Dapper stapper haal die kus
Die jong man wat die pad vanaf Tsumeb na Swakopmund aangedurf het om bewusmaking te skep van depressie onder mans, is ná 13 dae uiteindelik by die see.
Alex Gous beplan om vandag vanaf Hentiesbaai na Woltzkasbaken te stap en môre die laaste ent na Swakopmund.
Die roete is sowat 620 km ver en volgens ’n Facebook-plasing wat gisteraand omstreeks 19:44 op Alex se pa, Andries, se profiel gedeel is, was gister die moeilikste dag.
“Nie eers die einde wat in sig is, motiveer jou meer nie en dan kom stop die mense een na die ander by jou en bemoedig vir Alex en op die einde loop selfs ’n klomp mense saam,” lui die plasing.
Hulle nooi alle gewilliges om saam te stap.
“As julle lus is vir saamstap of sommer net gou stop en moed in praat, doen so asseblief.”
Volgens Andries het baie mense al gevra of hulle Alex finansieël kan ondersteun. Sy antwoord is: "Spandeer eerder die geldjies en nooi ’n vriend vir koffie en gesels met hom. Stel belang in hoe dit met hom gaan."
Andries se Facebook-profiel kan gerus dopgehou word om op hoogte te bly van Alex se staptog.
Alex het op 9 Desember begin stap en beplan om op Oukersdag sy vose voete in Swakopmund se seewater te rus.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie