Neil se nagedagtenis leef voort in Kersprojek
Traumaberading, karaktervorming, asook motiveringspraatjies
’n Vrywilliger by die Tabita Sentrum van Hoop in die informele nedersetting Etoshapoort op Outjo, het vanjaar die Neil Prinsloo Kersprojek van stapel gestuur.
Die projek is vernoem na wyle Neil Prinsloo, eertydse skoolhoof van Privaatskool Moria, wat in 2021 aan Covid-19 dood is.
Eliana Burger verduidelik dat die sentrum uitreik na die gemeenskap “in ’n omgewing waar die lewensomstandighede moeilik is”.
Die sentrum lewer ’n waardevolle diens aan kwesbare kinders sodat hulle hul skoolloopbane kan voltooi en verder kan studeer.
Smiddae ná skool word ’n kinderklub aangebied wat dikwels nuwe lede lok.
Die kinders kom dan byeen vir aktiwiteite wat gemik is op traumaberading, karaktervorming, asook motiveringspraatjies vir kinders om te volhard in hul skoolloopbane.
“Met dié dat ek elke week met die kinders werk, het ek hul behoeftes raakgesien en wou nog meer betrokke raak. Ek het onthou van ’n projek vir kinderhuise in die Kaap – waar hulle skoenbokse vol basiese benodighede vir elke kind bymekaargemaak het. Ek wou ons kinders beloon vir hul harde werk deur die jaar en het ’n geleentheid raakgesien om vir hulle ’n onvergeetlike Kersfees te probeer gee,” sê Eliana.
Sy vertel 150 kinders van die sentrum sal by die Kersprojek baat. Die grondslag vir dié inisiatief is reeds drie jaar gelede gelê.
Hande gevat
“Ek en wyle Neil Prinsloo het drie jaar gelede hande met die Tabita Sentrum gevat met die idee om gimnastiek in die gemeenskap te ontwikkel en ook vir hierdie kinders die geleentheid te skep om hul basiese gimnastiekvaardighede en spierontwikkeling te bevorder.
“Ek het die Neil Prinsloo Kersprojek begin, nie net om die kinders te help nie, maar ook as ’n herinnering aan die drome wat ek en Neil vir die Tabita-gimnastiek gehad het. Die projek is na hom vernoem ter nagedagtenis aan die ongelooflike impak wat hy op my lewe en die gemeenskap gehad het.”
Eliana vertel sy het vyf maatskapye genader om met die projek te help. “Doring-Kersbome is by OK Foods, Spar, die Bakkery, die NG Kerk en Privaatskool Moria opgesit. Tabita se 150 kinders is tussen die verskillende plekke opgedeel en hul foto’s is aan die bome gehang. Mense kan dan ’n kind of twee se foto van die boom afhaal, vir hom of haar ’n geskenkie van N$100 koop en dan weer die geskenk (met die spesifieke kind se foto daarby) los by die plek waar hulle die foto afgehaal het,” verduidelik sy.
Op 24 November het hulle Kersfees saam met hierdie kinders by die sentrum gehou, waar elke kind ’n geskenk en iets ekstra sal ontvang het.
“Ek is so dankbaar vir die gemeenskap se samewerking en entoesiasme – dit het my verwagtinge oortref. Ons hoop om dit ’n jaarlikse instelling te maak.
“Ek hoop om ander te inspireer om ’n verskil in iemand se lewe te maak – dis die klein dingetjies wat die grootste impak het. Staan op vir dié wat nie altyd ’n stem het nie. Ek hoop ook dat Neil Prinsloo en die liefde en verandering wat hy by ander mense ingeboesem het, hierdeur sal voortleef.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie