• Tuisblad
  • Kollig
  • Resensie: ‘Skeleton Coast’ ’n goue les vir Namiwood
Foto verskaf
Foto verskaf

Resensie: ‘Skeleton Coast’ ’n goue les vir Namiwood

Iréne-Mari van der Walt
Elke keer as ’n plaaslike fliek vir oulaas in ons rolprentteaters draai, verloor ’n engel sy vlerke. Dis nie hoe die gesegde gaan nie, maar dit is hoe dit sou wees as ek dit uitgedink het.

Alhoewel Mondjila Studios se eerste filmprojek, Skeleton Coast, nie volmaak is nie, bied dit ’n blik op dit waartoe ons plaaslike filmbedryf in staat kan wees.

Skeleton Coast verdien ’n pluimpie omdat die fliek Namibiërs se minagting vir plaaslike rolprente tot sy voordeel gebruik en jou dus eintlik verras met die kinkel in sy storie aan die einde.

Dit is egter nie die fliek se grootste sukses nie. Skeleton Coast se grootste sukses spruit uit die kinematografie wat herinner aan iets wat Hollywood gedoen het.

Die vermenging van verskeie Afrika-aksente laat egter nie die kyker vergeet dat dit ’n Afrika-rolprent is nie. Dit is egter juis hierdie detail wat dit makliker maak om jou Namibiese oogpunt opsy te sit.

Vorige flieks wat in Namibië geskiet is, het Namibiërs soms verwar weens vinnige spronge tussen plekke wat ons herken en weet nie naby mekaar is nie.

Die vermenging van aksente in hierdie fliek laat Namibiërs toe om die landskappe en die karakters as vreemdelinge te ervaar – iets wat ons ongelukkig as die norm aanvaar het weens die sukses van Hollywood-flieks.

Waar die aksente Namibiërs kan help om nie kop te verloor nie, sorg die volgorde waarin die storie aan die begin vertel word vir ietwat verwarring.

My wenk aan jou: Lerato is dood. As jy hom lewend sien, is dit die verlede tyd. Nou is jy die verwarring gespaar.

Skeleton Coast bied nietemin ’n goeie bloudruk vir die plaaslike filmbedryf om van te werk om kommersiële sukses te behaal.

Namibië bied al vir jare asemrowende rolprente en daar is reeds ’n paar Namibiese rolprente waaruit Skeleton Coast ’n paar lesse kan leer, maar totdat gehore kaartjies begin koop om plaaslike rolprente te gaan kyk, sal hierdie fantastiese rolprente ’n geheim tussen ons bly.

Dit is egter sinneloos om te verwag dat ’n Afrika-rolprent jou ooit ’n Marvel-ervaring sal bied. Die lekkerte van plaaslike rolprente is dat hulle ’n vars briesie is tussen al die stereotipiese Hollywood-stories wat ons al dekades lank oor en oor op ons skerms sien.

As jy moeg daarvoor is om dieselfde Hollywood-draaiboek te herkou en dalk oor ’n paar jaar wil terugkyk om te sien hoe die Namibiese filmbedryf gegroei het, het jy vandag nog kans om Skeleton Coast in die teaters te sien.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer