Ooreenkoms met EU oor energie
Namibië en die Europese Unie (EU) het ’n strategiese vennootskap by die Verenigde Nasies se Klimaatveranderingskonferensie (COP27) in Egipte onderteken.
Die ooreenkoms – vir die ontwikkeling van veilige en volhoubare voorsiening van grondstowwe, verfynde materiale en hernubare waterstof – is daarop ingestel om die groen en digitale transformasie van die vennote se ekonomieë te ondersteun.
Die EU-president me. Ursula von der Leyen het gesê dit lui ’n nuwe era in en sal nie net vir Namibië werk skep nie, maar sal alle betrokke partye bevoordeel.
“Julle het die hulpbronne in oorvloed en as ons saamwerk en die regte span vind om te ontwikkel en die infrastruktuur belê, sal dit ’n groot wen-wensituasie vir ons almal wees. Ons wil ons klimaatsdoelwitte bereik; ons wil die natuur bewaar; ons wil klimaatsverandering beveg en skoon energie hê, en julle het die hulpbronne die hele jaar deur,” het sy gesê.
Die EU en Namibië is daartoe verbind om ’n operasionele padkaart vir 2023-2024 te ontwikkel vir die verwesenliking van konkrete gesamentlike optrede binne ses maande ná die ondertekening van die ooreenkoms.
Volgens ’n EU-verklaring moet hierdie aksies uitgevoer word in noue samewerking met relevante industriële en finansiële belanghebbendes van sy lidlande en Namibië.
MILJARDDOLLARLENING
Intussen het Namibië ’n gesamentlike verklaring met die Europese Beleggingsbank (EIB) onderteken om samewerking ter ondersteuning van hernubare energie, insluitend hernubare waterstof, te verdiep.
“Die EIB en Namibië sal werk aan die implementering van ’n lening deur EIB Global van tot €500 miljoen [N$9 miljard] aan die regering van Namibië. Die lening sal voorsiening maak vir langtermyn volhoubare projekte en beleggings,” lui ’n verklaring.
Dit het ook beklemtoon die EU moet ’n volhoubare aanbod van grondstowwe, veral kritieke grondstowwe, verseker as ’n noodsaaklike voorvereiste vir die lewering van sy groen en skoon energiedoelwitte, en het reeds begin werk om vennootskappe met hulpbronryke derde lande te bou.
Namibië het Vrydag in Windhoek sy groenwaterstofstrategie bekend gestel, wat daarop gemik is om die verhoog te skep om die land tot ’n wêreldklas groen waterstofuitvoerder-spilpunt op te bou. In die strategie word gekyk na oorlandtransmissielyne om elektrisiteit aan die hawe en verwerkingsfasiliteite by Angra en die Namibiese netwerk te verskaf, met die opsie om die Suid-Afrikaanse netwerk te voorsien.
Ander verspreidingsopsies sluit in waterinfrastruktuur, ontsoutingseenhede en pypleidings om water vir elektrolise te verkry, asook waterstofpypleidings om waterstof wat op enige plek in die Southern Corridor Development Initiative (SCDI) vervaardig word na die hawe van Lüderitz vir uitvoer te pomp.
DUISENDE WERKSGELEENTHEDE
Na verwagting sal 85 000 direkte werksgeleenthede teen 2030 en 185 000 teen 2040 geskep word, hoofsaaklik in die konstruksie-, sakedienste-, vervoer- en duursame vervaardigingsbedryf, terwyl ’n bykomende 60 000 indirekte werksgeleenthede teen 2030 uit bykomende besteding in die ekonomie verwag word, wat in 2040 tot 130 000 sal styg.
Die strategie het veral bepaal dat beleide en wette verslap moet word om voorsiening te maak vir die toetrede van immigrasiewerkers, wat as ’n belangrike bron van hoogs geskoolde arbeid beskou word om plaaslike inwoners tydens die aanvang van die land se groenwaterstofprojek te bekwaam.
Daar word geglo dat ’n grootskaalse waterstofbedryf Namibië se ekonomie kan laat groei met ’n geraamde N$73,8 miljard teen 2030, 32% meer as die beraamde bruto binnelandse produk (BBP) sonder ’n waterstofbedryf, terwyl N$109,8 miljard groei teen 2040 verwag word.
Namibië se ambisieuse groenwaterstofprojek sal gedryf word deur Hyphen Hydrogen Energy, wat ’n 40-jaarkonsessie vir meer as 4 000 vierkante kilometer grond verkry het om die N$169,2 miljard-projek in die suide van die land te ontwikkel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie