Die president van die Namibiese Kamer van Koophandel (NCCI), Bisey Uirab. Foto Augetto Graig
Die president van die Namibiese Kamer van Koophandel (NCCI), Bisey Uirab. Foto Augetto Graig

NCCI sê oor stand van sake

Doeltreffende kommunikasie ’n probleem
Sakelui soek vinniger en makliker toegang tot beleidsvormers.
Augetto Graig
Samewerking tussen plaaslike sakelui en die regering is die enigste manier om die ekonomie vinniger te laat groei.

So het die president van die Namibiese Kamer van Koophandel (NCCI), Bisey Uirab, Maandag gesê by die eerste jaarlikse toespraak oor die stand van besighede in Namibië by die NamPower-sentrum.

Hy sê daar is nie plek vir onduidelike kommunikasie nie. Kommunikasiekanale moet ontwikkel word en die toepassing van beleide, prosesse en ingrypings moet gemonitor word, dring hy aan.

Volgens Uirab het die regering goed gevaar met Covid-19-ingrypings, waartoe plaaslike besigheid bygedra het. Die vestiging van die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB) se beleidskomitee moet geprys word, asook die spoedige optrede om te verhoed dat Namibië op internasionale finansiële grys-lyste beland, sê hy.

“Die NCCI neem hierdie geleentheid om die regering te vra om ’n les daaruit te leer en nooit weer toe te laat dat beleidsmakers, regeringsamptenare en openbare sektor-entiteite se gesloerdery, die land ooit weer in so ’n onheilspellende posisie plaas nie,” sê hy.

Uirab het ook die regering se kredietwaarborgskema geprys wat tot klein besighede se redding gekom het tydens die pandemie. Hy het ook die potensiaal van die groenskemas uitgelig, veral nou dat die regering dit oorweeg om vennootskappe met die privaat sektor aan te gaan.

Verder is die publikasie van riglyne vir ongevraagde sakevoorstelle in die Staatskoerant en die vestiging van visums vir digitale nomade ook tekens van vordering.

Die verlaging in korporatiewe belasting oor die volgende twee jaar, vir maatskappye wat nie by mynbou betrokke is nie, is ook welkom, sê hy.

Die Trans-Kalahari-grenspos en die grenspos by Katima Mulilo wat nou 24 uur oop is en die voltooide konsep vir die toepassing van die strategie vir vrye handel in Afrika, is ook ’n stap in die regte rigting, volgens hom.

Die hoofuitdaging is spoedige en maklike toegang tot beleidsvormers. Regeringsbeamptes reageer nie eens op skriftelike kommunikasie nie, sê hy.

“Dit is nie die gedrag wat mens verwag nie en die NCCI doen ’n beroep dat dit onmiddellik reggestel moet word,” sê hy.

Die sektore van die ekonomie wat die voorlopers van transformasie is, ervaar ’n gebrek aan finansiering, en veral die landbou- en handelministeries se begrotings skied ver tekort.

Die verdeling van die beesvleisbedryf belemmer Namibië se pogings om nuwe markte te betree, terwyl plaaslike entrepreneurs nie dieselfde ondersteuning as buitelanders ontvang nie, waarsku hy.

Gedienste erwe is nog ʼn probleem wat te lank voorsleep sonder ’n oplossing, sê hy.

Namibië het ook ’n gebrek aan aansporing- en kortingskemas, en die NCCI wil saam met die regering werk om toe te sien dat dié leemte gevul kan word, sê hy.

Plaaslike sakelui word verder gedwarsboom deur die vertragings om beleide te wysig en toe te pas, brei hy uit.

Die NCCI stel onder meer voor dat die regering sy kommunikasievermoë verbeter; finansiering bied vir plaaslike ondernemings om deel te neem in die ontwikkeling van nuwe sektore, soos groen waterstof en olie; en om die Nuwe Ekonomiese Bemagtigingswet en die wet op die bevordering en fasilitering van beleggings (NIPFA) so spoedig moontlik te finaliseer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!