar ook vertroos.

Joubert is op 14 Junie 2020 midde die Covid-pandemie oorlede. Kort voor haar afsterwe het sy die teksverwerking gelees, en was sy opgewonde oor Prinsloo se vertolking van haar lewensverhaal. Die karakter kyk op 95-jarige ouderdom terug op haar vol lewe, vanaf haar kinderjare, haar huwelik, tot waar sy tans as weduwee in ‘n aftreeoord woon. Die herinneringe daag bloot op, soos wat herinneringe maar doen. Talle vind aanklank by hierdie intieme introspektiewe verhaal met sy universele kwessies. Sy vertel oor die oudwordproses, waarmee elke mens en sy of haar gesin onvermydelik gekonfronteer word. Dit bied ‘n helder insig in hierdie merkwaardige skrywer se lewensbeskouing, en nooi ten slotte die gehoor uit om diep na te dink oor sy of haar bestaan.

Philip Rademeyer, wat die teksverwerking en regie behartig het, skryf: Die eerste lees van Spertyd het my diep geraak – nie net die insigte wat Elsa Joubert oor ‘n verskeidenheid onderwerpe lewer nie, maar veral die eerlike en weerlose manier waarmee sy met intieme temas soos oudword, die dood en verlies omgaan. Spertyd is meesleurend, beeldskoon, hartverskeurend en soms ook regtig snaaks. Ek het dadelik ingestem om deel te wees van die projek. Die temas en atmosfeer van die stuk pas goed by die tipe teater wat ek skep, en dis iets wat regtig my oë oopmaak oor dinge wat ek (as relatiewe jongmens) as vanselfsprekend aanvaar: beweeglikheid, geheue, die sintuie, kommunikasie. Om die projek te doen is ook ‘n kans om op my eie baie klein manier hulde te bring aan een van Suid-Afrika se grootste skrywers. Ek wou boonop baie graag met Sandra aan ‘n eenvroustuk werk. Om een-tot-een met haar te werk en sáám met haar lewe te bring aan die storie is ‘n wonderlike geleentheid. Verder wou ek myself as skrywer uitdaag. Een van die deurlopende temas van Spertyd is die waarde van medemenslikheid en deernis – dis ‘n gevoel wat ons tydens repetisies ervaar en verhoog toe wil bring!

ONGEGRENDEL

Amanda Strydom span met die pianis kragte saam om hierdie kragvertoning na die verhoog te bring.

Dié doyenne van die kabaretverhoog bring lig, lag en pleisters vir moeë pandemiesiele. Sy is verheug om vir die eerste keer sedert 2000 weer in Namibië op te tree.

Sy sing haar eie liedjies, asook die van Jacques Brel, Edith Piaf, Bette Midler en Sting. En ‘n hele paar verrassings. Strydom vier vanjaar 43 jaar in die wonderlike, waansinnige teaterbedryf waar sy aktief besig is as sanger, skrywer, aktrise en komponis. Sy is ook geliefd in Nederland waar haar musiek gereeld op die radio gespeel word en sy gereeld opgetree het voor die pestilensie ons planeet getref het.

Sy word begelei deur Rall, haar vaste pianis en musikale regisseur. Strydom is vereer met o.a die Erepenning van die S.A. Akademie vir Kuns en Wetenskap vir haar bydrae tot die kunste, die ATKV Prestige prys, die Kunste Onbeperk Legendeprys en die Innibos Legendeprys vir haar lewenslange bydrae tot die kunste.

Kaartjies sal vanaf 1 September via Webtickets beskikbaar wees, asook fisieke kaartjies by uitgesoekte verkoopspunte wat later aangekondig sal word. Hou die Windhoek Woordfees en Netwerk Namibië se sosialemediablaaie dop vir meer inligting en die program.

Meer besonderhede oor Spoegwolf se vertoning(s) sal binnekort beskikbaar wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!