‘Brandstofpryse kan styg’
Namibië kan hom, saam met die res van die wêreld, op stygende brandstofpryse voorberei.
Gesamentlike Amerikaanse en Israeliese lugaanvalle Saterdag op Iran, het die Midde-Ooste in chaos gedompel en skokgolwe deur wêreldwye oliemarkte gestuur.
Terwyl die Midde-Ooste brand, neem vrese vir ’n nuwe wêreldoorlog toe.
Die konflik het olieleweringsroetes in wanorde gedompel, met markte wat hul asems ophou vir langdurige onstabiliteit in die Straat van Hormoes, ’n noodsaaklike internasionale skeepsroete vir die vervoer van olie.
Gevolglik sal Suid-Afrika, wat ongeveer 80% van sy ruolie uit die Midde-Ooste invoer, hierdie week skerp verhogings in brandstofpryse sien. Suid-Afrika se departement van minerale en petroleumhulpbronne (DMPR) het Dinsdag verhogings aangekondig wat wissel van 20 sent tot 65 sent per liter, wat vandag van krag is.
Petrolpryse sal met 20 sent per liter styg, terwyl diesel met tot 65 sent sal klim.
Volgens die DMPR het Brent-ruoliepryse die afgelope weke van US$64,08 tot US$69,08 opgeskiet, gedryf deur “hoër verskepingskoerse en geopolitieke onsekerheid wat deur die Midde Oosterse konflik veroorsaak is”.
Die departement het gewaarsku dat verdere ontwrigtings pryse selfs nog hoër kan dryf as die krisis vererger.
PLAASLIK
In Namibië het die waarnemende adjunkdirekteur van petroleumsake in die ministerie van myne, energie en nywerheidsontwikkleing, Abednego Ekandjo, gesê die sluiting van die Straat van Hormoes sal al die lande wat brandstof invoer wêreldwyd raak.
Die goeie nuus is dat die wêreldwye olie- en brandstofmark genoegsaam gediversifiseerd is sodat dit nie regverdig dat Namibiërs brandstof hoef op te gaar nie, het hy gesê.
“Ons verkry nie net uit ’n enkele bron nie,” het hy gesê.
Hy het Indië, China, Europa en Afrika-bronne, insluitend Nigerië en Libië, as alternatiewe vir Namibië genoem.
Gister het Paulo Coelho, die woordvoerder van die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor), gesê dat ’n vaartuig wat ’n besending olie vervoer, tans op pad na Namibië is en dat die nasionale oliebergingsgeriewe genoeg olie stoor om plaaslike behoeftes vir drie maande te dek.
Nietemin kan beduidende gevolge vir oliepryse en verskepingskoste verwag word, het Ekandjo gewaarsku.
Volgens hom kom tussen 20% en 25% van die wêreldwye voorrade uit die streek wat deur die toenemende konflik geraak word, wat reeds 12 Midde-Oosterse lande insluit.
“Handelsvloei word geraak, aanbod word geraak. Pryse sal begin styg. Dit is ’n hoogs wisselvallige situasie wat die koste per vat en verskepingskoste beïnvloed,” het Ekandjo verduidelik.
Gelukkig vir Namibiese verbruikers het die ministerie Vrydag aangekondig dat brandstofpryse vir Maart in Namibië onveranderd bly. Alhoewel handelaarsmarges met 2 sent tot N$2,38 per liter van vandag af effektief aangepas word, betaal Namibiese verbruikers aan die kus, soos sake tans staan, vir die res van dié maand steeds N$19,58 per liter vir petrol, N$19,63 vir diesel 50 ppm en N$19,73 per liter vir diesel 10 ppm.
Plaaslike brandstofverskaffer Puma Energy het Maandag ook bevestig: “Op kort termyn verhoog die huidige spanning in die Midde-Ooste markwisselvalligheid, asook versekerings- en vragkoste, selfs terwyl wêreldwye energiemarkte goed voorsien bly.”
Puma stem saam met die adjunkdirekteur dat “vir Afrikalande, die grootste impak waarskynlik deur pryse gevoel sal word eerder as onmiddellike fisieke tekorte.
“As gevolg van waarskynlike verskuiwings in internasionale prysbepaling en produkvloei, sal ’n gekoördineerde benadering met verskaffers en bemarkers die kontinuïteit van voorsiening en energiesekerheid versterk.”
Puma sê verder “daar is in hierdie stadium geen aanduiding van ontwrigting van plaaslike beskikbaarheid in Namibië nie,” maar oor die medium tot langer termyn. “Gebeure soos hierdie benadruk die belangrikheid daarvan om energieveerkragtigheid oraloor die vasteland te versterk,” sê Puma.
“Baie Afrika-ekonomieë steun op ingevoerde geraffineerde produkte en is daarom aan eksterne geopolitieke ontwikkelings blootgestel.
“Voortgesette belegging in strategiese reserwes, bergingsinfrastruktuur en diversifikasie van voorsiening sal noodsaaklik wees om kwesbaarheid vir wêreldwye skokke te verminder.
“Die bou van sterker streekkoördinering en die versterking van binnelandse kapasiteit waar haalbaar, sal stabiliteit verder verstewig en verseker dat Afrika goed geposisioneer is om toekomstige markontwrigtings met vertroue te hanteer,” sê Puma Energy.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie