Benguela Gem glinster op die water

Reuse-diamantskip begin sy werksaamhede
Namibië se vennootskap met De Beers bied wêreldleierskap in die herwinning van diamant uit die oseaan.
Augetto Graig
Die MV Benguela Gem vaar reeds in die Atlantiese Oseaan en sy 310 ton Crawler onderwater-mynboumeganisme het begin om diamante vanaf die seebodem te herwin.

Dié skip van N$7 miljard en 177 meter, is die mees tegnologies-gevorderde mynvaartuig ter wêreld, en president Hage Geingob het Vrydag die skip amptelik in Walvisbaai se hawe ingehuldig en dit die MV Benguela Gen gedoop.

Voorheen het die skip as die bykomende mynvaartuig 3 (AMV3) bekend gestaan.

Reeds verlede maand tydens sy toetslopie in Namibiese water, kon die MV Benguela Gem vir 103 ure sy verwagte produksie en 30 000 karaat diamante lewer, volgens mnr. Otto Shikongo, uitvoerende hoof van Debmarine Namibië.

Hy sien uit na 30 jaar van produksie soos die MV Benguela Gem op glansende waters aanhou vaar en 500 000 karaat per jaar tot Namibië se diamantproduksie bydrae, wat N$3 miljard se inkomste sal genereer, sê hy.

“Dit maak haar die enkel grootste bydraer tot Debmarine Namibia en Namdeb Holdings se inkomste,” het hy gesê.

Debmarine Namibia behoort aan Namdeb Holdings, wat ’n gesamentlike en gelyke vennootskap tussen die Namibiese regering en wêrelddiamantreus De Beers is.

Die uitvoerende hoof van die De Beers-groep, mnr. Bruce Cleaver, het by die geleentheid gesê Debmarine Namibia skitter helder al vir 20 jaar, en is die grootste bydraer uit die private sektor tot die Namibiese fiskus.

Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, was verheug oor so ’n betekenisvolle belegging.

“Diamante was altyd deurslaggewend as deel van ons ekonomie, en word dus anders gereguleer. Dis uiters belangrik dat ons die nywerheid só bestuur om nie die beeld van diamante te besoedel nie,” sê hy.

Geingob het sy voorbereide toespraak tersyde gesit en sy tevredenheid beklemtoon om teenwoordig te wees.

Hy het die waardes van Debmarine Namibia geprys en gesê die regering moet ook daarna streef.

“As Namibiers moet ons hande vat en saam met die private sektor harambee.”

Hy sê prosesse, stelsels en instansies moet gevestig en gebruik word. “Ek hoef nie meer hier te wees nie, maar wat ons besluit het, moet voortgaan. Dit kan nie van individue afhanklik wees nie,” het hy gesê.

Geingob sê Covid-19 het dit duidelik gemaak almal is gelyk.

“Mense het begin sterf. Mense saam met wie ons grootgeword het, mense wat ons ken; wit, swart, geel.

“Die siekte het ons geleer dat ons een is en net deur hande te vat, kan ons oorleef. Nou vat ons hande om die ekonomie op diamante te bou. Almal kan hulle dra. Dié leier weet nie alles nie.

“Ek was van plan om te sê, ontwikkel Namibiërs, gee Namibiërs opleiding, sluit Namibiërs van ander plekke in, maar julle doen dit reeds. Ek sien hulle. Ek het net gekom om die vaartuig in te huldig. Ons is gretig om te gaan,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer