JNDR sorg vir musiekgenot op Woordfees-program

Yandi Du Plessis
As deel van die jongste aflewering van die Windhoek Woordfees wat vanjaar van 3 tot 5 November by Droombos aan die buitewyke van die hoofstad aangebied word, kan Namibiërs uitsien na die Afrikaanse liedjeskrywer en musikant Jacques de Villiers, a.k.a. Joshua na die Reën, se optrede. Hy en sy band gaan feesgangers bekoor met ’n interessante kombinasie van kontemporêre klanke en instrumente.

Tien jaar ná “Lig op die Horison”, een van Joshua na die Reën se eerste groot treffers, is hy steeds besig om harte te verower met sy betekenisvolle musiek, unieke styl, diep lirieke en besonderse klank.

Hy het pas sy vierde album, Die Vallei, uitgereik en dit beloof om luisteraars weg te voer op ’n emosionele avontuur van selfondersoek en vernuwing.

In tipiese Joshua na die Reën-styl, is daar ’n baie spesiale formaat en boodskap agter sy nuutste projek, wat hy as volg beskryf:

“Kom voel hierdie oomblik saam met my... ons staan en kyk uit oor die vallei, dis die begin van ons staproete. Dit het baie gevat om hier te kom, niemand weet beter as jyself nie. Die afgelope tyd was daar iets binne jou wat jou saggies maar dringend geroep het om uiteindelik hier te staan, weg van die samelewing, weg van dit wat jou kop besig hou elke dag.

“Jy weet hoe min jy jouself toelaat om dit te ervaar, en nou is jy hier. Ek kyk in jou rigting, dis tyd om te begin. Ons stap saam af teen die hang van die berg. Ek ervaar hoe jou gemoed ligter raak, daar is niks soos die skoon lug en onbelemmerde gevoel in die atmosfeer van hierdie oomblik nie, die wind deur jou hare, die voëltjies en insekte, die stroom onder in die vallei.

“Jy wil vir altyd net hier wees, jy wil leef, jy wil jaarringe in oorvloed agter los. Jy wil in die oggend met die son wakker word, kruisbeen onder die seders op die oewer sit en net asem haal en die lewe inneem. Vir te lank was die normaal om nie te voel nie, om nie deel te voel van dit wat die Groot Gees van die Hemel en aarde vir ons gegee het nie. Jy raak stil, want jy weet nou dat dit maar nog altyd hier is vir jou, ’n gedagte weg.”

Hierdie vrystelling sal aanklank vind by ’n wye gehoor omdat dit ’n uiteenlopende kombinasie van lekkerluister-popklanke, rustiger meditatiewe snitte en selfs elemente van R&B en alternatiewe musiek bevat. Dit sluit ook samewerkings met verskeie ander kunstenaars, waaronder Karlien van Jaarsveld en die Tuks Camarata-koor, in.

Die Vallei bestaan uit 18 oorspronklike snitte uit sy eie pen, wat sorgvuldig deur Gideon Botes verwerk is tot ’n volmaakte eindproduk.

Hierdie album se aanslag is heelwat meer volwasse omdat hy baie meer lewenservaring het as tien jaar gelede, dis ietwat meer kommersieel en gaan verseker ’n groter gehoor bereik.

“Ek het besef hoe meer jou musiek oor die radio speel, hoe meer luisteraars bereik jy. Dis tog hoekom jy kuns pleeg, sodat dit mense se lewens kan verander,” verduidelik hy.

Omdat elke liewe liedjie uit ’n baie persoonlike plek kom, is dit vir hom onmoontlik om ’n gunsteling te kies. Hy verklap wel dat “Stroom en Rivier” en “Die Groot Gees van Hemel en Aarde” hom na aan die hart lê omdat dit in sy eie tuis-ateljee opgeneem is en klanke van sy kinders en voëltjies in die tuin vaagweg in die agtergrond gehoor kan word.

Hy wou met die album en laasgenoemde lied die boodskap oordra dat sy inspirasie vir alles wat hy aanpak in die lewe van God af kom.

“Ek leef met die oorheersende gevoel dat al is God en sy skepping hoé groot, hy het my en jou ook gemaak.”

“By My”, die eerste enkelsnitvrystelling en musiekvideo vanaf sy nuwe album, is geïnspireer deur ’n e-pos-versoek wat hy van ’n luisteraar af ontvang het om ’n liedjie te skryf vir die persoon se huweliksherdenking, nadat iets gebeur het om die vertroue binne daardie huwelik permanent te skend.

Dié snit wat op 15 September uitgereik is volg in die voetspore van vorige suksesvolle vrystellings soos “Soos Nou”, “Die Wêreld Binne My”, “Vir Altyd” en vele meer, wat ongelooflik goed ontvang is.

Joshua na die Reën het in 2014 naam gemaak met sy selfgetitelde debuutalbum wat talle toekennings gewen het. Sedertdien het hy al verskeie suksesvolle radiotreffers uitgereik en die verhoog gedeel met van die land se gewildste musikante. Hy is ook vanaf 2019 deel van die musiekbeweging, Musiek Soos Grond, saam met sy vriende en mede-musikante, Lizandra Winter, Len Muller, Kaleidoskoop, Leon Gropp en Liani Reynolds.

Hy is opreg lief vir sy gesin en vriende en geniet dit om tyd in die natuur deur te bring.

Verder is hy by verskeie opwindende projekte en samewerkings betrokke waaroor hy baie opgewonde is. Dit sluit in ’n hoofrol in die rolprent Reisigers wat volgende jaar verfilm word, ’n bewusmakingsveldtog oor die mens se verantwoordelikheid om die aarde op te pas en ’n reeks klere en toebehore saam met die handelsmerk NAVA.

Hy wil graag onthou word as iemand wat eg was, wat mense liefgehad het en dit gewys het. Sy hart is om bande te bou tussen die verskillende dele van die musiekbedryf, sodat almal kan saamwerk en mekaar se talent kan respekteer.

Met Die Vallei wil hy luisteraars kans gee om vir ’n oomblik te ontsnap van die werklikheid en hulle herinner waaroor die lewe regtig gaan.

“Ek hoop dat mense gaan voel hulle sal kan asemhaal wanneer hulle na die album luister sodat hulle kan kom na die vallei en weg van hulle besige lewe op die bergkruine. Mense het gedurende Covid-19 baie mure rondom hulle gebou en kan nie meer onthou waaroor die lewe regtig gaan nie en ek wil hulle herinner wat belangrik is,” sluit hy af.

Die Vallei sal vanaf 6 Oktober vanjaar op alle digitale stromingsplatforms beskikbaar wees.

JNDR tree op Saterdag 4 November om 20:00 by die Droombos Black Barn op. Kaartjies is teen N$250 beskikbaar via https://eticket.my.na/event/woordfees.

Hy sal ook op Vrydag 3 November by The Dome in Swakopmund optree sodat kusbewoners in dié musiekgenot kan deel. Kaartjies is ook teen N$250 aanlyn beskikbaar.

Hou die Windhoek Woordfees se Facebook- en webblad dop om op hoogte te bly van alle Woordfees-nuus.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!