NamRA groei aansienlik

Oorskry verwagte belastinginvordering
Die Namibië Inkomste-agentskap spog nou met meer as 1 000 werknemers.
Augetto Graig
Die Namibië Inkomste-agentskap (NamRA) toon aansienlike groei, en bereik die mylpale spoedig wat vir die staat se inkomsteredding belowe is.

Tussen April 2022 en Februarie vanjaar kon die agentskap N$55 miljard vanaf besighede en individue invorder, reeds meer as die N$53,4 miljard wat die ministerie van finansies en staatsondernemings vir die 2022-’23-boekjaar begroot het, volgens NamRA se hoofwoordvoerder, Yarukeekuro Ndorokaze.

Ndorokaze het aan plaaslike media bevestig dat NamRA teen Januarie al 98% van die jaarbegroting kon insamel, en dat die belasting op toegevoegde waarde (BTW) se invorderingskoers teen Februarie 107% van die begrote bedrag was, teen N$13 miljard.

Teen Februarie het die agentskap 1 014 van sy eie werknemers aangestel, en het in samewerking met 217 beamptes wat vanaf die finansministerie gesekondeer is, belastingwerksaamhede behartig. Een van die ingrypings wat NamRA namens die ministerie bevorder, is ’n amnestieperiode op uitstaande belasting.

Teen 22 Februarie was die totale belastingskuld sowat N$70 miljard, waarvan ongeveer N$15 miljard kapitaalskuld is, en die oorblywende N$55 miljard rente en boetes.

Ndorokaze sê ’n nuwe amnestieperiode begin op 1 April wanneer die volledige betaling van die uitstaande kapitaalbedrag kan lei dat die rente en boete afgeskryf mag word. NamRA beplan om sy tweede dag van waardering vir belastingbetalers op 17 April te vier, voeg hy by.

NamRA het verlede week gasheer vir die plaaslike media gespeel en die media op ’n toer van sekere geriewe in die hoofstad en by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geneem.

Die agentskap se verhouding met NamPost is in die soeklig geplaas. Aangesien talle posstukke per vliegtuig in Namibië aankom, is NamRA by Hosea Kutako en Eros-lughawe teenwoordig. Ander pos kom per pad deur Botswana, veral vanaf Suid-Afrika, sê NamRA-beampte, Martins Matengo. Volgens hom verwerk NamRA by dié twee lughawens ongeveer 7 000 besendings per maand.

Die hoof van doeane-operasies vir sentraal-Namibië, Abner David, het by NamRA se staatspakhuis gesê net sowat die helfte van ’n persent van die pos wat die agentskap verwerk, is vir “bestel by my”-entrepreneurs.

Klagtes wat vanaf kleinsakemense ontvang is wat enkelitems vir herverkoop bestel het, was verlede jaar in die nuus.

Hoewel David erken dat beslagleggingslyste nie noodwendig volledig is nie, word reeksnommers altyd toegeken, waarmee invoerders hul items wat teruggehou is, kan opspoor.

Hy raai dié entrepreneurs aan om altyd van registreerder klaringsagente gebruik te maak.

By die staatspakhuis lê sowat N$3 miljoen se goedere, wat of teruggehou, of op beslag gelê is. As invoerkwessies nie betyds uitgesorteer word nie, sal die goedere geskenk, opgeveil of vernietig word. Eienaars het 90 dae om kwessies op te los, nadat goedere afgevat is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!