Trevor se eerbetoon aan Moeder Aarde

Uitstalling open Donderdag
In sy beeldhouwerke kombineer die kunstenaar metaal, hout en klip wat alles noukeurig versamel word – en altyd met respek.
Yandi Du Plessis
Die gesoute kunstenaar Trevor Nott se nuwe uitstalling van beeldhouwerke open eerskomende Donderdag by die Bellhaus Atelier & Galerie.

Homage to Earth is 'n spesiale solo-uitstalling van “hout, klip, metaal, dankbaarheid en respek” en is 'n weerspieëling van die psige van die kunstenaar.

"Wat die aarde regkry om volhoubaar in 'n rou vorm beskikbaar te stel, kan in iets heel anders omskep word. Mense kan op baie vlakke by hierdie transformasie aanklank vind," is Trevor se interpretasie van 'n filosofie waaraan hy diep glo.

Trevor Nott is 'n natuurliefhebber en natuurbewaarder, 'n selfopgeleide argitek en ontwerper, 'n visioenêre denker en laaste maar nie die minste 'n kunstenaar – hoewel hy homself eerder as ’n “skepper” sou beskryf.

Trevor het ’n studierigting in plant-ekologie gevolg nadat 'n vriend van Botswana hom aan die bos voorgestel het. In 1982 het hy 'n pos as plant-ekoloog by Etosha en in noordelike Namibië aanvaar. Hier is waar sy liefdesverhouding met die Kaokoveld en Damaraland begin het.

Etosha is ook waar sy kreatiewe loopbaan nie-amptelik begin het – waar hy stadigaan ’n skepper geword het en nooit 'n kunstenaar nie – volgens hom. Ná tien jaar se werk in die wetenskappe wou hy die vrye lewe hê wat net kuns kan bied. Hy het 'n geloofsprong geneem en na Omaruru verhuis, waar hy vandag nog woon.

In Omaruru het sy kreatiewe loopbaan 'n beduidende wending geneem – hy het begin om meubels te maak van spoorwegdwarrels en afvalhout – ’n kunsvorm wat in die 1980's deur niemand anders in Namibië beoefen is nie.

“Ek kry 'n idee, en ek dink aan hoe ek dit gaan uitbeeld. Ek skep ’n konsep en dan maak ek dit,” sê hy. Soms maak hy ook net iets omdat dit werk. Die proses is nooit dieselfde nie.

In sy beeldhouwerke kombineer Trevor metaal, hout en klip wat alles noukeurig versamel word – en altyd met respek.

“Circle of Life” byvoorbeeld, verreweg die mees betekenisvolle en opwindende stuk in die uitstalling, is gemaak van basaltklip en metaal. Die beeldhouwerk van 2,20 m hoog en 1,40 m breed het 'n sirkelvorm en binne sy vorm is daar ses enkelringe wat elk gedraai kan word. Die beeldhouwerk is driedimensioneel op so 'n manier dat wie ook al daarna kyk die enkele ringe kan posisioneer op enige manier wat hy/sy wil. Dit is interaktiewe kunswerk. Met hierdie stuk wil die kunstenaar wys hoe die lewenskring onvoorspelbaar en voortdurend verander.

Trevor gebruik nooit hout van 'n lewende boom nie.

"Ek glo wanneer 'n natuurlike hulpbron gebruik word om 'n stuk te skep, moet die resultaat meer betekenisvol wees as wat dit in sy natuurlike toestand is. Hout wat daar buite in die woestyn lê, is pragtig waar dit is – om die waarheid te sê, daar kan nie ’n beter galery wees nie.”

Die klippe wat hy gebruik, voeg tekstuur by die beeldhouwerke en selfs hulle word met sorg gekies.

Trevor erf sy kreatiwiteit by sy ma, wat self ’n kunstenaar was wat skilderye en beeldhouwerke van hout, skrootyster en seepsteen gemaak het en dit in galerye uitgestal het. Soos sy ma, wanneer Trevor 'n projek aanpak, raak hy heeltemal verdiep in die proses. Hy raak weg in sy eie wêreld in en fokus geheel en al op die taak op hande. Dit gee hom vrede, vreugde en 'n diep gevoel van vervulling. Sy werk is eenvoudig en abstrak en geïnspireer deur kuns uit Afrika, veral Zimbabwe, Zambië, Tanzanië en Kenia. As hy terugkyk na sy vorige werke, kan hy sien dat die voorwerpe dikwels gebeure in sy lewe of kwessies waarmee hy gekonfronteer is, weerspieël.

Hy is onlangs met 'n lewensgevaarlike siekte gediagnoseer en het die groot stap geneem om vir die eerste keer in sy lewe sy kuns in 'n galery uit te stal.

Die werke in hierdie uitstalling weerspieël dus soms sy siekte maar is ook idees wat al lank in sy gedagtes was maar nooit uitgevoer is nie. Deur sy werk kon hy alles vergeet, en dit was sy manier om sy gesondheidsuitdagings die hoof te bied.

Met hierdie uitstalling bring die kunstenaar hulde en spreek dankbaarheid uit teenoor die natuur en die geskenke wat dit gee wat miljoene jare in wording was. Trevor beskryf sy ervarings in die woestyn as: “Wanneer jy deur die woestyn reis, doen dit iets aan jou – dit is 'n verootmoedigende ervaring.”

Die Homage to Earth-uitstalling kan tot 25 Maart besigtig word. Donderdagaand se openingsgeleentheid kan vanaf 18:00 vir 18:30 bygewoon word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!