FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Plaaslike kontrakteurs word 'ondermyn'

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - “Ons almal weet geen poging is aangewend om doelbewus werk vir Namibiese kontrakteurs en hul Namibiese werkers te skep nie.

“Enigeen wat sê 25% van die werk sal aan plaaslike kontrakteurs uitgekontrakteer word en dit as ’n sukses verkoop, hou ons vir die gek, nie net die kontrakteurs nie, maar elkeen wat ’n werklike belang in Namibië se vooruitgang het.”

Die uitvoerende hoof van die Federasie vir die Konstruksiebedrywe van Namibië (CIF), Bärbel Kirchner, het gereageer op die feit dat net Chinese kontrakteurs die Paaieowerheid (RA) se kortlys vir ’n padprojek tussen Usakos en Karibib gehaal het.

“Ons eie kontrakteurs word deur ons eie regering, insluitend die RA, ondermyn en belaglik gemaak,” het sy gesê.

“Die vraag is hoe ons eie owerhede ons mense in die steek kan laat wat so desperaat is om betrokke te raak en werk te skep. Ons praat van die uitwissing van armoede en werkskepping. Dié optrede is ’n direkte teenstrydigheid van hierdie beleidsrigtings,” het Kirchner gesê. Sy het owerhede daarvan beskuldig dat hul deeglik bewus is van wat aangaan in ’n tyd wat kontrakteurs weer noodgedwonge werkers moet laat gaan.

Die verskoning dat die vereistes vir die tender die voorwaardes van die finansierder, die Duitse ontwikkelingsbank (KfW) is, is volgens Kirchner soos om hul hande in onskuld te was en die blaam te verskuif.

“Dit maak van ons senior besluitnemers slagoffers en nie leiers nie.” Volgens Kirchner het die CIF ten minste ’n maand voordat die tender sou sluit, die owerheid met ’n versoek vir ’n ontmoeting genader sodat die aanvanklike kwalifikasievereistes hersien word. Die RA het egter eers minder as ’n week voor die voorleggingsdatum tot ’n ontmoeting ingestem.

“Hoewel sommige van die vereistes van die tender verander is, was die verandering wat deur die RA op versoek van die CIF gemaak is, onbeduidend en het dit nie die vereiste verandering van die CIF in oorweging gebring nie,” sê Kirchner.

Volgens haar was die implikasies hiervan “welbekend aan die RA” in die sin dat Namibiese kontrakteurs uitgesluit sou word om deel te neem.

“Die finansiële voorkwalifikasies, sowel as die tegniese kwalifikasies was te hoog. Dit sluit in sekere volumes werk en ’n sekere materiaal, byvoorbeeld die gebruik van 60 000 kubieke meter van gestabiliseerde herwinde subbasis.”

Volgens Kirchner is daar nie “’n enkele Namibiese kontrakteur” wat die voorgeskrewe aantal vierkante en kubieke meter per jaar gedek het nie.

“Daar was nog nooit ’n aanvraag van dié omvang in Namibië nie, nie eens van die RA as kliënt nie. Dit was die rede waarom Namibiese kontrakteurs nie deelgeneem het nie.”

Volgens die RA is die aanvanklike kwalifikasievereistes in pas met die verkrygingsbeleid van die KfW en kan nie verander word nie.

“Beide die KfW-voorwaardes en die plaaslike werklikhede kon in oorweging gebring word. Al wat nodig was, was om die grootte van die projek te verander deur dit in kleiner gebiede op te deel. Op die manier sou plaaslike kontrakteurs aan die tenderproses kon deelneem.”

Kirchner verwys ook na die RA se bepaling dat die kontrakteur wat vir die projek gekies word, 25% van die werk aan plaaslike kontrakteurs moet uitkontrakteer.

“Wat is 25% plaaslik wanneer dit 100% plaaslik kon wees?”

Die RA en KfW was deegliks bewus wat die implikasies van die voorvereistes vir Namibiese kontrakteurs sou inhou, sê Kirchner.

“Hulle het egter gekies om nie enige beduidende veranderinge aan die vereistes aan te bring nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!