Namibiese goudreserwes wink

BoN: Voorbereidings vorder flink
Geraffineerde Namibiese goud sal buitelandse reserwes versterk.
Augetto Graig

Namibië vorder met die sentrale bank se plan om goudreserwes in die land te vestig.

By die aankondiging van die onveranderde repokoers (teen 6,50%) by die Bank of Namibia (BoN) Woensdag, het ’n lid van BoN se monetêre beleidskomitee, Nicholas Mukasa, bevestig dat onderhandelinge met plaaslike goudmyne en goedgekeurde goudraffinaderye reeds redelik ver gevorderd is.

“Ons is baie naby, bly op hoogte. Ons sal julle binnekort laat weet wanneer ons met die verkryging begin,” het hy gesê.

Mukasa het bygevoeg dat die sentrale bank as ’n instelling toegewyd bly tot die verkryging van goud.

“Soos ons in die verlede verduidelik het, bring goud baie voordele vir die bank se buitelandse reserweportefeulje. “Eerstens diversifiseer dit ons buitelandse reserweportefeulje en tweedens hou ons van hoe dit in die geval van ’n krisis presteer,” het hy gesê.

Hy sê die verkrygingsproses behels die betrokkenheid van ’n paar rolspelers, spesifiek plaaslike goudmyne en goedgekeurde goudraffinaderye waardeur BoN die goud sal aankoop. 

“Op hierdie tydstip het ons al hierdie partye genader en ons het redelike vordering gemaak met die finalisering van die ooreenkomste wat ons in staat sal stel om die insameling van die goud uit te voer,” het hy bygevoeg.

BoN se direkteur van strategiese kommunikasie, Kazembire Zemburuka, het reeds in Mei verlede jaar, nadat die plan voor president Netumbo Nandi-Ndaitwah ter tafel gelê en goedgekeur is, bevestig dat goud plaaslik in Namibië ontgin word en dat die sentrale bank se strategie die verkryging van goud vanaf plaaslike myne sal behels.

Die goud word dan deur buitelandse raffinaderye verfyn voordat dit teruggebring sal word om plaaslik bewaar te word. Teen Augustus 2025 is dit bevestig dat die goud tot 3% van BoN se reserwes sal uitmaak.


GESPREKKE

Die voormalige goewerneur van BoN, Johannes !Gawaxab, het toe gesê gesprekke was reeds met Rand Refinery en met beide B2Gold se Otjikoto-goudmyn en QKR se Navachab-myn aan die gang.

“Ons wil goud vir strategiese doeleindes verkry en dit is ’n langtermyn-beskouing wat ons inneem,” het !Gawaxab destyds gesê en dat die goud tot 99%-suiwerheid verfyn moet word, aangesien plaaslike myne goud net tot 85%-suiwerheid vervaardig.

Dit is om standaarde vir die reserwes gelykstaande aan dié van die London Bullion Market Association vas te stel.

“Goud bly ’n strategiese bate, ’n waardebewaarder, ’n inflasieverskansing en ’n simbool van soewereine outonomie,”het !Gawaxab toe gesê.

Die huidige BoN-goewerneur, Ebson Uanguta, het by Woensdag se geleentheid gesê dat die internasionale goudprys steeds naby geskiedkundige hoogtepunte bly, “versterk deur die volgehoue vraag na veilige hawens en ’n relatief swakker Amerikaanse dollar”.

Die goewerneur het bygevoeg: “Die voorraad (van) internasionale reserwes het herstel van die afname wat in Oktober 2025 aangeteken is ná die suksesvolle terugbetaling van die Eurobond van US$750 miljoen.

“Buitelandse reserwebates het vanaf N$48,6 miljard aan die einde van Oktober 2025 tot N$51,9 miljard teen die einde van Januarie 2026 gestyg, hoofsaaklik ondersteun deur ontvangste van SACU [die Suider-Afrikaanse Doeane-unie]. 

“Op hierdie vlak behels buitelandse reserwes ’n beraamde invoerdekking van 3,3 maande, wat voldoende is om die geldeenheidskoppeling [met Suid Afrika] te ondersteun en die land se internasionale finansiële verpligtinge na te kom,” het Uanguta gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer