Grond op Keetmanshoop toegeken
150 erwe voorlopig op waglys
Minister waarsku teen die toekenning van grond wat nog nie gediens is nie.
Die Keetmanshoop-munisipaliteit onder leiding van die Landless People’s Movement (LPM) het Vrydag aangekondig dat 150 ongedienste, onverbeterde erwe en wat nog nie afgebaken is nie, vooraf aan inwoners wat lank op die behuisingswaglys is, toegeken word.
Die waarnemende uitvoerende hoof van die munisipaliteit, Catherine Boois, het by die geleentheid gesê daar is reeds voor die nuutste bykomende name bygevoeg is, al meer as 4 000 name op dié waglys. Die grond is in die Kronlein-nedersetting geleë, insluitend uitbreidings 2 en 4, terwyl elke erf sowat 500 vierkante meter beslaan.
Die sertifikate dui daarop dat die grond eers beset mag word wanneer al die dienste aangelê is, insluitend water, krag en riool. Tydelike behuising mag ook nie op die grond opgerig word nie, tot ’n koopooreenkoms tussen die voornemende koper en die munisipaliteit onderteken is nie.
Die raadslid en burgemeester van Keetmanshoop, McDonald Hanse, het die sertifikate saam met Boois onderteken. Volgens Hanse het die dorpsraad geen goedkeuring vanaf die minister van stedelike en landelike ontwikkeling vir die toekennings nodig nie, aangesien dit voorlopige toekennings is.
Hy het erken dat minister Erastus Uutoni Vrydag ’n brief aan die munisipaliteit geskryf het om die toekenning van grond wat nie beplan, opgemeet of gediens is nie, te ontmoedig.
Volgens die minister benodig die dorpsraad sy toestemming om enige grond toe te ken, en sonder sy toestemming is enige toekennings onwettig, met die dorpsraad en begunstigdes wat die nagevolge moet dra.
Uutoni sê die toekenning van grond wat nie opgemeet, beplan of enige dienste het nie, lei tot ongewenste situasies soos algemeen in informele nedersettings voorkom.
“’n Waarskuwing word hiermee aan die munisipaliteit gerig om te verseker dat enige beplande toekenning van grond gedoen word soos uiteengesit in wetlike prosedures en ingevolge die Wet op Plaaslike Owerhede van 1992, asook ander wetgewing met betrekking soos die Wet op Stedelike en Landelike Beplanning van 2018 en die Wet op Landmeters van 1993,” skryf hy.
Die adjunkleier van die LPM, Henny Seibeb, het egter gesê dat die toekenning van grond sal voortgaan.
Uutoni het Vrydag die Keetmanshoop-dorpsraad ingelig dat ’n aparte begroting aan sy ministerie vir die boekjaar 2023-’24 toegeken is, spesifiek om informele nedersettings te ontwikkel.
“Ons is bewus van Keetmanshoop, wat soos ander plaaslike owerhede in die land, informele nedersettings het en baie uitdagings in die gesig staar. Die munisipaliteit se behoeftes sal ook met die verspreiding van hierdie toekenning in ag geneem word,” volgens die minister.
Hy het daarop aangedring dat die munisipaliteit teen Maandag op sy brief moes reageer en meer inligting verskaf oor die grondtoekennings en wat beplan word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie