BIG bring kenner om regering te oortuig
Koalisie dring aan op universele toelaag
'n Suid-Afrikaanse ekonomiese navorsingsdirekteur sê geteikende toelaes is duurder en minder doeltreffend.
Die Basiese Inkomstetoelaag (BIG)-koalisie het Maandag (21 Feb) ’n kenner uit Suid-Afrika laat kom om die Namibiese regering te oortuig dat BIG wel voordele inhou.
Prof. Michael Samson is as navorsingsdirekteur verbonde aan die Ekonomiese Beleidsnavorsings Instituut (EPRI) in Suid-Afrika.
BIG is reeds in 2002 amptelik deur die Namtax-konsortium van plaaslike belastingkenners as ’n oplossing vir Namibië se beperkte belastingbetalerbasis voorgestel.
Namtax se navorsing het gewys te veel Namibiërs bestee maandeliks te min, wat die invordering van belasting en die ekonomie belemmer.
Die koalisie het ’n universele maandelikse toelaag vir alle volwasse Namibiërs voorgestel en glo BIG kan wydverspreide armoede en ongelykheid in Namibië hokslaan.
BIG stel voor elke landsburger tussen die ouderdomme van 18 en 65 ontvang ’n universele toelaag van N$500 per maand, per persoon.
Onlangs het die regering aangekondig dat begunsdigdes van die Voedselbank nou eerder kontant sal ontvang. Hulle beskryf dit as ’n aangepaste inkomstetoelaag.
Swapo verwerp sedert die ontstaan van die idee ’n universele toelaag. Die party sê dis onbekostigbaar, toelae wat spesifieke begunstigdes teiken is beter vir arm mense, dit maak mense lui en dit sal nadelig vir die ekonomie wees.
Prof. Samson sê egter BIG kan deurslaggewend vir ekonomiese herstel wees. Hy sê BIG is nodig weens die driedubbele las van werkloosheid, armoede en ongelykheid waaronder Namibië se ekonomie gebuk gaan.
Ten opsigte van bekostigbaarheid, sê prof. Samson: “Die koste hang van ’n aantal faktore af, insluitend die grootte van die toelaag, hoe toelaes aangebied word, en die finansieringsbenadering. Die belangrikste koste is nie die bruto koste nie, maar die netto koste; nadat verhalings deur die belastingstelsel in berekening gebring is.”
“Vorige oefeninge om koste te bereken, dui daarop dat die koste van ’n universele BIG tussen 1% en 4% van BBP sal val. Namibië het bykomende belastingvermoë om die koste van BIG te dek,” sê hy.
Weens Namibië se hoë vlakke van ongelykheid kan onder meer kapitaalwinsbelasting gebruik word om die koste te dek, stel hy voor.
Met die inagneming van die regering se aandrang om arm mense vir toelaes te teiken, sê Samson: “Die teiken sluit altyd talle van die armstes uit, en is self ’n duur en verkwistende oefening.”
Volgens hom bou universaliteit nasionale solidariteit en maatskaplike samehorigheid.
“’n Skok soos Covid-19 raak byna almal van ons. Universele benaderings verminder verkeerde aansporings en versterk indiensneming en ekonomiese groei.
“’n Universele benadering bou politieke steun vir volhoubaarheid. Dit verskaf waardigheid en versterk mense se selfbeeld. BIG verbeter belastingmoraal aangesien almal in die fiskale stelsel ingesluit word,” sê hy.
Samson het geantwoord op die aantyging dat BIG mense lui maak. Hy sê 130 internasionale studies dui dat BIG-begunstigdes vier keer meer belangstel om hul eie besighede te begin.
Namibië se eie eenjaar-loodsprojek in Otjivero wys dat “die koers van diegene (bo die ouderdom van 15) wat by inkomstegenererende bedrywighede betrokke is, het van 44% tot 55% gestyg.
Die gemiddelde skuld het tussen November 2007 en November 2008 vanaf N$1 215 tot N$772 gedaal.
Spaargeld en beleggings het gedurende dieselfde tydperk toegeneem, en word in die toenemende eienaarskap van grootvee, kleinvee en pluimvee weerspieël.”
“BIG sal die ekonomie stimuleer, aangesien dit koopkrag verhoog, wat mense in staat sal stel om verbruikers van plaaslik vervaardigde basiese goedere te word,” het Samson gesê.
Toename in aanvraag, ’n daling in armoede en ’n styging in indiensneming, is positiewe uitkomste volgens hom.
“’n Beskeie BIG kan armoede en uiterste armoede met tweederdes of meer verminder. Die wêreldwye reaksie op die pandemie dui daarop dat meer universele toelaes die doeltreffendste oplossing (vir ekonomies herstel) bied,” het Samson gesê. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie