Toerisme Ekspo is terug!

Yandi Du Plessis
Die Toerisme Ekspo (TE), voorheen bekend as die Namibië Toerisme Ekspo (NTE), is terug ná ’n jaar se afwesigheid en word vanjaar vanaf 3 tot 5 November by die SKW-sportgronde in Olympia aangebied.

Dié drie dae van uitstallings en interaksie tussen rolspelers in die plaaslike sowel as die streek- en internasionale toerismebedryf, het ten doel om herlewing mee te bring in die bedryf wat erg deur die Covid-19-pandemie geknou is en steeds ’n herstelpad probeer navigeer.

Die inisiatief word deur die mediagroep Namibia Media Holdings (NMH) aangebied en op groot skaal deur FNB Namibia en Namibia Breweries Limited (NBL) ondersteun.

As deel van hul bydraes, finansier hierdie twee maatskappye “Tourism Cash-Back”-kontantbewyse ten bedrae van N$250 000.

Deur hierdie vennootskap is altesame N$250 000 geoormerk om in “Tourism Cash-Back”-kontantbewyse belê te word wat ekspobesoekers as bewyse ter waarde van N$1 000 elk vir kontant kan inwissel as hulle bespreek en betaal het vir verblyf en aktiwiteite wat deur die uitstallers by die ekspo aangebied word – dikwels reeds as deel van ’n spesiale aanbieding.

Die enigste vereiste is dat hierdie koopbewyse gedurende die drie dae van die ekspo ingeruil móét word.

Die TE sal, afgesien van die koopbewyse, deur middel van verskeie mediaplatforms, kompetisies en sekondêre inisiatiewe aanbied, soos die Toeris van die Jaar-kompetisie – wat op 30 September gesluit het. Die 12 finalis-paartjies in Republikein se Bruidspaar van die Jaar-kompetisie sal ook uiteindelik op 5 November uitvind wie die land en beoordelaars se harte gesteel het.

Daarbenewens sal die Namibiese en Suid-Afrikaanse kunstenaars Big Ben, Alinda Lu’Mar, Nostalgie, Willem Botha en GoodLuck besoekers oor dié drie dae vermaak en sorg vir ’n energieke atmosfeer by dié spesiale geleentheid.



DIE KUNSTENAARS:

BIG BEN

Venaune Ben Kandukira, beter bekend as Big Ben, is ‘n gesoute Namibiese sanger en kitaar- en saksofoonspeler.

Nadat hy in 2001 sy eerste album vrygestel het, het Big Ben sy musiekstyl gebaseer rondom Afro-pop, Afrobeat en gekombineerde genres met ‘n sterk teenwoordigheid van stamritmes, melodieë en inheemse tale. Behalwe dat hy op die verhoog by groot musiekgeleenthede en feeste in Namibië verskyn het, het Big Ben ook al in Europa opgetree.

Sy musiek is al as “ware Namibiese klank” beskryf en hy word deur talle beskou as een van Namibië se topmusikante met ‘n dinamiese verhoogpersoonlikheid. Big Ben het tot dusver sewe albums uitgereik.

Sy passie vir musiek het vroeg posgevat en hy het reeds op agtjarige ouderdom geleer om ‘n tradisionele viersnaar-kitaar te speel, wat hy ontvang het van ‘n San-man wat by sy familie se opstal gewerk het. Hy het later by die musiekdepartement van die Sekondêre Skool Swakopmund met ‘n moderne sessnaar-kitaar kennis gemaak.

In 1997 het hy na Windhoek verhuis om sy droom van ‘n meer voltydse musiekloopbaan te volg. Hy het by die Bricks Community Theatre-projek, ‘n gemeenskapsteatergroep in Windhoek, aangesluit. Gedurende hierdie tyd het hy die klawerbord vir 'n disko-groep genaamd Splendid gespeel terwyl hy aan sy eie musiek gewerk het.

Don’t Bother, sy eerste album, het bestaan uit liedjies in beide Otjiherero, sy moedertaal, en Engels. Mense het meer kennis van Big Ben geneem ná die vrystelling van sy tweede album Moro Moro – met sy eerste trefferliedjie, ook getiteld “Moro Moro” – in 2008.

In 2013 het hy die toekenning vir beste jazz/instrumentele liedjie by die Namibiese Musiektoekennings (Nama’s) gewen. Dieselfde jaar het Big Ben die tweede plek behaal in die Nasionale Teater (NTN) se Last Band Standing-kompetisie.

Sy album Back to the Basics het vir Big Ben vier benoemings en twee toekennings by die 2016 Nama’s in die sak gebring. Hy is onder meer aangewys as manlike kunstenaar van die jaar. Die snit “Ovombo”, ‘n direkte interpretasie van Omuhiva (die tradisionele musiekstyl van die Ovaherero-mense), het gewen in die kategorie vir beste tradisionele liedjie. Dié album is eers in Manchester in die Verenigde Koninkryk (VK) bekend gestel voordat dit later dieselfde jaar in Namibië vrygestel is.



ALINDA LU’MAR

Alinda Lu’Mar is ‘n gebore Suid-Afrikaner, maar het in Namibië in die Gobabis-omgewing grootgeword en verwys na haarself as ‘n regte “plaaskind”.

Sy is ‘n gereelde kunstenaar by groot feeste en kunstenaarsroetes in Namibië, en het oor die jare al verskeie gesogte toekennings in beide die musiek- en skoonheidsbedryf ingepalm.

Alinda is die eienaar en stigter van die gewilde Voice of Namibia-sangkompetisie en is verlede jaar as die Namibiese handelsmerk-ambassadeur vir die nuwe Afrikaanse aanlynstromingsplatform NET Afrikaans aangewys.

Alinda se eerste album, Namibland, is mengelmoes van verskillende genres. Countrymusiek bly egter haar eerste liefde en passie. Haar liefde vir Namibië word duidelik gevoel in haar passievolle uitvoering van die titelsnit “Namibland” wanneer sy sê: “My hart het rus gevind in hierdie mooiste land van my.”

Nadat sy gematrikuleer het, het sy klassieke sang aan die Kollege van die Kunste (Cota) gestudeer. In die vroeë 90's het sy na Suid-Afrika teruggekeer waar sy verdere studies in die musiekbedryf onderneem het.

By die Namibiese Eisteddfod in 2009 het Alinda verskeie trofeë verower en is ook as algehele wenner in haar kategorie aangewys.

In 2010 het sy vyf goue medaljes, een silwer, asook die algehele trofee-toekenning in haar kategorie by die South African Association of Talent, Modelling and Entertainment gewen. In 2009 is Alinda as Mev. Namibië gekroon.

Vanjaar sal haar eerste optrede by die Toerisme Ekspo wees.



GOODLUCK

GoodLuck is ‘n bekroonde elektriese band van Kaapstad wat al sukses op die trefferlyste gesien het en wie se musiek wêreldwyd aanklank vind.

Die trio wat bestaan uit Ben Peters (musiekvervaardiger en tromspeler), Juliet Harding (liedjieskrywer en sanger) en Tim Welsh (saksofoon- en klawerbordspeler) het gegroei tot een van Suid-Afrika se grootste elektro-groepe wat die internasionale musiektoneel aan die gons het.

Die GoodLuck-klank pas mooi tussen die wêrelde van elektroniese pop en dansmusiek, en gebruik subtiele invloede van genres so uiteenlopend soos afro-house en jazz.

Hul immerveranderlike, genre-buigende styl is die produk van die groep se diverse musieksmaak en agtergronde. Daardie dinamiek is alles deel van GoodLuck se etos: Wanneer drie musikante bymekaarkom om te skep, is daar drie perspektiewe, drie ideologieë en drie agendas om te balanseer.

Terwyl die groep se klank in hul Suid-Afrikaanse wortels gegrond is, met die ritmes van Afrobeat, Afro-house, tradisionele musiek en Afrika-tromme wat in hul liedjies voorkom, word GoodLuck se styl gedefinieer deur moderne elektro-klanke.

Die ateljee is waar die groep iets besonder skep, maar die verhoog is waar dit alles lewe kry. GoodLuck se uitverkoopte vertonings wat hulle met groot name soos Groove Armada, Basement Jaxx, Pet Shop Boys, Paul Oakenfold en Lost Frequencies tot Robin Schulz en die pop-ikoon Pharrell Williams gedeel het, het die groep deur Europa, Asië, Afrika en die VK en oor wêreldverhoë geneem.

