Hawens ervaar meer verkeer

Vraghouerhantering groei met 8%
Namport het in sy laaste finansiële jaar goed gevorder om vir terugslae weens Covid-19 te vergoed, maar sekere syfers is steeds benede die data vir 2019-'20.
Augetto Graig
Oor die tydperk van twaalf maande totdat Namport se boekjaar op 31 Maart 2022 geëindig het, is 289 meer vaartuie in Namibië se twee hawens by Walvisbaai en Lüderitz verwelkom as die jaar tevore.

Hierdie verkeer van 1 592 vaartuie is 22% meer as 2019-’21 se boekjaarsyfer van 1 303, toe besoeke met 20% getuimel het.

Die inkrimpings weens die Covid-19-pandemie is egter steeds nie heeltemal ingehaal nie. In 2018-’19 is 1 628 vaartuie ontvang. Die nuutste jaartotaal is weliswaar net 2% benede hierdie syfer.

Volgens me. Taná Pesat, woordvoerder van Namport, verteenwoordig die vrag vir 2021-’22 ’n gesamentlike bruto verhoging van 3,4 miljoen ton.

“Die totale vrag wat jaar op jaar hanteer is, was 6,5 miljoen ton. Dis ’n toename van 380 541 ton, of 6%. Inkomste vir die jaar het ook met 9% verbeter,” het sy gesê.

Altesaam 168 278 meer vraghouers is hanteer; 8% of 12 298 meer as in 2020-‘21. Hiervan was 36% of 61 106 van die totaal, vraghouers bestem vir uitvoer.

Invoere het 41% van die totaal uitgemaak, met 69 467 vraghouers. ’n Totaal van 37 705 vraghouers is oorgelaai.

Pesat sê die groei in vraghouerverkeer was te danke aan groter volumes koper, houtskool, bevrore vis, marmer, bevrore pluimvee, suiker, chemikalieë, afvalstaal en houtprodukte wat deur die hawens beweeg het. Sulke vrag word gewoonlik in vraghouers verskeep.

Die hawens het ook groot volumes vrag hanteer wat individueel op die skip getel en verpak word, asook grootmaatvrag wat sonder verpakking vervoer word.

Uit altesaam 4,4 miljoen ton was 40% of 1,8 miljoen ton vrag vir uitvoer in hierdie kategorieë. ’n Totaal van 2,6 miljoen ton sulke vrag (59%) was ingevoer. Slegs 34 709 ton, of 1% van hierdie soort vrag, was oorgelaai, volgens Namport se statistiek.

Ongehouerde vrag se volume het vir die betrokke tydperk met 9% toegeneem. Hierdie styging van 360 189 ton kan aan meer handel in brandstof, staal, gevrieste vis, ammoniumnitraat, ystererts, marmer, skeepsonderdele, mangaanerts en plat kartonne toegeskryf word, sê Pesat.

BUURLANDE

Met betrekking tot oorgrenshandel kon Namport van ’n toename van 3% tot 177 133 ton verslag lewer. Bykans die helfte, 48% van die handel, was met Suid-Afrika, 23% met Zambië, 15% met die Demokratiese Republiek die Kongo, 6% met Zimbabwe asook Botswana, 2% met Angola en 1% met Malawi.

Namibië dien as uitvoerroete vir SADC-lande, veral wat koper, mangaanerts en houtprodukte betref, terwyl lede van die Ontwikkelingsgemeenskap hoofsaaklik bevrore vis, voertuie, masjienerie, onderdele, bande, chemikalieë (vir mynbougebruik), elektriese goedere en toerusting, asook mout deur Namibië invoer.

Saam met die goeie nuus maan Pesat egter oor die moontlike impak van die oorlog in die Oekraïne, wat wêreldwye onstabiliteit meebring. Die oorlog kan die vervaardiging en uitvoer van vele produkte belemmer, wys sy uit.

“Die (oorlog se) ekonomiese gevolge is reeds baie ernstig. Energie- en kommoditeitspryse, insluitend van koring en ander grane, het reeds gestyg,” sê Pesat. Inflasionêre druk en wanbalanse tussen vraag en aanbod kan ook voorsieningskettings ontwrig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!