Namibiese visuele fynkuns (Deel 6)

Stem vir kuns
Pedro Vorster
Namibiese visuele fynkuns (Deel 6)



In die vroeë opgewondenheid van ’n nuwe politieke bestel bly Joseph Madisia, Trudi Dicks, Herklaas Viljoen en Francois de Necker kundig voortseil – versterk deur die winde van verandering.

Hulle word gevolg deur die nuwe veelsydige kreatiewe geslag wat bestaan uit Alpheus Mvula (1972), Andrew van Wyk (1963), Erich Schnack, Imke Rust (1975), Peter Muhalokanje (1964), Papa Ndasuunje Shikongeni (1971) en Philipus Sheehama (1974),

Waar die wurgende apartheidsbeleid kunstenaars gepynig het om hartverskeurende werke voort te bring, skep die post-apartheid-era ’n feestelike vakuum. Die sosiopolitieke messe teen die apartheidsregime is skielik stomp. Die hout AK-47’s is oornag opgekap vir vuurmaakhout. Diep bevrugting droog op. As alles geldig word, tree goedkoop inflasie in.

Maar oornag ontplof die visuele kunswerke weer met gehaltewerke!

Wel, nie regtig nie. Gesigkoop portrette verskyn waarin, in grade van onbevoegdheid, goedige politieke leiers opgehemel word. Hierin was daar geen sprake van ’n indiepteontleding van ’n politieke leier nie.



GESOEK: STAM EGTE NAMIBIëRS

Vir ’n genadige kort tyd dans Afrika-kitsch voorbok en oortuig net enkele kamerade wat vars uit hul hangkaste gekruip het, dat dit werklik betekenisvolle kuns is.

’n Ander tradisie word voorgestel, die van die stam egte Namibiese kunstenaar wat willens en wetens samehorigheid moet skep. Madisia pas sy tekenaarskap toe en produseer afdrukke met “Township”-kultuurverwysings. Tradisie met al sy eenrigting Hydra-tirannie wil alweer sy kop uitsteek.

Demokrasie kan net vir solank gevier word voordat ’n nugtere babelaas intree.

Van die kunsgalerye het kinderagtig gevrees dat die weiering om sekere kunstenaars van die heersende party se pogings uit te stal, negatief op hul patriotisme sal reflekteer. Gehaltekuns

ly onder hierdie wanvoorstelling.

Die kunswerk moet self suiwer praat en politiek moet nie oorheersende waarde toevoeg nie. Waardering hoef nie demokraties te wees nie. ’n Oorspronklike skepping staan op eie integriteit, kan ’n kritiese ontleding oorleef en beskik oor daardie ontasbare kwaliteit van ewige jeug. In die proses van kritiek behoort patriotisme slegs ’n druppel in die oseaan te wees.

Net ’n handjievol beeldhouers is tydens die eeuwending-tydperk aktief. Dörte Berner, Hercules Viljoen, Erich Schnack en Mvula stal hul werke uit in seepsteen, hout, gevonde materiale en gemengde media.

Die Frans-Namibiese Kultuursentrum in Windhoek kry ’n abstrakte beeldhouwerk van metaal in sy tuin, geskep deur Viljoen.

Berner konsentreer op die mensfiguur, soms met ’n klassieke godsdienstige strekking. In sy vormgewing is Mvula nader aan haar as aan Viljoen of Schnack wat albei wyd eksperimenteer met allerlei media en konsepte.

Die vindingryke Trudi Dicks groei van grafiese kuns tot omgewingskunstenaar. Sy word gedryf deur projekte wat manifesteer in publieke kunsinstallasies. Haar een eksperimentele werk het in 2002 op Windhoek se Avisdam rondgedryf terwyl ’n jonger vrou, ’n multidissiplinêre kunstenaar, Imke Rust, die eerste biënnale-pryswenner was met haar installasie in die hoofgalery van die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN).

Kortstondig vind Jost Kirsten (1977) ’n tuiste in die gebied van gevonde items wat hy ’n ander identiteit gee deur minimale veranderinge aan die voorwerp te bring. Slim jukstapolering van die onderwerp en medium bewys die verbreking van benadering tot die werk self.

Die jonger geslag kunstenaars het nou heeltemal wegbeweeg van die oorheersende landskap- en dieretemas. Ekstreme innerlike visioene kom na vore en min ontsag vir puriteinse mediums word vertoon. Nicky Marais (1962), dogter van Christene Marais, gebruik die onvergewende emaljeverf vrylik in vormlose abstrakte werke. Haar styl verskil canyon-wyd van haar moeder se werke.

Een positiewe bevrydingsaspek in die nuwe vrye bestel was dat ’n vrugbare onsekerheid

ontstaan wat vrae begin vra het oor verskeie kunsopvattings soos eurosentrisme en Afrika-kitsch.

Lees meer oor dié debat in deel 7.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer