Tygerberg Kinderkoor reg om Namibië te bekoor

Die wêreldbekende Tygerberg Kinderkoor besoek Namibië in Oktober.

Hulle tree op 4 Oktober saam met die Windhoek Children’s Voices by die Eros NG Kerk op.

Die konsert beloof om een van die jaar se musiekhoogtepunte te wees en dit sal ’n optrede wees wat koorliefhebbers nie mag misloop nie.

Die Tygerberg Kinderkoor beklee tans die vierde plek op die wêreldranglys van interkultuur vir kinderkore asook die algehele vierde plek.

Die koor vier vanjaar hulle 50ste bestaansjaar. Karina Erasmus het in 2019 as dirigent by Hendrik D Loock oorgeneem ná sy aftrede.

Die koor tree gereeld met staande ovasies op en is een van Suid-Afrika se trotse uitvoerprodukte. Die koor het verskeie belangrike internasionale koorkompetisies gewen en is bekend vir hulle ongeëwenaarde legato klank, volwasse klank, musikale krag en dinamiese interpretasie van uiters moeilike komposisies.

In Julie 2010 is die koor as wêreldkampioen gekroon en het hulle goue medaljes ontvang in die folklore- en gewyde musiekkategorieë tydens die sesde Wêreldkoorspele in Shaoxing in China. In 2012 was die koor tweede en het hulle goud gewen in die kinderkoorafdeling by die sewende Wêreldkoorspele in Cincinnati in die VSA.

In 2018 het die koor weer eens uitstekend gevaar in die tiende Wêreldkoorspele in Tshwane in Suid-Afrika. Hulle het in vier kategorieë meegeding en is gekroon as wêreldkampioene in twee kategorieë naamlik die hoogs gesogte kinderkore- en die Musica sacra (met begeleiding)-afdeling. Hulle het ook derde plekke in twee verdere kategorieë naamlik popkore- en folklore-musiek behaal.

Die Windhoek Children’s Voices staan onder leiding van die bekende plaaslike dirigent, Fanie Dorfling. Die jong koor het in 2021 tot stand gekom en lewer reeds musiek van goeie gehalte. Die koor sal in November oudisies hou vir 2023. Belangstellende ouers kan Fanie by [email protected] kontak.

Die konsert begin om 19:00. Kaartjies is by die deur beskikbaar teen N$80 vir volwassenes en N$50 vir kinders.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer