Klanke van omgee vir die Namibiese kind

Die gewilde Suid-Afrikaanse sanger Adam Tas sluit op 20 en 21 Mei aan by Namibië se Vaughn Ahrens en Riaan Smit aan by die Sounds of Caring-konsert ten bate van die African Child Development Trust (ACDT).

Die ACDT het die verantwoordelikheid aangeneem om onderrigmateriaal landswyd beskikbaar te stel gedurende die Covid-19-inperking. Hierdie inisiatief het tot gevolg gehad dat 12 miljoen opvoedkundige boekies tussen 2020 en 2021 gedruk en landswyd versprei is.

Dié projek, wat in 2020 deur Namibia Media Holdings (NMH) van stapel gestuur is, is moontlik gemaak deur die ministerie van onderwys, kuns en kultuur in samewerking met Unicef, Bank Windhoek/Capricorn Foundation, die Namibia Community Trust en tegniese ondersteuning deur ’n toegewyde span onderwysers van ver­skeie skole in Windhoek.

Alhoewel hierdie projek as ’n noodreaksie op Covid-19 begin het, sal dit nou voortgaan om leerlinge en onderwysers parallel met aangesig tot aangesig klasse vir die volgende drie jaar by te staan.

Die ACDT is ’n niewinsgewende organisasie wat op die been gebring is om geld vir hierdie inisiatief in te samel.

Die ACDT se Sounds of Caring-musiekfees vind by Windhoek Hoër­skool (WHS) se Vegkop-stadion plaas. Kaartjies is aanlyn beskikbaar via etickets.my.na teen N$200 (vooraf) en N$250 by die hekke.

Hekke open op beide dae om 16:00 en die vertoning begin om 19:00.

Alle opbrengste gaan aan die ACDT.

DIE SANGERS

ADAM TAS

Die gewilde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Francois van der Merwe, beter bekend as Adam Tas, se diep rasperstem en lirieke pluk dikwels aan meer as net die kitaarsnare.

’n Terugslag in sy lewe het sy loopbaan in die rigting van die verhoog gestuur. Musiek was destyds nooit deel van sy toekomsplanne nie.

Adam Tas is ’n Pretorianer wat ná sy hoërskooldae ’n kursus in die joernalistiek gevolg het. Hy was ’n man vir die buitelewe en is selfs ’n gekwalifiseerde wildbewaarder. As jong man het hy ander drome gehad, onder meer om vir die Blou Bulle rugby te speel.

Toe het ’n fietsongeluk sy lewe verander. Sy beserings het hom weke lank bedlêend gehou. Om sy tyd te verwyl en hom besig te hou, het hy sy kitaar opgetel. Eers het hy geleer om kitaar te speel en dit het weer oorgegaan in die ontwikkeling van sy rasperstem.

Die volgende stap was om die vertonings van ander kunstenaars by te woon. Uiteindelik was die deurslag ’n optrede van Valiant Swart waar hy hom verluister het.

Van daardie oomblik het musiek Adam Tas se lewe geword.

Sy musiekloopbaan het begin met optredes by talle plaaslike kroeë in Hatfield en oraloor Suid-Afrika. Sy album My Memories in ’n Menthol, saamgestel uit liedjies wat hy saam met Kobus Koekoes geskryf het, het groot sukses behaal. In 2007 het hy in 24 uur by 41 lokale opgetree en selfs ’n vermelding in Guinness Book of Records verdien.

Hy het die Suid-Afrikaanse televisieprogram Wild en Wragtag aangebied en het in die rolprent Die spook van Uniondale verskyn.

Van sy gewildste liedjies sluit in “Die huis waar stilte woon”, “Want jy is boer”, “Man soos my pa” en “Sit Kêrels”.

In 2016 het hy ’n huldeblyk-album, ’n Tas vol Cash, vrygestel wat aan Johnny Cash opgedra is. Sedert 2003 het hy ’n aantal ateljee-albums vrygestel en is bekend vir sentimentele liedjies oor die plaaslewe in Suid-Afrika.

Sy liedjies kan geniet word met die wete dat dit geskryf is deur ’n individu wat ’n groot passie en liefde vir Afrikaanse musiek het.

RIAAN SMIT

Hoewel die blues- en folksanger Riaan Smit in Namibië gebore is, het hy die afgelope paar jaar meer bekendheid in Suid-Afrika en oorsee verwerf. Hy het egter in 2020 na sy moederland teruggekeer, en is sedertdien besig om homself van voor af as ’n Namibiese kunstenaar te vestig.

Riaan, wat al vir minstens 20 jaar sy sangdroom uitleef, het op 11 Maart sy jongste enkelsnit “If You’re Lonely” bekend gestel. Hy het in Maart vanjaar ’n mini-toer deur die buurland onderneem wat in Stellenbosch afgeskop het.

Die sanger glo dat hy, ná twee jaar van inperkings en onsekerheid wat deur die Covid-19-pandemie meegebring is, weer ’n risiko moet neem.

“Ek het besluit dis tyd om op te hou om die onbekende te vrees en my lewe terug te neem. Reis en toer was ’n groot deel van my lewe en ek kan nie meer in vrees leef nie.”

Riaan wil homself nie tot ’n genre beperk nie, maar word die meeste met folk- en “gypsy”-musiek geassosieer en bekend daarvoor dat hy sy alles op die verhoog gee, hetsy alleen of saam met sy band Crimson House.

Hy beplan om terug te keer na Durban en Pretoria, asook om na Europa en die Verenigde State te reis sodra die wêreld weer oopgaan.

“Ek is lief vir Namibië en wil bly, maar ek moet toer en reis, want dis wat my inspireer om te skryf.”

VAUGHN AHRENS

Die immergewilde Vaughn Ahrens is teen dié tyd reeds ’n bekende gesig by plaaslike kunstefeeste en groot geleenthede. “Vandat ek vir die eerste keer ’n kitaar opgetel het, kon ek myself niks anders sien doen nie,” vertel die sanger en liedjieskrywer, wat bekend is vir sy hartklanke en unieke styl.

Die jong musikant, wat oorspronk­lik van die Namibiese kus af kom, het die plaaslike musiektoneel met ’n knal betree. Sy debuutliedjie, “In The Clear”, is in 2017 vrygestel en het die topvyfposisie op Namibië se iTunes bereik.

Sy opvolg-enkelsnit “Smoke Rings” het kort daarna gevolg en ook boaan die plaaslike trefferlyste geboer.

Hy kan verskeie instrumente bespeel en vermaak gehore óf alleen, óf saam met sy band.

Sy debuut-kortalbum is op 1 Desember 2017 vrygestel en die maand daarna sy eerste musiekvideo, waarin die plaaslike Topnaar-gemeenskap te sien was.

Vaughn het sy debuutalbum aan die einde van 2018 vrygestel, wat hom sy eerste toekenning by die 2019 NAMA’s besorg het; waarna hy en sy band deur Duitsland en Nederland getoer het. Sy volgende album, Here Lies Vaughn Ahrens, sien vanjaar die lig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!