Nóg miljoene vir skole, medisyne

Hersiende begroting ter tafel gelê
Die regering se jongste operasionele begroting word op sowat N$68,6 miljard geraam, ongeveer N$2,5 miljard méér as die totale bedryfsuitgawes in die hoofbegroting.
Phillepus Uusiku
Sowat ‘n kwartmiljoen méér vir medisyne en amper N$130 miljoen vir die bou van nog klaskamers is van die nuus wat in finansminister Iipumbu Shimmi se hersiende begroting vervat is.

Shiimi het gister ‘n hersiende begroting van bykans N$89 miljard vir 2023-’24 in die parlement ter tafel gelê. Dit is sowat N$2,6 miljard hoër as die hoofbegroting wat hy vroeër vanjaar ingedien het.

Shiimi se jongste operasionele begroting word op sowat N$68,6 miljard geraam, ongeveer N$2,5 miljard méér as die totale bedryfsuitgawes in die hoofbegroting.

Die ontwikkelsbegroting se totaal bly onveranderd op N$6,5 miljard.

Aangesien net sowat ‘n derde van die ontwikkelingsbegroting tot dusver bestee is, het Shiimi egter N$167,3 miljard van die projekte waarmee voete gesleep word, na dringende ontwikkelingsprioriteite verskuif. Dit sluit die bou bykomende klaskamers by skole landswyd in.

Rente verskuldig op die regering se lenings is na N$11,8 miljard verhoog, terwyl totale skuld in die huidige begrotingsjaar na verwagting tot N$153,8 miljard gaan styg.

Totale inkomste sal na raming tot N$78,2 miljard styg. Dit is hoofsaaklik danksy beter belastingsyfers en ‘n hoër as verwagte hupstoot uit die inkomstepoel van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu).

Teen die einde van September vanjaar het die regering reeds sowat N$40,1 miljard of 53,7% van sy verwagte inkomste vir 2023-’24 ingevorder.

Hertoekennings

Volgens Shiimi is bykomende uitgaweversoeke van ongeveer N$5,3 miljard vir die hersiende begroting ontvang.

In totaal is N$438,5 miljoen ekstra by die goedere- en dienste-uitgawes van verskeie begrotingsposte gelas. Dit sluit onder meer N$250 miljoen vir die farmaseutiese begroting van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste in.

Nóg N$40 miljoen is ook by ‘n spesiale fonds vir ongewone siektes van dié ministerie gevoeg.

Die ministerie van justisie het N$25 miljoen méér ontvang om stygende regskoste te dek en die regshulpbegroting te vermeerder.

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het N$17 miljoen bykomend vir die bekamping van stroping ontvang.

Die ministerie van sport, jeug en nasionale diens het nóg N$14,5 miljoen vir bemagtigingsprojekte en jeugkredietskemas gekry.

Subsidies

‘n Totaal van N$1,2 miljard in subsidies en ander oordragte na regeringsinstansies is bykomend goedgekeur.

Dit sluit onder meer N$376,3 miljoen vir die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) in.

TransNamib het nóg N$230 miljoen gekry, terwyl N$200 miljoen bykomend aan die staat se mediese fonds (Psemas) toegestaan is om sy verwagte tekort te dek.

Die gebeurlikheidsfonds is met N$105,3 miljoen vergroot en N$87,5 miljoen méér is toegeken vir Namibië se bydrae tot die ontplooiing van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se missie in die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK).

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!