Beurtkrag in SA knel ook plaaslike veeboere
Vleispryse bly hoog
Beurtkrag in Suid-Afrika tel beslis nie in die guns van boere nie, ook nie Namibiese veeboere nie.
Paul Klein van Agra Auctions het aan Republikein bevestig dat beurtkrag in die buurland ’n impak op plaaslike uitvoervleisprodusente het, maar hy meen dit is ’n kombinasie van bydraende faktore.
Hy sê van die kommer wat geopper word, is dat die mark oorvol is en vleispryse vooraf bepaal word.
“Dit is nie net beurtkrag nie, Suid-Afrika se ekonomie is aan die ‘pap kant’ wat nog oorgeërf is van die Covid-19-pandemie. As gevolg van bek-en-klouseer wat in Suid-Afrika uitgebreek het, het die land ’n gedeelte van die uitvoermark verloor,” het Klein gesê.
Klein en ander plaaslike afgevaardigdes het einde verlede jaar voerkrale met abattoirs in Suid-Afrika besoek.
“Met beurtkrag het swak slagpryse verlede jaar sterk onder druk gekom. Vanaf die einde van 2022 tot verlede jaar het die slagpryse met sowat 15% teruggesak.”
Hy sê weens beurtkrag koop die verbruiker in kleiner hoeveelhede en dag tot dag of week tot week.
“Op voerkraalvlak moet voer steeds gemeng en water steeds gepomp word. As die krag af is, moet die voermenger steeds loop en ’n alternatiewe bron van energie – diesel – moet gebruik word. Dit veroorsaak eintlik dat die kosteketting by die handelaars duurder word,” verduidelik Klein.
“Nou kom ons by abattoir: As daar ses ure beurtkrag is, kan die abattoir nie slag nie, hy moet begin diesel pomp. Dis waar beurtkrag die grootste impak het.”
Nog ’n bydraende faktor volgens Klein is bek-en-klouseer, met beeste wat vir 28 dae vooraf eers in kwarantyn moet staan om te verhoed dat dié siekte weer in krale uitbreek.
“Die proses om diere deur die voerkraal na die abattoir te sit, het duurder geraak, maar kostes word nie op die produk gesny nie,” sê Klein.
“Nou sit jy met die swak ekonomie, die verbruiker wat kleiner hoeveelhede koop wat ’n groot invloed op die handelaar se omset op sy perseel het, wat beteken hy kan nie minder vir vleis vra nie.”
Beurtkrag speel beslis ’n rol om vleispryse af te dwing omdat dit ’n risiko is om té veel vleis in voorraad te hou.
“Een lorrievrag met 50 karkasse is byvoorbeeld voorheen na die handelaar gestuur om vervoerkoste indirek te sny, maar nou moet dieselfde aantal karkasse drie keer per week weens beurtkrag aan die handelaar gelewer word,” verduidelik Klein.
“Die verbruiker kan ook nie meer in grootmaat vleis koop nie, want hy is bang sy yskas gaan af.”
DREIGENDE DROOGTE
Klein sê die boere slag nou teen ’n laer prys, maar teen hoër koste, en “met nou en verlede jaar se ondernormale reënval, gaan Namibië in ’n dreigende droogtesiklus in”.
Hy sê dit is wanneer ooraanbod inkom en diere vinnige bemark moet word met sekere kategorieë diere wat te veel in die mark is.
“Al hierdie faktore is inmekaar verweef en elkeen pas in ’n legkaart waar die plaashekprys en die prys voor in die mark nie bymekaar uitkom nie.”
Dit beteken die boer kry ’n sekere prys by die plaashek, maar die verbruiker betaal nog steeds ’n hoë prys vir vleis.
Klein sê boonop moet ander faktore soos die olieprys en wisselkoerse ook in ag geneem word.
“Dis ’n bose kringloop waarin ons nou is met eksterne faktore waaroor daar geen beheer is nie.”
’n Veeboer tussen Omitara en Nina het gesê hy voer nie meer sy skape na Suid-Afrika uit nie. Hy verkoop liewer sy slaglammers plaaslik uit die hand uit teen N$85 per kilogram.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie