Andrada vorder op Uis

Behaal goedkoper, hoër tinproduksie
Die tinmyn op Uis brei spoedig uit, met litium- en tantaalproduksie wat nog vir vanjaar verwag word.
Augetto Graig
Die historiese Uis-tinmyn groei vinnig, en Andrada Mining maak goeie vordering om ook litium en tantaal kommersieel op dié myn te vervaardig.

AfriTin het aan die begin van vanjaar sy naam na Andrada verander en dié Suid-Afrikaanse maatskappy – wat op die Londense aandelebeurs genoteer is – het Maandag nuus oor die vordering by sy voorste mynbouprojek bekend gemaak.

Andrada se uitvoerende hoof, Anthony Viljoen, sê: “Die uitsonderlike produksieprestasie in die vierde kwartaal is ’n voorbeeld van die Andrada-bestuurspan se vermoë om planne uit te voer. Ons het uitstekende vordering gemaak om die beduidende skaalvoordele van hierdie unieke groot ertsliggaam te verwesenlik.”

Die mynbouer kon oor die laaste drie maande 362 ton tinkonsentraat vervaardig, wat 214 ton tin bevat.

Die myn se jaarproduksie vir die 2023-boekjaar is 960 ton tin, 19% meer in vergelyking met 804 ton in die vorige boekjaar.

Die verwagte produksie van 720 ton tin per jaar is reeds behaal en die aanleg is winsgewend met slegs tin, volgens Andrada se webwerf.

“Ons glo hierdie skaalvoordele en die implementering van litiumproduksie, sal die waarde van hierdie uitstaande bate oor die komende maande vinnig laat styg,” sê Viljoen.

Die naderende voltooiing van die grootmaat-toetsfasiliteit sal Andrada in staat stel om die produksie van litium te begin, en die maatskappy as een van die voorste litiumprodusente op Londen se alternatiewe beleggingsmark plaas, brei hy uit.

Die proefaanleg om litium te verwerk, sal na verwagting teen Junie vanjaar voltooi wees, terwyl Andrada verskeie opsies ondersoek om reeds teen die tweede helfte van dié jaar ’n opbrengs uit litium te kan genereer. Die proefaanleg sal gebruik word om litiumkonsentraat te vervaardig.

Geolabs Global, ’n onafhanklike toetsfasiliteit in Suid-Afrika, het metallurgiese toetse gedoen om ’n proses te identifiseer wat litiumkonsentraat kan produseer wat aan kopers se spesifikasies in markte vir nywerheids- en batterygrondstof voldoen.

Boorwerk op die ML129-lisensiegebied, om die sigbare mineralisering te ondersoek, het in Januarie vanjaar begin.

Veldkartering van boorteikens in die ML133-gebied (Nai-Nais) is gefinaliseer en ’n verkenningsopdatering word teen Junie verwag. Viljoen sê die boorprogramme het onlangs op aangrensende lisensiegebiede begin en is ontwerp om te bevestig dat die Erongostreek een van die “opkomende provinsies vir tegnologiese metale wêreldwyd is”.

“Andrada se aanvanklike trekpleister is sy vermoë om munt te slaan uit sy bestaande bewese operasionele voetspoor,” voer hy aan.

Die projek se eerste volhoubaarheidsverslag word binnekort verwag.

Die mynbouer het daarin slaag om sy koste tot US$18,24 per ton te verlaag, die laagste nog vir ’n finansiële kwartaal, en met 9% vir die betrokke boekjaar, tot US$24,94 per ton.

Volgens Andrada vorder hulle om finansiering vanaf die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) en Orion Resource Partners uit New York in Amerika te verkry.

Andrada se kontantbalans het teen einde Februarie met 18% gegroei, en dié £8,6 miljoen is glo voldoende om sy planne te finansier om binnekort sy toetsfasiliteit en sy nuwe tantaalverwerkingskring te bou.

In ’n vrystelling wat op 6 Februarie uitgereik is, het Andrada geskat dat ongeveer 6 000 ton tantaal ontgin kan word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!