No Image Caption

Plaaslike leiers moet ontwikkeling bestuur

Begroting in die kollig
Lede van die Erongo-streekraad meen kleiner dorpe in die streek word finansieel afgeskeep.
Leandrea mouers
Leandrea Mouers

Lede van die Erongo-streekraad meen die regering kyk ontwikkeling in kleiner dorpe in die streek mis.

Dit kom ná die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, saam met die direkteur-generaal van die Namibië Beplanningskommissie, mnr. Obeth Kandjoze, konsultasiesessies met streekleiers sowel as die plaaslike sakegemeenskap gehou het as deel van hul middeltermyn-begrotingshersiening.

Die streekleiers het gereageer op syfers wat deur die ministerie verskaf is oor projekte wat die regering in die streek gefinansier het, en wat meestal op Walvisbaai en Swakopmund gefokus is.

In ’n voorlegging wat die ministerie van finansies aan die raadslede voorgelê het, staan die huidige ontwikkelingsbegroting op N$4,9 miljard wat 400 projekte dek, waarvan 399 tans aan die gang is.

Tot op hede is sowat N$750 miljoen van dié begroting reeds bestee terwyl staatsverbintenis deur die lynministerie op nagenoeg N$247 miljoen staan. Dit is gelykstaande aan ’n uitvoeringskoers van 14,32% vir die eerste kwartaal van die nuwe finansiële jaar, teen einde Junie 2022.

REAKSIE

Die streekleiers het gesê gegrond op hierdie syfers wil dit voorkom of die regering net Walvisbaai en Swakopmund prioritiseer.

“Dit blyk die regering vergeet van dorpe soos onder meer Hentiesbaai, Arandis, Karibib, Omaruru en Otjimbingwe. Daar is geen ontwikkeling in hierdie dorpe nie. Op Hentiesbaai wil ons wegbeweeg van die idee dat dit ’n aftreedorp is. Ons wil ingesluit word. Ons het die grond en die kapasiteit,” het die leiers gesê.

Omaruru se kiesafdeling-raadslid, mnr. Manfred Wetha, het bygevoeg grond is aan die regering geskenk om ’n kliniek te bou. [Maar] “tot nou het niks gebeur nie. Ons het die grond sonder enige koste aan die regering geskenk om ons te help met die bou van ’n kliniek. Maar niks. Dit lyk asof ons vergete is.”

In reaksie op die aantygings het Kandjoze gesê wanneer die ontwikkelingskomitees van dorpe en kiesafdelings vergader, word al die begeertes van die dorpe en nedersettings in ag geneem en ’n besluit word geneem.

“Die nasionale regering is glad nie by die proses betrokke nie. Ons neem nie besluite oor wat jou wense is nie, tensy die bo-na-onder-benadering in projekbeplanning gevolg word. Maar in hierdie geval geld die onder-na-bo-benadering.

“Byvoorbeeld, sê maar die Daures-kiesafdeling wil ’n dorp elektrifiseer. Die debat vind tydens die vergaderings van die ontwikkelingskomitees plaas. As die raadslid nie by die streekraad teenwoordig is nie, of om een of ander rede nie genoeg gewig dra nie, of ’n vergadering op ’n manier gehou word waar die Daures-kiesafdeling nie betrokke is nie, word ’n besluit geneem omdat die volgende kiesafdeling ook ’n deel van die koek wil hê.”

Hy het gesê hierdie is die soort magstryd wat op streek- en plaaslike owerheidsvlakke plaasvind.

“Waar was die minister toe daardie plaaslike owerheidsraadslede wat op jou vlak sit, vergader het om al die streekprojekte te oorweeg? Ons sit nie op streekrade nie. Hierdie kwessie is nie ons s’n nie. Dit is ’n streekkwessie. Wanneer geen ontwikkeling plaasvind nie, is dit nie die nasionale regering nie, dit is die plaaslike en streekregering se besluite. As die streekraad nie jou begeertes namens die gemeenskap lewer nie, dan is hulle verantwoordelik.”

Kandjoze het ook gesê die plaaslike owerhede en streekrade moet werk met dit wat tot hulle beskikking is.

“Beplanning is noodsaaklik en die streekraad kan reeds die bal aan die rol sit in plaas daarvan om te wag vir die nasionale ontwikkelingsbegroting om aangekondig te word. Só kan ons verseker dat geld nie net rond lê of terug in die fiskus beland nie.”

“In die nuwe bedeling sien ons daar is binnegevegte en in dié proses lê miljoene ledig en wag om aan ontwikkelingsprojekte bestee te word. Daarmee saam moet julle as raadslede julle kant bring en seker maak dat diegene wat aan jou rapporteer, werklik hul werk doen. Maak seker dat inwoners van die streek daarby sal baat, al kom dit laat by julle aan.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!