Namibië skitter by mynbou-indaba

Hoëprofiel-afvaardiging na SA gestuur
Die minister van myne en energie is in die Kaap om vennote en beleggers te lok wat waarde tot Namibië se ryk verskeidenheid minerale hulpbronne sal voeg.
Augetto Graig
Die jaarlikse Afrika Mynbou-indaba in Kaapstad, Suid Afrika, is vandeesweek aan die gang, en Namibië het ’n hoëprofiel-afvaardiging onder leiding van die minister van myne en energie, Tom Alweendo, gestuur.

Die minister sê die afvaardiging woon die indaba by om beleggers van oraloor die wêreld aan die verskeidenheid mynbougeleenthede in Namibië bloot te stel.

Die mynbou-indaba eindig vandag [Donderdag], en word vanjaar vir die 28ste keer aangebied.

Die minister sê die mynbou-indaba bied ’n unieke geleentheid om Namibië se toewyding tot volhoubare mynpraktyke ten toon te stel en om ook met die land se toewyding tot volhoubare mynboupraktyke te spog.

Alweendo is spesifiek op soek na vennote en beleggers wat waarde tot Namibië se ryk verskeidenheid minerale hulpbronne sal voeg.

“Dit sal veerkragtigheid in die plaaslike ekonomie bou en bydra tot strukturele ekonomiese transformasie,” het hy voor sy vertrek na Suid-Afrika gesê.

Namibië se deelname is onder die tema “Namibië: Versekering van beleggings in volhoubare mynbouvoorsieningskettings”.

Die Namibiese afvaardiging sluit in die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB) en die leierskap van Epangelo, BW Energy, OSINO Resources, Andrada en die Namibiese Kamer van Mynwese. Hulle het Maandag aan 'n gevallestudie getiteld “Beleggingsgeleenthede in Namibië” deelgeneem.

Alweendo het gedurende sy amptelike toespraak uitgebrei oor die gevestigde wetlike raamwerk vir Namibië wat die regering handhaaf, ingevolge die Wet op Myn en Prospektering van Minerale, no. 33 van 1922.

“Die land se goeie reputasie in terme van bestuur, regulatoriese raamwerk, gesonde infrastruktuur en politieke stabiliteit is faktore wat bydra tot beleggers se vertroue om sake in die Namibiese minerale sektor te doen,” sê die minister.

Verder maak die Namibiese regering ook reg om ’n aanlyn aansoekstelsel teen August vanjaar van stapel te stuur, sê Alweendo.

Dit sal help om vinniger en meer deursigtig tot ’n groeiende belangstelling in mynboubelegging in Namibië te reageer, sê hy.

Die minister het ook gesê talle projekte wat lank onder instandhouding kwyn, kry weer lewe, veral by uraanmyne.

Die ministerie het ’n toename in die aanvraag na skoon energieminerale opgemerk, en volgens Alweendo is eksplorasielisensies vir dié minerale tot dusver aan twee maatskappye toegeken.

“Ons verwag dat die aantal belangstellende maatskappye sal toeneem,” sê Alweendo.

Bykomende belangstelling wat Namibië geniet, is vir projekte om litium, kobalt, seldsame aardelemente, grafiet, sink en tantaal te ontgin.

“In die afgelope paar jaar het die toegang tot kritieke minerale-voorsieningskettings ’n wêreldwye strategiese kwessie geword.

“Namibië sien die belangstelling in sy kritieke minerale as ’n geleentheid om die huidige situasie te benut om beter waarde uit sy minerale hulpbronne te verkry,” volgens Alweendo.

Alweendo het ook die onlangse ontdekking van olie langs die Namibiese kuslyn genoem, en gesê meer eksplorasie vir olie en gas is nodig, veral wanneer energiehulpbronne kan bydra tot beter lewensomstandighede vir Namibiërs.

Mynbou dra reeds 11% tot Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) by en is verantwoordelik vir meer as die helfte van die land se buitelandse valutaverdienste.

Namibië is ’n wêreldklas-produsent van ongeslypte diamante, uraan, goud, sink, fluorspar, koper, lood, kalksteen, sement, sout en klip, volgens die minister.

“Nuwe eksplorasies en uitbreidings bevestig dat die mynbousektor steeds ’n belangrike rol in die Namibiese ekonomie sal speel,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!