Eerste lorrie met plaaslike groen waterstof gevul

Oorgang na hernubare energie
Namibië se staatshoof het gister gesê die produksie van groen waterstof is nou 'n werklikheid vir Namibië.
Jemima Beukes
Leandrea Mouers en Jemima Beukes – By ’n geskiedkundige geleentheid vir die land is die eerste vragmotor met Namibies-vervaardigde groenwaterstofbrandstof by die Cleanergy Solutions Namibia H2-diensstasie buite Walvisbaai gevul.

Koning Philippe van België en die Namibiese president, dr. Nangolo Mbumba, was gister op ’n amptelike besoek aan Cleanergy Solutions Namibia – ’n gesamentlike onderneming tussen ’n Belgiese gebaseerde maatskappy en die Namibiese maatskappy Ohlthaver and List (O&L).

Tydens die geleentheid het die uitvoerende hoof van CMB-Tech, Alexander Saverys, verduidelik dat Namibië groen waterstof sal vervaardig deur son en water te gebruik.

“Hierdie projek is uniek en revolusionêr vir Afrika. Dit wys die rol wat Afrika in die wêreldwye energie-oorgang kan speel. Ons doen dit omdat ons glo die vermindering van koolstofdioksied en die verskuiwing na hernubare energie is sleuteltendense in die globale ekonomie.”

Koning Philippe het gesê hy is trots op die feit dat beide lande daartoe verbind is om die planeet vir hul toekomstige geslagte te bewaar.

“Namibië en België glo sterk in die noodsaaklike rol wat groen waterstof sal speel om die oorgang na hernubare energie te verwesenlik, of dit nou vir skeepvaart, padvervoer, treine of selfs vir kleinskaalse plaaslike behoeftes is, soos die voorbereiding van maaltye.”

Hy het bygevoeg dat die projek ’n voorbeeld van grondverskuiwende waterstofproduksie in Afrika is.

“Dit poog om te demonstreer dat groen waterstof en ammoniak doeltreffend en op grond van hernubare energiebronne vervaardig kan word.”

Mbumba en koning Philippe het die geleentheid gehad om die eerste persone te wees om die waterstofpunt aan die vragmotor te koppel, waarna die vragmotor met groen waterstof gevul is.

Die afvaardiging het ook die geleentheid gekry om ’n demonstrasie deur Clean Cooking and Cooling with Solar Hydrogen in Africa (COOSHA), op die eerste waterstofaangedrewe tweeplaatstoof, eerstehands te sien.

‘VIR ALLE NAMIBIëRS’

Mbumba het tydens sy toespraak gesê die produksie van groen waterstof is nou 'n werklikheid vir Namibië.

Hy het ook gesê die mense wat glo dat hy ’n aandeel in die groenwaterstofprojek het, hom nie pla nie aangesien dit vir alle Namibiërs is.

“Ek weet Namibiërs gaan sê Mbumba het reeds 'n maatskappy en die Belge gee hom baie geld. Laat hulle sê wat hulle wil sê. Die bedryf hier is tot voordeel van alle Namibiërs.”

Hy het Namibiërs ook daaraan herinner dat hulle ’n gawe van God ontvang het om so ’n groot land te hê en nywerhede sal nou ingerig word “sodat Namibiërs goeie dinge sal aanskou”.

“Soms is dit goed om te droom, maar dit is belangriker om dinge te doen.”

VENNOOTSKAP

Volgens die minister van myne en energie, Tom Alweendo, het hulle besef dat die projek meer doeltreffend sal wees as hulle globale ekonomiese vennote het en daarom het hulle hul diplomatieke ekonomie gebruik om vennote soos die Belgiese regering te vind.

“Jy moet standaarde hê wat wêreldwyd aanvaar word en aanvaarbaar is vir ons almal. Jy moet seker maak dat jy mededingend is, want daar is mense wat dieselfde ding doen. Daarom is ons baie bly om hierdie vennootskap te hê,” het Alweendo gesê.

SKEEPVAART EN MYNBOU

Saverys het daarop gewys dat die skeepsbedryf – waar dit moeilik is om koolstofdioksied te verminder en wat nie na batterye of elektrisiteit kan oorskakel nie – op molekules moet werk, nie elektrone nie en dié molekules sal glo in Namibië vervaardig word.

“Dit is hier op hierdie perseel op Walvisbaai waar ons hierdie molekules wil vervaardig. Ons sal die groen waterstof gebruik om vragmotors, lokomotiewe, myntoerusting, hawetoerusting aan te dryf, maar ons sal ook ’n klein gedeelte van daardie groen waterstof in groen ammoniak omskep wat in die mynbedryf gebruik kan word,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!