Mynbou toon stewige groei

Toename in produksie en uitvoerwaarde
Die veiligheid in die mynbousektor raak 'n bekommernis soos dié sektor versnel en 'n stormloop in minerale voortduur.
Augetto Graig
Vir die boekjaar 2022-’23 is die regering – te danke aan die mynbousektor – N$4,323 miljard in belasting ryker.

Dit terwyl die uitvoerwaarde vir elke mineraalklassifikasie verbeter het.

Volgens die Bank of Namibia (BoN) se statistiek het Namibië verlede jaar diamante ter waarde van N$14,4 miljard uitgevoer, asook ander minerale ter waarde van N$21,3 miljard.

Die plaaslike mynboubedryf het verlede jaar sterk ekonomiese groei getoon, ’n stormloop in kritieke metale beleef en sukses behaal met steunwerwing vir die wysiging van wetgewing om eksplorasie te vergemaklik.

Dit volgens Hilifa Mbako, die voormalige president van die Namibiese Kamer van Mynwese.

“Die verhoogde inkomste is ondersteun deur die hoër pryse wat in Namibiese dollar ontvang is vir die uitvoer van minerale as gevolg van ’n swakker algehele wisselkoers in 2022,” het hy by die Kamer van Mynwese se jaarvergadering gesê.

Sy toespraak by dié geleentheid op 26 April by Arebbusch in Windhoek was sy afsluiting, voor Zebra Kasete amptelik die leisels oorgeneem het.

Die kommer wat Mbako uitgelig het, is die veiligheid van die 16 147 werknemers wat in 2022 vir mynbou-ondernemings gewerk het, 6,9% meer as die vorige jaar.

Twee ondernemings – beide nie lede van die kamer nie – en al twee doenig met steengroefbedrywighede, het ernstige beseringe en een sterfte gehad.

“Een sterfte is een te veel en elke sterfte in die plaaslike mynbousektor is dus in die kamer se veiligheidsverslae aangeteken. Dit is ons visie om die hele mynbousektor se arbeidsmag te beskerm,” het hy gesê.

Die aantal dae wat weens beserings verlore gegaan het, het in 2022 tot 46 gestyg vanaf 37, terwyl die aantal beserings wat tot gestremdhede gelei het vanaf 48 in 2021 tot 65 in 2022 toegeneem het, volgens hom.

Dit terwyl die bedryf met 21,6% gegroei het in vergelyking met 11% in 2021.

Die toename in produksie is deur die verhoogde ontginning van diamante aangespoor, met 44,2% meer diamante wat verlede jaar opgelewer is.

Dit is grootliks te danke aan Debmarine Namibia se diamantskip, die MV Benguela Gem, volgens die kamer.

Die mynbousektor se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) het toegeneem vanaf 9,2% in 2021 tot 12,2% verlede jaar.

Die produksie van sink het met 39% verbeter, terwyl uraanproduksie met 16% gegroei het.

Uraanpryse het verbeter terwyl daar verwag word dat die aanvraag oor die volgende 20 jaar kan verdubbel en die voorsiening nie aan die vraag sal kan voldoen nie.

Dit terwyl China, Amerika, Japan en Suid-Korea weer kernkrag tot hul nasionale kragnetwerke voeg.

Die Navachab-myn se goudproduksie het met 61% geklim, alhoewel Otjikoto se goudproduksie met 18,2% verminder het.

Rosh Pinah Zinc Corporation (RPZC) het ’n rekord 74 miljoen pond sink ontgin, alhoewel die produksie van nasionale sinkkonsentraat met 4% verminder het. Inteendeel was die produksie van loodkonsentraat 31% meer as in 2021, die produksie van tinkonsentraat 9% meer en growwe sout se produksie het met 10% gestyg.

Mbako het genoem dat beleggings in eksplorasie vir neerslae van nuwe minerale-hulpbronne in 2022 meer as N$1,3 miljard beloop het, met Andrada se uitbreiding op Uis en Osino se versnelling van die Twin Hills-goudprojek wat groot bydraers was.

Die nuwe wysigingswet op BTW laat vanaf 1 Januarie eksplorasie-maatskappy toe om maklik te registreer en om vir inset-terugbetalings aansoek te doen.

Volgens Mbako is dit ’n wensituasie vir die bedryf wat Namibië as ’n mynboubeleggingsbestemming sal bevorder. Verlede jaar is 822 nie-eksklusiewe prospekteerlisensies toegeken, meer as enige jaar sedert 2002.

Altesaam 56 eksklusiewe prospekteerlisensies is toegeken, met 115 kleims wat geregistreer is, en agt mynboulisensies wat uitgereik is, volgens die Kamer van Mynwese.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!