Windhoek Woordfees op ons voorstoep

Yandi Du Plessis
Namibiërs en veral kultuurfoendies kan amper regskuif vir die Lentehoofstuk van die Windhoek Woordfees wat op 16 November in die hoofstad afskop.

Die Woordfees is nege jaar gelede vir die eerste keer aangebied en is altyd ’n hoogtepunt vir Afrikaanse kuns- en kultuurliefhebbers.

Soos altyd is daar ’n opwindende program wat voorlê.

Amanda Strydom, die sangeres, liedjieskrywer, aktrise en soms-dramaturg, lewer op 16 November ’n vertoning getiteld “Ongegrendel” by die NG Kerk in Eros.

Die Suid-Afrikaanse veteraanaktrise Sandra Prinsloo sal op 18 November by die Nasionale Teater (NTN) in die verhoogverwerking van Elsa Joubert se Spertyd te sien wees. Die immer gewilde alternatiewe Afrikaanse rockgroep Spoegwolf kom maak ook ’n draai in Namibië!



SPERTYD

Spertyd is in die grendeltyd onder die Aardklop-vaandel ontwikkel.

Na slegs hierdie een speelvak is Sandra Prinsloo benoem vir ‘n Fiëstas-toekenning as beste aktrise. Vanjaar is die produksie bekroon met die Fleur du Cap-toekenning vir die beste eenpersoonvertoning.

Spertyd is ‘n reis deur die kontinent van die ouderdom: “My lewe is nou ’n doodloopstraat. My dogter sê: ‘Ma, mens bly nooit in ’n doodloopstraat nie. Jy draai om, ry terug en kry ’n nuwe koers.

“Dit klink baie dapper, maar ek is nie meer dapper nie.” So eerlik en onsentimenteel skryf die bekroonde Elsa Joubert oor die oudwordproses. Prinsloo volg haar vorige kragtige eenvrouvertonings (Kamphoer – die verhaal van Susan Nell en Oskar en die pienk tannie) op in hierdie werk wat inspireer, ontroer maar ook vertroos. Die aktrise het uit verskeie oorde lof vir haar spel in dié produksie ingeoes.

Joubert is op 14 Junie 2020 midde die Covid-pandemie oorlede. Kort voor haar afsterwe het sy die teksverwerking gelees, en was sy opgewonde oor Prinsloo se vertolking van haar lewensverhaal. Die karakter kyk op 95-jarige ouderdom terug op haar vol lewe, vanaf haar kinderjare, haar huwelik, tot waar sy tans as weduwee in ‘n aftreeoord woon. Die herinneringe daag bloot op, soos wat herinneringe maar doen. Talle vind aanklank by hierdie intieme introspektiewe verhaal met sy universele kwessies. Sy vertel oor die oudwordproses, waarmee elke mens en sy of haar gesin onvermydelik gekonfronteer word. Dit bied ‘n helder insig in hierdie merkwaardige skrywer se lewensbeskouing, en nooi ten slotte die gehoor uit om diep na te dink oor sy of haar bestaan.

Philip Rademeyer, wat die teksverwerking en regie behartig het, skryf: Die eerste lees van Spertyd het my diep geraak – nie net die insigte wat Elsa Joubert oor ‘n verskeidenheid onderwerpe lewer nie, maar veral die eerlike en weerlose manier waarmee sy met intieme temas soos oudword, die dood en verlies omgaan. Spertyd is meesleurend, beeldskoon, hartverskeurend en soms ook regtig snaaks. Ek het dadelik ingestem om deel te wees van die projek. Die temas en atmosfeer van die stuk pas goed by die tipe teater wat ek skep, en dis iets wat regtig my oë oopmaak oor dinge wat ek (as relatiewe jongmens) as vanselfsprekend aanvaar: beweeglikheid, geheue, die sintuie, kommunikasie. Om die projek te doen is ook ‘n kans om op my eie baie klein manier hulde te bring aan een van Suid-Afrika se grootste skrywers. Ek wou boonop baie graag met Sandra aan ‘n eenvroustuk werk. Om een-tot-een met haar te werk en sáám met haar lewe te bring aan die storie is ‘n wonderlike geleentheid. Verder wou ek myself as skrywer uitdaag. Een van die deurlopende temas van Spertyd is die waarde van medemenslikheid en deernis – dis ‘n gevoel wat ons tydens repetisies ervaar en verhoog toe wil bring!



ONGEGRENDEL

Amanda Strydom span met haar pianis kragte saam om hierdie kragvertoning na die verhoog te bring.

Dié doyenne van die kabaretverhoog bring lig, lag en pleisters vir moeë pandemiesiele. Sy is verheug om vir die eerste keer sedert 2000 weer in Namibië op te tree.

Sy sing haar eie liedjies, asook die van Jacques Brel, Edith Piaf, Bette Midler en Sting. En ‘n hele paar verrassings. Strydom vier vanjaar 43 jaar in die wonderlike, waansinnige teaterbedryf waar sy aktief besig is as sanger, skrywer, aktrise en komponis. Sy is ook geliefd in Nederland waar haar musiek gereeld op die radio gespeel word en sy gereeld opgetree het voor die pestilensie ons planeet getref het.

Sy word begelei deur Rall, haar vaste pianis en musikale regisseur. Strydom is vereer met o.a die Erepenning van die S.A. Akademie vir Kuns en Wetenskap vir haar bydrae tot die kunste, die ATKV Prestige prys, die Kunste Onbeperk Legendeprys en die Innibos Legendeprys vir haar lewenslange bydrae tot die kunste.

Kaartjies sal vanaf 1 September via Webtickets beskikbaar wees, asook fisieke kaartjies by uitgesoekte verkoopspunte wat later aangekondig sal word. Hou die Windhoek Woordfees en Netwerk Namibië se sosialemediablaaie dop vir meer inligting en die program.



SPOEGWOLF

Namibiërs moet beslis nie die kans misloop om die Afrikaanse alternatiewe rockgroep Spoegwolf in lewende lywe op die verhoog te sien nie.

Spoegwolf bestaan uit Moskou du Toit, Chris von Wielligh, Albert van der Merwe en Danie du Toit. Die groep is in Februarie 2012 gestig. Die groep is gebore toe hulle in 2008 Die Burger se Jip Rockspaaider-kompetisie gewen het. Hulle eerste album, Swaartekrag, is in 2012 vrygestel en bevat die treffers “Somerset-Wes” en “Lenie Blou”. Intussen het hulle die albums Somer, Die Donker Toring, Koma en See opgeneem. Die groep het geskiedenis gemaak deur die eerste Afrikaanse musiekgroep te word om die nommereenposisie op die Apple Music-trefferparade in Suid-Afrika te beklee.

“Ons was al so vier of vyf keer in Windhoek vir shows. Dit is altyd 'n interessante ervaring. Dit voel amper soos Suid-Afrika maar jy kry Nam dollars-kleingeld in plaas van rande. Ons het in 2017 laas 'n show daar gespeel, so ons sien baie daarna uit,” het Danie destyds in 2020 voor die Covid-chaos aan Kollig gesê.

Hulle vertoning by 2020 se Camp Rock-musiekfees is tot baie se teleurstelling deur ‘n hewige reënbui kortgeknip, en dié wat gehoop het om hulle daar te sien, het nou hulle kans!

Die groep tree op Vrydag 18 November by die SFC-sportklub in Swakopmund op en die volgende dag (19 November) by WHS se Vegkop-stadion in die hoofstad.

Plaaslike kunstenaars soos JP Kotze, Riaan Smit en DJ Mickey G sal ook by die Swakopmund-konsert op die verhoog te sien wees. Kaartjies is vooraf teen N$350 via webtickets.com.na en by Pick n Pay-winkels landswyd beskikbaar. Kaartjies by die hek op die dag van die konsert kos N$500.

Navrae kan aan [email protected] gerig word.

Kaartjies vir die Vegkop-konsert kan by eticket.my.na aangeskaf word. Kaartjies wat vooraf aanlyn gekoop word, kos N$300, terwyl kaartjies by die hek teen N$350 beskikbaar sal wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!