Litiumproduksie dalk al in Julie

Augetto Graig
Die mynbouer Andrada Mining vorder fluks om sy tinmyn op Uis in ’n multimineraalmyn te omskep met die aankondiging vroeër vandeesmaand van die eerste litiumkonsentraat (4,16% Li₂O)-produksie.

Die maatskappy het op 22 Mei aangekondig dat sy eerste konsentraat met ’n hoë suiwerheid deur sy proefprogram vervaardig is.

Hoewel die konsentraat nie by die Uis-perseel vervaardig is nie, is dit ’n belangrike stap in die ontwerp van sy bykomende produksieaanleg wat langs die bestaande tinproduksieaanleg gebou word.

Andrada se uitvoerende hoof, Anthony Viljoen, het verlede week aan moontlike beleggers in Londen, Engeland, gesê die produksie van plaaslike litiumkonsentraat kan al in Julie op Uis verwag word.

Konstruksie aan die grootmaat-litiumproefaanleg waar monsters getoets word, verloop volgens skedule - en val binne die begroting - om in Junie 2023 voltooi te wees, het die maatskappy vroeër in Mei aangekondig.

Viljoen het vroeër gesê: “Ons is verheug om die produksie van ons eerste verkoopbare grootmaat-litiumkonsentraat aan te kondig. Hierdie mylpaal volg op die voorheen gerapporteerde suksesvolle laboratoriumtoetswerk en ons glo dit bring ons een stap nader aan volskaalse litiumproduksie,” het hy gesê.

“Met die voltooiing van die proefaanleg op die perseel, beoog ons om grootmaat-proeftoetswerk op al ons mineraallisensies te bespoedig. Terselfdertyd beplan ons om die proefproduksie van litiumkonsentraat te verhoog vir toetsing deur potensiële kopers om aanvanklike litiumverkope te behaal.

“Ons glo dit is ’n groot stap om die waarde van ons mineraalbates in Namibië te besef en ons sien uit om die mark mettertyd op te dateer,” het hy bygevoeg.

Met behulp van digte medium skeiding (DMS) word grootmaat-monsters vanaf Andrada se Nai Nais (ML133)-lisensiegebied ook deur Bond Equipment, ’n spesialis in mineraalverwerking in Suid-Afrika, verwerk. Dit het tot die vervaardiging van die eerste halfton konsentraat gelei. Andrada verwag om meer as 10 ton konsentraat op dié manier te vervaardig, het die maatskappy aangekondig. Andrada sê die konsentraat is geskik vir gebruik in die nywerheidsmark wat glasware en keramiek vervaardig, en ook vir litiumraffinaderye.

Andrada besit mynboulisensies ML134, ML133 en ML129 wat almal binne 40 km vanaf Uis geleë is, en wat almal litium, tin en tantaal bevat. Planne vorder om later ook tantaalkonsentraat op Uis te vervaardig.

Intussen het Andrada ook aangekondig dat ’n lening vanaf die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) nog vandeesmaand gefinaliseer kan word, met die eerste finansiering wat in Junie verwag word.

Nog ’n finansieringsopsie met Orion Global Resource hang af van ooreenkomste met DBN en Standard Bank, volgens Andrada. Barclays is intussen aangestel as adviseur om voorstelle vir vennootskappe wat die genoteerde onderneming gereeld ontvang, te ontleed.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!