Momo se EP 'Die Woud' word op 22 Februarie vrygestel. Foto verskaf
Momo se EP 'Die Woud' word op 22 Februarie vrygestel. Foto verskaf

Momo stel eersdaags eerste EP bekend

Iréne-Mari van der Walt
Die musikant Monique Maritz, beter bekend as Momo, beklemtoon in haar nuwe EP, wat op 22 Februarie bekend gestel word, die belangrikheid daarvan om nie net die natuur te herontdek nie, maar ook jouself.

Die titelsnit van die EP “Die Woud” is ’n folk-blues-liedjie oor vernietiging en hebsug, maar ook oor hoop.

Hierdie versameling liedjies wat gevul is met tema’s van natuur, selfrefleksie en veerkragtigheid, is saam met die musiekvervaardiger Sasha Dawe opgeneem.

Die EP bevat onder meer ’n wals getiteld “Under a Tree” wat die luisteraar daaraan herinner om die meeste van die lewe te maak in die goeie en die slegte tye.

Die liedjie “Sonskyn Kind” nooi luisteraars om self-introspeksie te doen vir vrede en in “Golden Waves” bring Momo hulde aan die Namibiese woestyn.

Hoewel Momo van kleins af klavier en sang doen, het die gogga haar gebyt toe sy in 2019 ’n blou ukelele gekoop het.

’n Gesprek met haar pa voor sy dood het haar aangemoedig om haar Afrikaanse afkoms deur musiek te vier; dit het aanleiding gegee tot “Die Woud”.

Alhoewel dit Momo se eerste EP is, is sy geen vreemdeling in Namibië se musiekkringe nie.

Ná die bekendstelling van haar eerste enkelsnit “Wonderful Life” in 2023, het sy saam met onder andere die Namibiese musikant gewerk wat bekend is vir sy “boesman-blues”, Sagarias Tsam, en Nautilus Studios. Sy het ook oraloor Namibië, Suid-Afrika en Indië opgetree.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer