Debmarine Namibia en sy Benguela Gem-diamantskip lewer 'n skitterende 2022-vertoning.
Foto Debmarine Namibia
Debmarine Namibia en sy Benguela Gem-diamantskip lewer 'n skitterende 2022-vertoning. Foto Debmarine Namibia

Blink toekoms vir Debmarine

EBITDA verhoog met 168%
Die Benguela Gem lewer 480 000 karaat, of 28% van verlede jaar se totale produksie.
Augetto Graig
Namibië se nuutste, en die wêreld se mees tegnologies gevorderde herwinningskip, die Benguela Gem, het vir die 2022-’23-boekjaar 480 duisend karaat diamante opgelewer.

Die skip se verwagte produksie vir dié boekjaar was 281 duisend karaat diamante, en die Benguela Gem het ’n noemenswaardige bydra tot Debmarine Namibia se totale diamantproduksie van 1,725 miljoen karaat vir 2022 gelewer.

Dit was die hoogste diamantproduksie in die maatskappy se geskiedenis, en gelykstaande aan 80% van Namibië se totale diamantproduksie vir die jaar.

Die uitvoerende hoof, Willy Mertens, het dié syfers verlede Donderdag tydens Debmarine Namibia se jaarlikse vergadering vir belanghebbers by Droombos net buite die hoofstad bekend gemaak.

Volgens Mertens dui die prestasie op ’n verhoging van 52% vanaf 2021 toe die maatskappy 1,136 miljoen karaat kon lewer.

Die Benguela Gem het 28% tot Debmarine se totale diamantproduksie in 2022 bygedra.

Die Mafuta het egter die grootste bydra gelewer, met 613 karaat of 36% van Debmarine se diamantproduksie vir die boekjaar.

Nog vyf boorskepe in Debmarine se vloot het gesamentlik nog 632 duisend karaat diamante gelewer.

“Een van die redes hoekom ons die Benguela Gem-projek aangepak het, was om die risiko te verminder om op die Mafuta afhanklik te wees, en ek is tevrede om te rapporteer dat ons daarin geslaag het,” sê Mertens.

Volgens hom is Debmarine Namibia se produksie vir 2022 meer as drie keer die 506 duisend karaat wat die onderneming aanvanklik met ses vaartuie kon voorsien.

Voortdurende innovasie en beleggings in tegnologie, tesame met die nuutste vaartuig, het die prestasie moontlik gemaak, volgens hom.

Mertens sê die onderneming moet volhou om die meeste uit hul Atlantic 1-mynlisensiegebied in die toekoms te baat. Atlantic 1 belowe om oor die volgende 36 jaar, tot 2057 nog 33 miljoen karaat te kan lewer, sê hy.

Verder kon Debmarine Namibia verlede jaar sy inkomste met 83% verhoog teenoor 2021, sê Mertens, ofte wel N$13,2 miljard teenoor N$7,2 miljard.

Dit was danksy verhoogde produksie, positiewe verbruikersaanvraag (12%) en die verswakking van die Namibiese dollar teenoor die Amerikaanse dollar (20%), brei hy uit.

Inkomste voor belasting op rente, waardevermindering en amortisasie (EBITDA) het met 168% verhoog tot N$6,7 miljard, danksy verhoogde inkomste teenoor verminderde koste. Winsgewendheid het vanaf 35% tot 51% toegeneem, sê hy.

Kapitaaluitgawes het met 79% tot N$540 miljoen verminder, danksy die voltooiing van die Benguela Gem-projek.

President Hage Geingob het die Benguela Gem amptelik op 18 Maart 2022 ingewy. Daarmee saam het vrye kapitaal tot N$3,6 miljard gegroei, wat die uitbetaling van dividende aan aandeelhouers van altesaam N$3,1 miljard toegelaat het, sê hy.

Die Namibiese regering, as 50% aandeelhouer saam met die diamantreus De Beers, het dus altesaam N$4,7 miljard vanaf Debmarine Namibia vir die 2022-boekjaar verdien, insluitend belasting en tantieme.

Die onderneming het ook N$1,2 miljard vir die jaar aan salarisse bestee, N$3,5 miljoen op plaaslike verkryging, N$35 miljoen op maatskaplike belegging en N$718 miljoen aan beleggers wat finansiering aan die maatskappy gebied het.

Sedert 2018 het Debmarine altesaam N$13,8 miljard aan Namibië se tesourie bygedra, sê Mertens, en is die enkel grootste bydraer tot die regering se inkomste buiten die inkomste vanaf die Suider-Afrikaanse Doeane-unie, sê hy.

Die raadsvoorsitter van Debmarine Namibia, dr. Ndeulipula Hamutumua, het by die geleentheid gesê die onderneming is ’n nasionale ikoon, wat meer as 1 100 hoogs gekwalifiseerde werknemers in diens het en deur die ministerie van finansies en die belastingagentskap NamRa erken word as die grootste bydraer tot belasting op toegevoegde waarde (BTW), korporatiewe inkomstebelasting, en die regering se inkomste vir 2021.

Volgens hom kan Namibiërs ook trots wees: “Namibië is die wêreld se voorste aflandige (diamant)-ontginningsnasie,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!