Sedert GoodLuck die eerste keer in 2011 op die toneel verskyn het, boer hulle op die trefferlyste in Suid-Afrika, met hul internasionale sterstatus wat met elke nuwe vrystelling groei. Die groep se eerste snit wat internasionaal vrygestel is, “Back in the Day”, het golwe op Spotify gemaak. Maar dit was hul liedjie “I've Been Thinking About You” wat ‘n gesertifiseerde internasionale treffer geword het. Dié snit het nommer een op radiotrefferlyste oraloor Suid-Afrika bereik.

Hul onlangse enkelsnit “Be Yourself” – vrygestel onder die groep se eie platemaatskappy Get Lucky Records – is op radiostasies oraloor Europa gespeel en het op talle se Spotify-, Deezer- en Apple Music-speellyste gepronk.

In geheel het GoodLuck verskeie indrukwekkende mylpale in hulle leeftyd as band bereik wat die volgende insluit: 11 nommereenradiotreffers in Suid-Afrika; optredes oor nasionale en internasionale media en TV-stasies; gesertifiseerde iTunes-treffers in Europa en meer as 500 optredes wêreldwyd. Hulle het ook reuse-stroomgetalle behaal; hul liedjies is al meer as 35 miljoen keer op Spotify geluister en hulle spog met meer as 12 miljoen trefslae op YouTube.



WILLEM BOTHA

Suid-Afrika se Willem Botha is ‘n gebore musikant en is al vandat hy kan onthou versot op sing.

“Ek het van kleins af ’n groot liefde gehad vir musiek. Albei my oupas en oumas was vreeslik musikaal en baie lief vir kuns,” vertel hy.

Alhoewel hy reeds vandat hy 17 is professioneel besig is met musiek, het hy eers in 2006 regtig begin naam maak toe hy tweede plek behaal het in die eerste Afrikaanse Idols-kompetisie. Daarna het dit sy voltydse beroep en fokus geword. Hy het in 2013 geskiedenis gemaak, in Europa, toe hy die eerste Afrikaanse kunstenaar was wat deelgeneem het aan die merkwaardige Eurovision Song Contest. Hy was deel van die span van Belarus en hulle het deurgedring tot in die finaal. Meer as ’n 100 miljoen kykers het die finaal in 44 lande gevolg.

Hy het ook reeds solo opgetree in onder meer België, Nederland, Luxemburg, Swede en Dubai.

Buiten vir sy oorsese bedrywighede, beskou Willem verskeie suksesse in sy tuisland as van die hoogtepunte in sy loopbaan.

Hy het natuurlik ook al die verhoog gedeel met van Suid-Afrika se grootste kunstenaars by van die grootste feeste soos die KKNK, Aardklop en Innibos en groot musiekkonserte soos die Huisgenoot Skouspel.

Hy vier vanjaar sy 16de jaar in die bedryf en sedert Idols het hy al diep spore getrap as sanger, akteur, TV-aanbieder en deesdae ook met sy fotografie en grimering.

Einde 2020 het hy kragte saam met die gewilde internasionale grimeringsreeks MUD saamgespan om meesterklasse in grimering in Suid-Afrika, sowel as ‘n paar in Namibië, aan te bied.



NOSTALGIE

Dié groep is ‘n nuwe gesig op die Namibiese musiektoneel en beskryf hulself as ‘n paar musikante wat musiek van die ouderjare laat herleef en elke oomblik daarvan geniet. “Ons speel die akkoorde wat jou laat verlang na die ou dae,” vertel hulle.

Nostalgie bestaan uit Rias Oberholzer, Chris de Jager, Wayne van der Linde, Willie Coetzee en Juan Viljoen.

Hulle het vanjaar reeds op groot saamtrekke soos die Gobabis Skou en Outjo Wildsfees gespeel en sukkel nooit om jonk en oud na die dansbaan te laat stroom nie. En ekspogangers kan dieselfde van hul optrede by die TE verwag.



Alle foto's verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!