Mnr. James Mnyupe
Mnr. James Mnyupe

Ekonomie kry energie

Miljoene vloei vir groenwaterstof
Met die hulp van Europese kundiges is Namibië besig om die finansiering van sy groenwaterstofaspirasies om verskeie fronte te takel.
Jo-Maré Duddy
Namibië se planne om ‘n wêreldspeler in die sintetiese brandstofbedryf te word, het Vrydag ‘n hupstoot gekry met die bekenstelling van drie projekte ter waarde van sowat N$680 miljoen.

Ingevolge ‘n vennootskap tussen die Namibiese regering en Duitsland stel dié Europese moondheid altesaam 40 miljoen euro beskikbaar, waarvan 30 miljoen euro (sowat N$520 miljoen) vir die konstruksie van twee loodsaanlegte vir groenwaterstof plaaslik geoogmerk is.

Volgens mnr. James Mnyupe, Namibië se waterstofkommissaris en ekonomiese raadgewer van pres. Hage Geingob, gaan kapitaal vir dié nie-kommersiële aanlegte reeds vanjaar “op die grond ontplooi word”.

Tydens ‘n nuuskonferensie by Staatshuis het Mnyupe gesê nóg vyf miljoen euro – ongeveer N$85 miljoen – gaan vir Namibië se sintetiese brandstofstrategie gebruik word. Dit sal studies oraloor Namibië befonds om die land se volle potensiaal te bepaal om ‘n wêreldleier in dié bedryf te word. Buiten vir //Kharas en Erongo, sal Kunene ook onder die loep geneem word.

Sowat N$85 miljoen is voorts bewillig vir beurse vir Namibiërs wat hulle in die rigting wil bekwaam. Minstens 200 beurse teen ‘n maksimum van N$400 000 per beurs is oor vier jaar beskikbaar. Opleiding sal via vennootskappe tussen Namibiese en Duitse universiteite geskied en die eerste studente sal in 2023 geplaas word.

Bykomend gaan die ontwikkelaars van groenwaterstofbates in die land voorsiening maak vir indiensopleiding van Namibiërs. Ná opleiding van drie jaar sal hulle in 2024 en 2025 ontplooi word.

Volgens Mnyupe sal gedetaileerde inligting oor bogenoemde projekte op 11 Maart vanjaar vrygestel word.

GLOBAL GATEWAY

“Europa stel geensins daarin belang om ‘n groenfort te wees nie,” het dr. Stefan Kaufmann, Duitsland se groenwaterstofkommissaris, by Staatshuis gesê.

“Ons wil die wêreld se groen-ekonomie lei en sal vroeë rolspelers in Afrika ondersteun. Die Europese Unie (EU) en Afrika is natuurlike vennote," het Kaufmann gesê.

Namibië se reusepotensiaal vir wind- en sonkrag plaas die land in ‘n “uitstekende wegspringplek”. Namibië kan ‘n wêreldspeler vir die voorsiening van groenwaterstof word, wat dit ‘n aantreklike vennoot vir baie lande maak, volgens hom.

Mnyupe het vroeër Vrydagoggend aan ‘n begrotingsbespreking van PwC Namibia, Standard Bank Namibia, Liberty Life Namibia en Namibia Media Holdings (NMH) deelgeneem. Die regering het reeds pro-aktief met die Europese Kommissie begin werk, spesifiek betreffende dié ekonomiese blok se Global Gateway-inisiatief, het Mnyupe gesê.

Dié totale pakket van 150 miljard euro vir Afrika-lande sluit konsessionêre finansiering en skenkersgeld in. Die EU gaan Namibië egter ook help om vaste-inkomste-instrumente te struktureer om die risiko van projekontwikkeling in die land te beperk.

FINANSIERINGSRAAMWERK

‘n Span EU-kundiges het Namibië verlede week besoek met die doel om ‘n moontlike groeneffekte (“green bonds”) te begin struktureer. Hulle gaan ook help gestalte gee aan Namibië se geïntegreerde nasionale finansieringsraamwerk. Dít sal Namibië in staat stel om konsessionêre kapitaal, skenkersgeld en selfs waarborge by instellings soos die Europese Beleggersbank (EIB) te bekom. Die Namibiese aandelebeurs (NSX) gaan ook met die beurs in Luxemburg saamwerk, het Mnyupe gesê.

“Ons gaan saam met die EU werk om beleggers te lok wat in Namibiese skuld wil belê, hetsy gewone skuld, groeneffekte, volhoubaarheidseffekte of maatskaplike effekte. Sodoende gaan ons likiditeitsvlakke baie verhoog en ons kapitaalmarkte verdiep,” aldus Mnyupe.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!