• Tuisblad
  • Kollig
  • Nuwe geskiedkundige roman uit Zirk van den Berg se pen

Nuwe geskiedkundige roman uit Zirk van den Berg se pen

Destydse Kolmanskop weer nuut
Die bekroonde skrywer Zirk van den Berg se nuutste boek, Hemel en Aarde en Ons, is nou te koop.
Iréne-Mari van der Walt
“Die plek het my aangegryp. Dis tegelyk die mooiste en lelikste dorp waar ek al ooit was – dis moeilik om te besluit! Maar vervelig is dit beslis nie. Ek het dadelik gedink: hier moet ek ’n storie laat afspeel.”

Só vertel die bekroonde skrywer Zirk van den Berg oor sy besoek in 2019 aan Lüderitz – wat as die eerste inspirasie gedien het vir die milieu waarin sy nuwe boek Hemel en Aarde en Ons afspeel.

Die boek volg die dokter Alexandra Stackelberg, kort voor die Eerste Wêreldoorlog – in ’n tyd toe ’n vrouedokter buitegewoon was.

Sy hoop om met ’n nuwerwetse uitvindsel gesondheidsorg te verbeter, maar besef dat haar doelwitte nie met dié van die mynbaas vereenselwig kan word nie.

“Ek het tydens my navorsing vir my vorige Duitswes-boeke raakgelees dat daar in 1912 ’n vroulike dokter in Namibië was, in ’n tyd toe skaars enige vroue die beroep beoefen het,” vertel die skrywer van die vrou agter sy hoofkarakter.

Van den Berg vertel dat hy die Kolmanskop-omgewing, die unieke vrouedokter en Namibië se diamantgeskiedenis bymekaar wou bring en dus het Hemel en Aarde en Ons sy begin gevind.

“Toe roer ek die drie goed saam en dit gee my toe kans om te skryf oor die soeke na die waarheid, veral as jy in die los sand van jou geheue rondkrap agter diamante aan,” sê hy.

Van den Berg het in 2022 vir ’n week lank op Lüderitz gaan kuier om die omgewing beter te leer ken.

“My grootste struikelblok was dat ek die omgewing waar die boek afspeel beter moes leer ken. Ek wou weet hoe die strand onder jou voete voel, wat jy van Kolmanskop se rif af sien, hoe die wind swiep... in kort, hoe dit vóél om daar te wees. Dis dinge wat nie in boeke te leer is nie. Dit was vir my belangrik om die omgewing oortuigend uit te beeld,” sê hy.

Hy en sy suster het tydens hul besoek verskeie kere na Kolmanskop gegaan en het ’n dagrit na Pomona en Bogenfels onderneem.

“Al speel die boek grootliks op Kolmanskop af, is die voorbladfoto een wat ek by Pomona geneem het,” vertel van den Berg.

Sy gasvrou op Lüderitz, Fabienne Loos, was gelukkig ook ’n gids by Kolmanskop en kon meer agtergrond verskaf.

“Op die ou end het ek toe nie veel van die navorsing in die boek gesit nie – dit was belangriker dat dit in my kop was, om te gebruik soos nodig. Die geskiedenis is bloot die agtergrond waarteen my storie afspeel,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!