Landgoed amper ’n realiteit

Internasionale, plaaslike beleggers nodig
Die President's Links Estate wat naby Walvisbaai beplan word, se konstruksie sal glo vanjaar afskop.
Kristien Kruger
Die konstruksie van die President’s Links Estate, wat glo 148 hektaar gaan beslaan en onder meer ‘n wêreldklas-gholfbaan gaan insluit, sal voor die einde van die jaar begin en sal volgens beplanning in vyf jaar voltooi wees.

Die landgoed sal glo aangrensend tot die Dorob Nasionale Park gebou word en sal sowat 745 luukse wooneenhede insluit.

Die uitvoerende hoof van die landgoed, mnr. Andrew van Schalkwyk, het die afgelope week aan Republikein bevestig dat hul reeds ‘n omgewingsklaringsertifikaat vir 111 hektaar ontvang het. Volgens hom wag hulle nog vir die omgewingsimpakstudie van die oorblywende 34 hektaar.

“Geen konstruksie kan begin sonder daardie goedkeuring nie.”

Volgens Van Schalkwyk is hulle in kontak met internasionale en plaaslike beleggers om die projek finansier.

“Dit bly 'n voortdurende onderhandeling om te verseker die finansiële model wat ons kies is die regte een vir die projek om inflasie en die styging van koste oor die konstruksietydperk te bestuur,” het hy gesê.

WATERBRONNE

Die landgoed sal volgens Van Schalkwyk van twee verskillende waterbronne gebruik maak.

“Die een bron is vars water. Die residensiële en kommersiële gedeelte van die landgoed sal vars water ontvang en sal vars water gebruik soortgelyk aan enige nuwe residensiële uitbreiding van die dorp.

“Die tweede bron van water is rioolwater. Tans het die dorp oortollige rioolwater wat nie benut word nie. Hierdie water sal gesuiwer word dat dit vir besproeiingsdoeleindes op die gholflandgoed gebruik kan word.”

Van Schalkwyk het bevestig dat die suiweringsaanleg deur President's Links gebou en bedryf sal word.

“Die ooreenkoms vir die aankoop van riool en die bestuur van die aanleg, sal saam met die verkoopsooreenkoms gefinaliseer word.

“Waterbesparing is 'n prioriteit vir beide die munisipaliteit en die ontwikkelaars, Beide partye werk saam om te verseker dat die water verantwoordelik gebruik sal word.”

WÊRELDKLAS-GHOLFBAAN

Die gholfbaan sal volgens die webtuiste midde-in Namibië se kenmerkende duine gebou word.

Die spesifieke ligging is deur die wêreldbekende gholfbaanontwerper Peter Matkovich en sy vennoot, die ewe bekende major-beroepspeler en wenner van die 2010 Britse Ope, Louis Oosthuizen, gekies.

’n Gimnasium, bioskoop, eetplekke en aftreeoord word ook vir die landgoed beplan. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer