FOTO UNSPLASH
FOTO UNSPLASH

Namibië maak vordering met gryslys-kwessies

Tweede verslag ingedien
Namibië moet teen Mei aanstaande jaar 13 geïdentifiseerde strategiese tekorte takel.
Brigitte Weidlich
Brigitte Weidlich - Namibië se pogings om te voldoen aan internasionale verpligtinge om maatreëls teen geldwassery en onwettige transaksies op te skerp vorder goed.

Verteenwoordigers van die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC), ’n departement van die Bank of Namibia (BoN), het verlede Vrydag ’n tweede vorderingsverslag aan ’n internasionale komitee in Parys in Frankryk oorhandig.

Namibië is in Februarie 2023 op die Finansiële Aksie-taakmag (FATF) se gryslys geplaas weens kommer oor die doeltreffende implementering van internasionale standaarde om geldwassery, die finansiering van terrorisme asook verspreidingsfinansiering hok te slaan.

Die FATF is ’n agentskap van die Verenigde Nasies (VN). Die FATF het terselftertyd ’n aksieplan vir Namibië opgestel om 13 geïdentifiseerde strategiese tekorte teen Mei 2026 te takel.



ONVOLDOENDE

As ’n ondertekenaar van verskeie VN-konvensies moet Namibië as ’n lidland ook geldwassery en verwante georganiseerde misdaad hokslaan. Die FATF het ten doel om VN-lande in verband met hierdie verpligtinge te ondersoek.

Namibië het die afgelope twee jaar nege wette gewysig, twee herroep en met nuwe wette vervang en nog twee wette ingestel wat nie voorheen in die Namibiese regsraamwerk verteenwoordig was nie.

Dit was egter nie voldoende nie en Namibië is net soos sy buurland Suid-Afrika op die gewraakte gryslys geplaas.

Volgens die hoof van die FIC by die sentrale bank, Bryan Eiseb, het die FATF nou bevestig dat Namibië vordering maak om die strategiese tekorte te takel.

“Namibië het grootliks vier aksiepunte herstel en die oorblywende punte is gedeeltelik herstel met die uitsondering van een aksiepunt waar dit nie die geval is nie,” het Eiseb gesê.

Die FIC is die koördineerder vir die implementering van die FATF-aksieplan.



VERSLAG

“Namibië gaan volgende week op 7 Maart sy volgende vorderingsverslag indien. ’n Sleutel-aksiepunt wat tydens hierdie verslagdoeningsiklus hersien sal word, is die indiening van inligting vir voordelige eienaarskap deur regsentiteite aan die Owerheid vir Sake- en Intellektuele Eiendom (Bipa),” het Eiseb verduidelik.

Bipa is die regering se amptelike maatskappyregister en dit is ‘n wetlike vereiste om bogenoemde inligting by die instansie in te dien. Talle maatskappye voldoen egter nie aan die vereistes nie, wat gevolglik kritiek van die FATF ontlok het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer