Cost of Filling up (003)
Cost of Filling up (003)

Brandstofbom!

Nóg ‘n slag vir ekonomie
Die rimpeleffek van die grootste brandstofprysstyging op rekord gaan Namibië se ekonomiese herstel opnuut briek.
Phillepus Uusiku en Jo-Maré Duddy
Verbruikers moet hulle staal vir môre wanneer brandstof in Namibië die duurste sedert die draai van die eeu word.

Die styging van N$1,20 per liter petrol en N$1,30 per liter diesel wat gister deur die uitvoerende direkteur van myne en energie, mnr. Simeon Negumbo, aangekondig is, is die hoogste enkele verhoging op rekord.

Op Walvisbaai styg die petrolprys tot N$17,15 per liter, terwyl diesel N$17,28 per liter gaan kos. Die nuwe prys beteken petrol het die afgelope jaar N$4,53 per liter duurder geword, terwyl diesel N$4,60 per liter meer is.

Die toenemende geopolitiese spanning in Oos-Europa met Rusland se inval in die Oekraïne, asook die voortdurende wêreldwye wanbalans tussen vraag en aanbod, het oliepryse na die hoogste vlakke sedert 2014 opgejaag en die ministerie moes “harde besluite” neem, het Negumbo gesê.

In Februarie is die verbruiker deur die Nasionale Energiefonds (NEF) gebuffer, wat die totale onderverhaling van sowat N$143 miljoen op brandstofinvoere geabsorbeer het. Die langtermyn-volhoubaarheid van die NEF moet egter in ag geneem word, het hy beaam.

Die reeds vuisvoos verbruiker gaan opnuut aan die kortste end trek en dit gaan ‘n groot slag vir die ekonomie wees, sê ontleders.

Brandstof is ‘n sleutel-item in die verbruikersmandjie en Namibiërs gaan nou nóg meer van hul verdienste daarop moet uitgee, wat beteken hulle kan minder op goedere en dienste bestee, sê mnr. Danie van Wyk, navorsingshoof van IJG Securities.

Dít gaan die groot- en kleinhandelsektor knou, meen mnr. Theo Klein, ekonoom by Simonis Storm (SS).

OPENBARE VERVOER Mnr. Robert McGregor, Cirrus Capital se ekonoom, sê die aansienlike styging in brandstofpryse gaan beduidende opwaartse druk op die pryse van openbare vervoer plaas. Dit gaan veral laer-inkomste huishoudings seermaak.

Die regering gaan moet ingryp en tot die redding van die openbare vervoerbedryf kom, sê mnr. Penda Nakathingo, die sekretaris-generaal van die Namibiese Bus- en Taxivereniging (Nabta).

Volgens Nakathingo gaan die nuwe prysstygings ‘n “baie ernstige uitwerking op die oorlewing” van dié bedryf hê, wat reeds erg onder die Covid-19-pandemie deurgeloop het.

“Nou gaan ons weer nie besigheid kry nie,” het hy gesê. Nabta gaan die regering nader om uit te vind hoe dié situasie beredder kan word. As die regering nie help nie, is hoër tariewe die enigste uitweg vir verbruikers wat reeds sukkel om openbare vervoer te bekostig, aldus Nakathingo.

BESIGHEDE Brandstof maak sowat ‘n derde van al FP du Toit Groep se uitgawes uit, sê dié groep se uitvoerende hoof, mnr. Stephan Terblanche.

Die uitwerking van slegs die brandstofprysstygings verlede jaar beteken FP du Toit Groep moes eintlik hul tariewe vanjaar met 11% verhoog het.

Die groep, wat ‘n vloot van meer as 600 voertuie in bedryf het, moes egter dié stygings absorbeer om mededingend in die mark te bly, sê Terblanche.

Die enigste teenvoeter is om deurlopend hul besigheid te groei en effektiwiteite verbeter, sê hy.

“Die een se dood is ongelukkig die ander se brood.”

Sommige vervoermaatskappye moes noodgedwonge hul deure sluit en FP du Toit Groep vul dié gaping in die mark. Nuwe besigheid verhoog die groep se omset en verlaag die vastekostetoedeling per voertuig.

Voorts hou FP du Toit Groep ‘n ferm hand op alle kostes. Brandstofverbruik, tesame met ander insetkostes, word voortdurend meer doeltreffend bestuur.

Die hele ekonomie word deur duurder brandstof geraak en die stygings het ‘n impak op elke verbuiker.

“Dis ‘n bose kringloop,” sê hy.

PRYSMONSTER Die jongste brandstofprysstygings gaan inflasie verder aanvuur, waarsku kenners.

Namibië se algehele inflasiekoers in Januarie was 4,6% vergeleke met 2,7% in dieselfde maand in 2021. Die koers vir die item wat brandstof insluit, was 19% teenoor die -4,7% ‘n jaar gelede.

Maart se groot styging gaan sektore soos landbou en logistiek onder druk plaas waar brandstof ‘n groot insetkoste is. Dit sal as hoër pryse vir ingevoerde produkte na die verbruiker deurvloei, sê McGregor.

Van Wyk waarsku dat hoër inflasie die Bank of Namibia (BoN) kan noop om rentekoerse vinniger te verhoog as wat verwag is. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!