Dias-punt opgeknap en beveilig

Tanja Bause
Besoekers aan die geskiedkundige Dias-punt en -kruis kan weer met ’n geruste hart die trappe na die kruis aanpak.

Dit nadat die trappe wat na die kruis lei en ook die platform waarop die kruis staan, onlangs opgeknap is.

Die ontdekkingsreisiger Bartolomeu Dias het die kruis in 1488 opgerig.

Ulf Grünewald van die Lüderitz Nest Hotel sê die wind en weer het oor die jare die klippilare vernietig, en die trappe was ook in ’n haglike toestand.

“Daar was niks meer nie en dit was baie onveilig vir besoekers. Die tyd het gekom dat ’n plan beraam moes word. Ek het besluit dat die Lüderitz Nest Hotel vir die opknapping en herstelwerk sal betaal. Ek het na Helmut Syvertsen en Krispin Clay gegaan en die voorstel gemaak. Ons drie is die enigste drie oorblywendes van die Dias-komitee.”

Ulf se voorstel is aanvaar en die Lüderitz Foundation het ook geld geskenk.

“Die projek het sowat N$160 000 gekos en die Lüderitz Foundation het die helfte bygedra. Ons het die klippilare oorgebou en die trappe nuut gemaak met duursame spesiale sement wat jy by die see gebruik. Ons het ook teerpale ingesit.

“Alles is volgens die oorspronklike ontwerp herstel, al wat ons verander het, is die teerpale. Ons het besluit om eerder teerpale te gebruik as kettings wat roes. Die pale sal nou elke jaar geteer word om hulle lewensduur te verleng.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer